Volmaan en feite

maan

O die darling van my, o die darling van my . . . maar ek het maar my bedenkinge.  Snaakse spesie, die klomp mans.  Iewers met die aanmekaarsit van ‘n man is die instruksies verkeerd gelees of nie verstaan nie.  So sien ons dwarsdeur hulle.   “Dis duidelik’, sing ek saam met die Brasse van die Kaap.

Waarom party vroue nog tyd en energie kry om verhoudings buite hul huwelik aan te knoop, bly vir my ‘n raaisel.  Een op ‘n slag is meer as wat ek met my brose lyfie kan hanteer.  Dan is ek boonop nog lief vir myne.  So om die koffietafel vra ek mos nou die anderdag vir ‘n vriendin of sy weer sal trou.  Sy verstik amper aan haar swartwoudkersiekoek.  “Ek sal nie eers saambly nie.”  En sy was gelukkig getroud!

Waar het die fout nou presies ingetree, vra ek myself vir die duisendste maal.  Net soos jy dink hy het mens geword, glip daar weer ‘n geit uit soos ‘n vrypuisie.  Op die mees onmoontlikste tyd en plek, en net so onwelkom.  Die skoene wat hy al ‘n geruime tyd dra, is nou kwansuis vandag nie meer reg nie.  En waar is sy skoolrugbytrui van vergange dae? Tien jaar terug het hy ook dieselfde vraag gevra en nadat jy amper ‘n arm en ‘n enkel gebreek het in die soekproses het hy toe ook in elkgeval niks daarmee gemaak nie.

Ek het gelukkig geleer deur die jare.  Maak soos ek, gooi dit met die tyd weg, skud jou kop ongelowig saam omdat dit nie meer op sy ou plek is nie en pleit bewusteloos.  Gee die visvang die skuld. Natuurlik weer langs die water laat lê!  Die trui pas in elkgeval al lankal nie meer oor die rondings van sy lyf nie – waarom hom nou nog verder daarmee opstres?  Die res van die dag skrop hy soos ‘n bleshoender rond en wissel dit af met dramatiese sugte en ‘n gesig wat boekdele spreek.  Hierdie houding en lyftaal van hom sal hom loshande ‘n Oscar laat wen.

So loop soek hy toe mos sy tang en kry dit toe ook nie.  Die duiwel loop nou viervoet in die huis rond, maar ek kap hom ‘n ignore – soos wat die kinders sal sê.  Laaie word oopgepluk en onderstebo gekrap.  Die kinders kry die skuld, as hulle tog net sy goed wil uitlos of dit dan net tenminste terug wil sit waar hulle dit gekry het.  Hy weet ook maar goed om my nie te betrek by hierdie onvergeeflike misdaad nie. Met ‘n niemand-verstaan-my-nie kyk in sy oë kom hy naderhand sleepvoet die sitkamer in.

Hy val in sy stoel.  Hy sê niks en ek sê niks.  Daar sluip so ‘n koue front in die huis. Jy moet hare op jou tande hê.  Ons gluur mekaar aan soos stoeiers in ‘n kryt.  Ek wonder so in my stilligheid of dit volmaan is en maak ‘n denkbeeldige nota om te kyk of hierdie houding van hom ‘n vaste patroon begin vorm.  Is dit so, neem ek elke volmaan langverlof.

So sit hy daar, dikvies en vêr van die huis af.  Gryp die kontrole en draf deur al wat ‘n televisiekanaal is.  Meer as eenkeer binne ‘n baie kort tydjie.  Net as ek die draad van die storie kry, verander Ondier dit weer. Man, sal ek graag daardie persoon wil ontmoet wat die verduiwelse kontrole ontwerp het.

Ek sug en slaan my oë op na die hemel en bid vir genade, want soos die tannie op televisie sê as sy moet bid vir krag, slaat sy hom disnis met die vuis.  Boonop weier ek om hom te vra wat fout is.  Dit opsigself kan dalk ‘n lang storie word.

Laatmiddag vra ek sommer so in die verbyloop of ons nie maar ‘n vleisie op die kole kan gooi nie.  En kyk hoe lyk hy toe!  Soos ‘n kat wat ‘n piering room present gekry het.  Wonder of dit iets te doene het met sy voorvaders se primitiewe manier van kosmaak of is dit eerder ‘n geval van gesneuwelde hormone wat nou uiteindelik in gelid marsjeer?

