Mango en advokadoslaai

‘n Heerlike ligte slaai vir die somer saam met vleisgeregte!!

SLAAI
Roketblare             Mangostukkies (blik)
Advokadopeer in blokkies     Bacon stukkies gebraai

Pak roketblare in bak, dreineer mangostukkies
en voeg by asook advokado en en bacon stukkies.
SOUS
1/2 k mayonnaise        2 eetl bruin suiker
1 tlp aangemaakte English Mustard
Meng en gooi oor slaai net voor opdiening

Matriekafskeid

My twee kinders is al uit die huis. Ons dorp krioel met ma’s en kinders wat regmaak vir die matriekafskeid.  Rokke word in die Kaap by bekende ontwerpers gemaak, ander besoek boetieks en rokmakers.  Dit is hare, naels en juwele.  Dit is passessies en haarsessies voor die groot dag.  Mammas met seuns, vind julle ook dat julle seuns alhoemeer bewus raak oor wat hulle wil aantrek vir die matriekafskeid, of is hulle maar doodtevrede met ‘n tux en ‘n bottel naskeermiddel?
Kos dit jou ‘n arm en ‘n been deesdae vir ‘n matriekafskeid?

Vroue deel met mekaar

As iets pla, is manlief gewillig om te luister – maar wil daar en dan ‘n oplossing gee. Ek weer, wil dit net uit my gestel kry – sonder die ridder op die wit perd. Ek soek iemand (lees soundboard) om te luister, die kop te knik, die een koffie na die ander saam met my te drink sonder om te veel te sê.

Maar waar kry ek drie-uur in die oggend iemand? Of saans half-sewe as die meeste 7de Laan kyk? Of na Grey’s Anatomy? Of elf-uur vanaand as die meeste vriendinne en vroue snoesig en sag en sexy langs manlief lê?

Een ding waarvoor ek dankbaar is, is dat vroue met mekaar kan praat. Ons is instinktief “carers” is. Vroue soek iemand met wie hulle kan “share”.

Sonder om te hoor, “soetlief, jy verbeel jou” of “ag my skat, dis mos nie so erg nie!”. Nog erger “liefling, hoekom vertel jy hom/haar nie die waarheid nie?” Dit is gewoonlik dáár waar ek my links gooi!

Daarom het Koffie-Klets lyfgekry. Hier kan ons gil en gril (24/7) – met ‘n beker koffie in die een hand en die ander hand op die (rekenaar) muis, en as daar nog ‘n stukkie van daardie kaaskoek oor is, hoekom nie?

Ek hoor al . . . “seker weer ‘n geskindery?”  Ek is trots vrou – sonder om ‘n Martie Martelgat te wees. Hang my, maar ‘n man wil ek nie wees nie.  Wat is nou interessant daaraan om net oor sport, motors en jou eie uhmm, prestasies te praat?

Maar . . . Koffie-Klets is ook veel meer as net ‘n oor-en-weer-kuiery. Hier gesels ons oor sake wat vir ons belangrik is – van aardbewings tot aannemings. Godsdiens tot G-kolle. Kitsdiëte tot kindermishandeling. Mosbolletjies tot Mozart. Oorloë tot orgasmes. Poësie tot politiek. Zille tot Zoid.

Die Koffie-Klets is almal se blad – en as jy hiervan hou, adverteer dit wyd en syd. Hoe meer vroue deelneem, hoe groter die gesprekke rondom dinge wat vir ons saak maak.

So, skink jou koffie – filter, kits, cuppachino of kaffeënvry. Laat sak die hare en lig jou bene en kom neem deel aan die gesprekke of lees ander se griffels en maak hierdie blad jou daaglikse koffie-break!

Ons mag . . . want ons kan!

Lorraine

To our English speaking guests, this is also for you – come and join us – comments in your own language is most welcome.