Dis amper Lente

lenteEk ruik dit in die lug.  Elke oggend word ek wakker en ek dink . . . nog net ‘n paar daggies – dan is dit Lente.  Ek wens net die koue wil wyk.  Vanoggend het ek ‘n effense beklemming om my hart gehad, daar was nog altyd ‘n geniepsigheid in die lug.  As ek so na my vriende in Hermanus luister, dan sukkel hulle ook nog om van die wind en reen ontslae te raak.  Ek mis die groen winters van die Kaap.  Ek mis die berge en die see en die walvisse.  Ek mis my vriendinne.  En tog, is ek doodgelukkig in Bloemfontein.  Ek werk met wonderlike (jongerige) mense.  As hulle – dis nou die jonger geslag – so kan voortgaan, het ek hoop.

Selfs die studente (meestal swart) se gesindheid is verblydend.  Glo ook nie meer alles wat vir hulle voorgese word nie.  Kan al vir hulself besluit en vra vrae.  Eet nie meer alles vir soetkoek op nie.

Dis voorwaar Lente in my hart.  Die aande raak later donker.  Ek kry weer kans om die tuin nat te spuit.  Mense vlug nie meer na komberse en verwarmers nie.  Spandeer bietjie tyd buite.  Ons groet mekaar, leer mekaar beter ken en daar is ‘n vonkel in die lug.

Dit is goed dat daar seisoene is.  Dit gee ons tyd om met Lente met nuwe oe na dinge te kyk.  Om sommer bietjie te ontspan in die Somer, om te rus in die Winter en om dinge in heroenskou te neem in die Herfs.

Ek het skielik met ‘n skok besef oor vier maande is dit alweer Kersfees.  Tyd om die dagboek nader te trek en so stadigaan beplanning te doen. 

Laat dit vir julle ‘n mooi dag wees, mag die begin van die Lente vir jou ook vol nuwe beginne wees.  Waardeer elke bloeisel, elke nuwe blom wat oopgaan, elke nuwe plant wat nuwe blare kry.  En mag ons hierdie jaar blom soos die mooiste blomme onder die Suid-Afrikaanse son!

Uit my gemaksone

c3

Dit is Augustus.  Net wanneer ek dink ek kan die somersklere naderskuif, kom daar nog ‘n onverwagse koue.  Ek was nog NOOIT in my lewe so onvoorbereid vir die winter nie.  In Hermanus het ek nie eers wintersnagklere gehad nie, nog minder winterslakens of  ‘n elektriese kombers nie.  En toe het ek soms gedink dit is verskriklik koud.

Die Vrystaatse winters is nie vir sissies nie – en ek is een.  Is nie eers skaam om dit te erken nie.  Ek het so koud gekry, dit voel asof my tone morsdood is en nog nooit weer lewe gekry het nie.  Dan vertel die mense vir jou maer mense kry gouer koud as ons lywiges.  Dis ‘n infame leuen.  Weet hulle hoe lank dit neem vir hierdie lyf om te ontdooi???? 

Hopelik is die somer naby.  Ek is nou vyf maande in Bloemfontein.  Soms voel dit soos jare en terselfdertyd voel dit soos gister toe ek die motor se neus in die Vrystaatse rigting gestoot het.  Maar hier is ons – en ek is nog nie vir ‘n enkele dag spyt nie.   Ja, ek mis my vriende en die mooi natuur, maar alles wat hier oor ons pad gekom het, is net mooi. 

Goeie geleenthede, pragtige mense en ongelooflike diens.  Ek en manlief werk albei – en die belangrikste van alles is, ons is gelukkig in wat ons doen.  Vreemd genoeg, dit wat ons nou doen is totaal en anders as wat ons voorheen gedoen het.  Het dit ons uit ons gemaksone gedwing – en dit het alles goed uitgewerk.

Ons het nou die geleentheid om jarelange se (werk) ondervinding terug te ploeg in die gemeenskap.  Ons werk met jong(er) mense en besef dat wat ons doen soveel impak op hulle kan he.  Goed of sleg.  Dit is en bly ‘n groot verantwoordelikheid om met jongmense te werk.

Hier het alles vir ons in die regte plek geval.  Elke klippie, elke tree, elke daad of woord.  Ek voel soos Job van die Bybel.  Die resessie het baie geneem van ons – emosioneel, finansieel en ons meestal energieloos gelaat.  Maar soos met Job het ons drie-dubbeld teruggekry en ontvang nog elke dag net seeninge en genade.

Soms is dit beter om nie te weet wat die toekoms vir jou inhou nie.  As iemand ses maande gelede vir my gese het ons sou in Bloemfontein opeindig, sou ek dalk nie wou kom nie.  Ons het egter geen keuse gehad nie en moes die gemaksone van jare agterlaat en nuwe geleenthede kom ondersoek. 

Tot ons vreugde!!