Gelukkig is hy nooit te moeg of te kwaad om ‘n vuurtjie aan te steek nie.  Sodra die kole aan die gang is en hy homself tuismaak voor die hitte, kan jy met hom koekies bak.  So sag soos deeg in jou hande.  Skoon heimwee omdat jy nie by hom wil sit nie.  Droom drome so lank soos Jan se boontjierank.  Die wêreld kan nou om hom vergaan en daar is niks wat hom nou kan omkrap nie.  Skoon vergeet van sy geite.  Onthou ook sommer nou skielik hy het sy tang vir sy buurman geleen.

Half verleë skop hy in die gras en vra omverskoning vir sy ongeduld.  Laataand voor die vuur is die vrede herstel tussen man en vrou.  Alles is nou weer normaal op die tuisfront.  Dis dan wat ek besef  wat ware liefde werklik is – om iemand onvoorwaardelik lief te hê met foute en al en om dit te vergewe – ook myne vir dié dae wat die hormone my ook maar onderkry en niks reg wil verloop nie!
 ©

Fotobron : Internet

Sien is glo

kruis

‘n Ruk gelede, een oggend toe ek die huis verlaat, sien ek ‘n skaduwee-kruis teen die muur wat my huis omring.  Vir ‘n oomblik was ek stomgeslaan.  Wat kan die son so afbeeld in die vorm van ‘n kruis? Iets misterieus? By verdere ondersoek sien ek dit is net die wasgoedpaal.  Ek was half teleurgesteld, ek wou hê dit moes ‘n beter verduideliking hê.

Dis toe dat ek vir myself sê dat die lewe ook maar so is.  Ons sien dinge soos ons dit wil sien.  Wil ons glo dat dinge so móét lyk.  As ons agterna uitvind dit was iets anders in die gedaante van ons ideaal, is ons teleurgesteld.

Ons plaas ons vertroue in mense, om later teleurgestel te word.  Mense oorrompel jou met valse voorwendsels, vriendelike glimlaggies en allerhande mooi beloftes en praatjies.  Net om agterna te besef dat ons in ons eie strik van goedgelowigheid geval het.  Nie dat daar iets mee skort nie, ek vir een glo, of wil glo dat die mensdom nie so korrup kan wees nie.

Die ergste is dat mense jou soms onder die dekmantel van “christenskap” flous.  Soos iemand ‘n paar jaar gelede vir my gesê het : “In die naam van Christenskap wens ek jou sterkte toe vir . . . “ Tot my ontnugtering, of liewers skok, moes ek uitvind die vrou doen die mees onchristelike ding aan my. 

Mens sou sweer na al die jare het ek darem al my les geleer, maar nee – daar is nie pille vir dom mense nie.  Aan die anderkant kan ek ook nie so met wantroue deur die lewe gaan nie.  Ek sou nie wou hê dat mense twyfel aan my woorde of my dade nie.  Dat dit wat hulle sien van my, nie ‘n verwronge beeld is van wie ek is nie.  Dat my kruis nie ‘n ysterpaal is nie.

Daagliks hoor ons van mense wat finansieel ingeloop word deur instansies. Vriende spat uitmekaar oor bedrog.  Families skeur uiteen deur geldgierigheid, vennootskappe gaan uitmekaar wanneer daar onderlangs besigheid gevoer word wat nie ‘n aanwins is vir die besigheid nie.

Afgelope jare het ons gesien dat glanspersone ook maar die publiek flous.  Aan die een kant het ons hierdie helde maar tot mense se skok moes hul uitvind die mense het voete van klei.  Was hierdie mense ons kinders se helde, baie van ons kinders se rolmodelle.  Was hulle groot klomp geld betaal – vir iets wat hulle nie eintlik was nie. Van ‘n hero tot ‘n zero!

My pa het altyd gesê as ons in die aand gaan slaap moet ons dag se doen en late van so ‘n aard wees dat jy môre-oggend jouself weer in die spieël kan kyk.  Moet jy weet jy het nie ‘n ander tenagekom met woord en daad nie.  Dat jy nie iemand se selfbeeld afgekraak het nie, niemand misbruik het vir jou eie gewin nie. 

My pa is al jare dood, maar wanneer ek soggens in die spieël kyk, weerklink sy woorde in my gedagtes.  Soms is ek nie altyd seker nie, hoop ek maar as ek terugdink aan die vorige dag, dat ek niemand bewustelik of onbewustelik seergemaak het nie.

Dit is alweer amper einde Januarie 2011.  Dit is nog nie te laat nie.  Maak reg wat verkeerd is in jou verhoudinge met mense.  Die lewe is so kort.  Ek het gister gehoor van ‘n vierjarige dogtertjie wat gesterf het na ‘n baie kort siekbed.  Sulke gebeure plaas dinge weer vir my in perspektief.  Dat ons onsself nie belangriker ag as ander nie. Dat die lewe kosbaar is.  Dat ons sagkens met mense moet omgaan.  In opregtheid.

Oggendlig

    morning-coffee-watercolour-on-paper-abhilasha-singh

Ek was nog nooit ‘n laatslaper nie.  Al het ek soms eers vroeg soggens in die bed gekom.  Ek is mal oor die stilte wat oggende bring.  Net jy en die voëls en die stilte.  In die verte hoor ek soms ‘n motor  saggies verbygaan, so asof die bestuurder weet oggende is vir my heilig.

Ek sukkel ook nie om soggens wakker te word nie.  As my oë eers oop is, is ek wakker.  Ek was nog nooit van die ”bietjie sluimer, bietjie slaap” tipe nie.  Dalk is dit een van die redes waarom ek die afgelope 20+ jare nog nooit nodig gehad om ‘n wekker te stel nie. Ek sidder as ek dink ek moet soggens wakker word met ‘n wekker wat my uit die slaap ruk.  My bioritme sal ‘n maand en ‘n aand neem om tot normaal te keer.  My hele dag sal bederf wees.

Ek is bevoorreg om soggens koffie in die bed te kry.  Manlief trek ons kamer se gordyne oop en ek kan op my geliefkoosde plekkie in die tuin kyk.  Voëls wat verspot op-en-af wip, opsoek na daardie eerste stukkie kos vir die dag.  ‘n Gekwetter van voëls, verskillendes, wat soms soos ‘n simfonie-orkes klink wat die oggend aankondig.

Elke oggend val my oë op die verskillende kleure van my tuin.  Met die onlangse baie reëns is alles groen en geil.  ‘n Fees vir die oog.  Die tuin is versadig, die plante lyk sommer tevrede.  Dankbaar oor die mildelike reëns wat geval het.

Dis hierdie tydjie (manlief vertrek alreeds vroeg werk toe) wat vir my die kosbaarste is van die hele dag.  Kan ek dink oor my lewe, my man, my kinders – dít wat vir my die belangrikste is in my lewe.  Kan ek weer my batterye herlaai vir die nuwe dag.  Kan ek my vrese en vreugdes opdra aan Hom wat my met soveel seën.

Ek doen soggens my beplannng vir die dag.  Dink solank aan my werk, aan die kospotte, die klein dingetjies wat aandag moet kry. Kry ek tyd om soms te skryf.  Om te droom, om te onthou, om te bid, om stil te raak.  Om te luister na stilte.

Die mensdom is geneig om hom te omring met lawaai.  Meeste daarvan onwillekeurig.  Wekkers, televisie, radio, verkeer, mense wat praat, telefone – dat ons nie meer die stilte herken en waardeer nie.

(Stil) oggende is vir my noodsaaklik soos die lug wat ek inasem.  Daarsonder sou ek bloot eenvoudig net nie kon funksioneer nie. 

Mag jou oggende ook vir jou groot stilte, vrede en waardeering inhou!

Back to basics

1182445378zrSCSK[1]

Komaan Lorraine, opstaan – opstaan.  Vakansie is verby, jy moet gaan werk!!

Dis my gewete wat met my praat.  Hoekom is die weer op sy lekkerste as jy moet teruggaan werk toe?  Reenerig, koelerig – soos ek daarvan hou, en nou moet ek op kantoor sit.

Ja, ons is terug – back to basics.  Maar dan, aan die anderkant is ek bevoorreg om ‘n werk te kan hê – veral in hierdie moeilike ekonomiese toestande.  So, ek kla nie regtig te veel nie.

Vir almal wat vandag begin werk, sterkte.  Laat ons onthou om dankbaar te wees vir ons werk en te dink aan hulle wat geen uitkoms het nie.

Mooi dag!

Kliek . . . Kliek

 

 

remote-buddy-stylish

 

Ook maar goed die brandblusser in my huis werk nie met ‘n afstandbeheer-kontrole nie.  Ek ken moeilikheid en ek ken modder, en dit sou beslis nie modder gewees het nie. 

Dis nie dat ek die ding nie gewerk kry nie, maar om die regte kontrole tussen die miljuisendes wat rondlê met die eerste opraapslag te vind sonder om paniekerig te raak, sal my al baie help.  My geluk is dat teen die tyd wat ek die regte een vind, is my huis klaar afgebrand.

Geen wonder my kinders spot en probeer my kalmeer as iets aan- of afgesit moet word nie.  “Bedaar nou ma, haal diep asem, konsentreer en fokus.  En moenie ma se arms so paniekerig rondpluk nie!  Is dit nou weer te veel knoppies?  Lyk my ma is erg tegnologies gestrem.” 

En laat ek nou toevallig my selfoon optel, dan is hulle vinnig om te vra wat ek wil ek nou weer aan- of afsit.  Kan ‘n mens nie eers meer na jou selfoon reik nie?  Vandag se kinders dink mos as jy sê hulle is met instrumente gebore, hulle onder die indruk is jy praat van instrumente wat met afstandbeheer-kontroles funksioneer.

Op die koffietafel voor die televisie lyk dit deesdae soos ‘n stalletjie op die Kaapse Parade.  Van alles en nog wat.  Daar is vir elke toerusting ‘n kontrole, van die televisie tot die DVD-speler, musieksentrum, videospeler en dan nog die lugreëling en die DSTV s’n.  En onlangs, die onheilige X-boks.

Dan is die koffiemasjien, mikrogolfoond s’n en Boeta se battery-aangedrewe motor se kontroles beland ook nog tussenin.  By dit lê die selfone ook daar, hard besig om te kompeteer met die knoppiemania.

Ons leef in ‘n gemaklike wêreld.  Ek besef deesdae dat die meeste oefeninge wat die meeste mense kry, is om knoppies te druk.  Vir die alarm, die motorhuisdeure, ons klank en beeldsentrums, rekenaars en telefone, autotellers, motors, krag en enigeiets onder hierdie son.

Ek het nou onlangs eers Adam Sandler se jongste film, Click, gesien (ja, altyd mosterd na die maal, ek weet!) en lyk dit vir my die beste ding nog naas gesnyde brood.  Dink net aan al die voordele van so ‘n “ultimate gadget”. 

Eerstens, rus en vrede vir ‘n baie, baie lang tyd.  Stilte as dit te veel lawaai, geluide as die oomblik te stil word, mooi herinneringe wat weer en weer opgeroep kan word – die slegtes vermy jy totaal en al – en al die rompslomp wat jy kan uitsny om vinnig en doeltreffend by die kern van die saak uit te kom. 

Boonop kan jy al daardie mense wat jou so grensloos irriteer en kwaadmaak, op pause sit en al die frustrasies op hul uithaal sonder die kans dat jy dalk jou werk, jou man, vryheid of iets dergeliks soos jouself sal verloor in die proses.  Padwoede-statistieke sal nie bestaan nie.

As manlief begin kerm oor die politiek, fast forward jy hom (en sommer terselfdertyd die nuus ook) tot in die toekoms, of maak jy vinnig ‘n plan as jy wag op belangrike nuus – dit sal my stresvlakke en bloeddruk dan nie so hoog opjaag nie.  Die mooi tye in my lewe sou ek oor en oor speel, my verlekker daarin en myself emosioneel weer versterk.

Maar aan die ander kant sou die lewe darem maklik in chaos kan verval. Stel jou voor ek en manlief het elkeen so ‘n geheime masjientjie en ons druk dit perongeluk op dieselfde oomblik, hy vorentoe en ek agtertoe.  Waar ontmoet ons mekaar dan? Iewers teen die voorhekkie? 

Of nog erger, sê maar ons verêrre ons op dieselfde tyd vir mekaar en druk gelyktydig die pause knoppie.  Mens, wie gaan weet van ons penarie? 

Teen die tyd wat iemand ons vind is ons dood(stil) en sal dit sekerlik die raaisel-moord in jare wees! Veral een sonder bewysstukke!  Nie eers die destydse Skerpioene sal weet wat hulle, newwermaaind ons, getref het nie.

Nee wat, daar is twee dinge waaroor ek baie bly is.  Eerstens, dat ek nie die gawe besit  om in die toekoms te kan sien nie.  Dit wat ek môre en oormôre te wagte is (waarvan ek alreeds kennis dra), is al soms al klaar te veel vir my brose lyfie.  Veral as jy weet jy kan niks daaraan doen nie. 

Want soms, op die mees onmoontlikste tye in hartseer en tragedie, gebeur die mooiste dinge ook.  Soos om iemand te ontmoet wat vir jou later ‘n kosbare vriendin word.  Word daar ook uit die hartseer iets moois gebore, die geboorte van ‘n kind of kleinkind wat jou lewe verryk en vervolmaak.  Sou jy die ellende in jou toekoms sien, sou jy jou paadjie dalk anders laat verloop het – sonder die kans om nuwe dinge en mense te ontmoet en te ervaar.

En tweedens is dat niemand so baie van my gehou het om vir my so ‘n Click-afstandbeheerkontrole te gee nie.  Veral nie vir Kersfees nie.  Maar aan die anderkant sou ek graag die lekkerte van saamwees met my man en kinders en familie in die feesseisoen wil vashou en weer en weer wou herleef. Veral in vandag se besige en materialistiese lewe. En siende dat ek nie meer vandag se kind is nie!

Ons daaglikse brood

 

breadstack4

Brood.  ‘n Eenvoudige kos.  Terselfdertyd koningskos.  “Comfort food” sê die Engelse (en ‘n paar wyses). 

Nie winkelbrood nie.  Dié tipe brood hou vir my geen bekoring in nie of roep geen herinneringe op nie.  Smaak na niks. 

Met die afgelope paar dae se reën het ek gehunker na my oorle ma se groentesop, vars gebakte brood en harde plaasbotter. 

Ek slaan ‘n pot sop aanmekaar, ek en manlief ry ongeveer 7km om ‘n vars plaasbrood te gaan koop by ons gewilde koffieplek, Get-To-Gether.  Ek glip by ‘n deli in en koop regte, egte plaasbotter wat kliphard is. Koorsagtig ry ons huis toe. 

Ons wag geduldig vir die sop.  Jy kan dit nie aanjaag nie.  Dit moet prut.  Intussen bid ek vir geduld.  My gedagtes gaan op loop.  Ek dink aan snye vars brood met ma se vyekonfyt.  Met stukke.  Nie soos vandag se jellievoorkoms nie. 

Ek dink aan varsgebakte brood (met niks op nie) en vars karringmelk.  As kind het ons die warm brood in die blikbeker karringmelk gedruk.  Ek dink aan varsgebakte brood met varkvet en ‘n beker stomende koffie vir ontbyt.  Ek dink aan varsgebakte brood met grondboontjiebotter en stroop.  So dikgesmeer dat jy agterna jou hande, vingers en ken moes gaan was om van die taai ontslae te raak.

Ek dink aan snye varsgebakte brood en ma se oorskiet kerrie-sous. Tot vandag toe nog wek dit emosies by my – en ma is al 41 jaar oorlede.  So sterk is die herinneringe nog. 

Vandag vrek my kinders oor my spesiale knoffelbrood wat ek maak.  Of  broodslaai. Pangeroosterde broodjies met tamatie en kaas is ook ‘n gunsteling.  Kleintyd het ek vir my kinders broodjies in eier-en-melk-mengsel gebraai en met room en aarbeikonfyt bedien vir ‘n versnappering in die winterkoue.

Skoonma se brood-en-botter-poeding kry hoë punte.  Ons vrek oor broodslaai en manlief kan nie braai sonder sy braaibroodjies nie.  Ouboet hou van sy roosterbrood en Kleinboet hou van sy roereiers-en-vulsel op sy brood.  Ek hou van “savoury” brode!

Ons lief brode en smere, ons is gek oor brode wat gebak is met olywe, of kaas, of sonneblompitte, of spekvleis . . . altyd bereid om iets nuuts te probeer.  My vriendin Zelda, bak gereeld op ‘n Vrydag ‘n kitke – nog ‘n broodjie waaroor ek absoluut gek is.  (Zelda, as jy hier lees – stuur vir ons jou resep, asb – en vir my ‘n broodjie). 

Ek kan goed verstaan (en ek sê dit met die grootste respek) dat brood in ons mees geliefde gebed, Die Onse Vader, voorkom.

Van Bybelse tyd vorm brood al die basis van die alledaagse lewe.  Daar is die seuntjie met die vissies en die brode.  Ons lees in die Bybel van die man wat aan die deur geklop het in die middel van die nag en gevra het vir ‘n stukkie brood.  Die Bybel leer ons van die Nagmaalbrood. 

Uiteindelik is die sop gereed.  Ons oë blink, ons mae raas.  Ons val weg.  Met smaak.  Dik snye brood (my man noem dit “sooie”) word gesny.  Die botter is hard, ons skraap dit af en plak dit in hompe op die brood.  Sop is warm en geurig en ons eet dit uit emalje-bakkies. Ons sug behaaglik.  Ons glimlag.  Ons eet.  Ons is tevrede.

Ons het weer ons daaglikse brood in.  Ryk, warm en lekker.  Sielskos, hartskos – koningskos!

Naskrif : Dié van julle wat in Bloemfontein kom kuier, gaan maak gerus ‘n draai by een van ‘n paar Get-to-Gethers.  Julle sal nie spyt wees nie.  Dis nie net die kos wat lekker is nie, die atmosfeer en dekor en eetgerei is so plaas as wat jy kan kry. Warm, gasvry, oorvloed – “comfort food” op sy beste!!

 

‘n Nuwe jaar

 plaashek

Salig! As my nuwe jaar so begin, kan ek vir vir 2011 sê “bring it on!”  Gisteraand het ons en ons kinders die oujaar afgesluit met ‘n braai op die plaas.  Terwyl ons aan tafel gesit het, het die reën (dit het al eintlik die heeldag gereën en net gestop sodat ons kon braai) saggies op die plaashuis se sinkdak geval.  Daar was geskerts aan die tafel, daar was onthou-jy-nogs en, wanneer niemand gekyk het nie, was daar trane in my oë. 

Hoe bevoorreg was ek nie!!  My man en al my kinders om een tafel.  In een huis. In vrede.  In oorvloed. In goeie gesondheid. In een stuk.  In liefde.  Wat meer kan ‘n mens wil hê.  Die afgelope tyd het menige mens vir my gevra wat ek wil hê vir 2011.

Sonder om blasé te klink, het ek gesê “niks”.  Party het my wel snaaks aangekyk, maar dit is hulle saak.  Ek het alles wat ek moet hê en wat ek wil hê.  Ek was nog nooit in my lewe materialisties nie.  Het al soveel mense met so baie besittings gesien wat sielsongelukkig was. 

Die dinge in die lewe wat my gelukkig maak, kos nie geld nie.  Kan jy dit nie koop nie.  Nie eers op ‘n uitverkoping nie.  Hartsgeluk – Vrede – Liefde – Aanvaarding – Vriendskappe – Sonsondergange – Natuurskoon – Reëns –  Sonnige dae – Kaggelvure – Geleenthede – Familie – Huweliksgeluk – Gesondheid . . . en nog baie meer.

Vanoggend toe ek wakker word (en manlief wat vir my koffie bed toe bring), is ek skielik opgewonde.  ‘n Nuwe jaar . . . nuwe verwagtinge.  Ek is so reg soos wat kan kom.  En jy? Vir jou wens ek al hierdie dinge hierbo – en nog meer.  As jy dit het, is al die ander dinge onnodig. 

Ek het gister ‘n mooi sms van ‘n vriendin ontvang.  In Engels.  Ek deel dit met julle.

“Lke birds, let us leave behind what we don’t need to carry . . . Pain, sadness, bitterness, fear and regrets . . .  Fly light – Life is beautiful!  If 2010 didn”t end up the way you planned . . . just remember . . . 2011 is created specially for you to start new . . . enjoy every new moment!”

Mag elke oomblik van jou 2011 gevul wees met voorspoed, vrede en vreugde!

Lorraine