Dinge waaroor vroue mal is . . . maar mans haat dit.

 

Op soek na inligting op die internet kom ek af op ‘n webtuiste genaamd askmen.com en kon nie die versoeking weerstaan om te loer nie. Daar is allerhande hulpbronne vir mans en ek dog dit is net ons vroue wat behoefte het om haarself te verryk en te verbeter.

“9  Belangrike dinge wat jy kan leer as jy ‘n nagklub besoek” – en dit gaan nie oor dames, drank en dans nie en “Is dit werklik nodig dat mans sover as afskilfering gaan?” is ‘n paar van die artikels wat die mans deesdae oor lees, praat en koukus.

askmen.com voel dat as jy gedink het bier en rugbywedstryde bind mans, slaan jy die bal ver mis.  Dit is die eendersheid van die vroue in hul lewe wat hulle bind. Stem jy saam met die mans?

 

1              BADKAMER        

                Potpourri, badsout, lyfskrop en geparfumeerde kerse is ‘n nee-nee!  Shea-botter en pepperment voetskrop is dinge wat die water eko-sisteem probleme gee. Gee mans ‘n tandeborsel en seep – wat meer het hulle nodig?

2              WINKELS

                Vandag se mans gee nie om om in winkels rond te hang nie, maar om hom saam te sleep van een winkel na die ander vir ingeval daar dalk iets is wat haar sal pas is dalk te veel gevra.  Veral as sy vir hom vra of die betokke kledingstuk haar nie vetter laat lyk nie.

3              GESELS

                Mans voel vroue praat aanmekaar en dan moet hulle (mans) nog op alles antwoord.  Kan vroue nie ophou om op die mees onmoontlikste tye vrae te vra of te gesels nie, veral as daar ‘n belangrike sportwedstryd of ‘n interessante dokumentêr op History Channel is?

4              SLAAPSTORIES

                Niks maak haar meer gelukkig as die vooruitsig van ‘n romantiese aand in die bed nie.  Met al haar gevroetel en gekoester na die sessie beroof sy jou van ‘n rustige nagrus en boonop lyk die vroue boonop asof hulle gloei as hulle ontwaak!

5              TRANE

                Mans verkies om nie te huil nie, nie oor ‘n gebreekte been of oor die DSTV-

skottel wat die gees gegee het nie.  Ongelukkig lyk dit asof vroue iets weet wat die mans nie weet nie, en dit is dat ‘n goeie huilsessie jou beter laat voel.  Dis amper soos ‘n verslawing vir die vroue

Soek die regte mense . . .

 

 

Vandag, meer as ooit tevore, besef ek hoe belangrik dit is om jou te omring met die regte mense.  Nie die met geld, aansien of glorie nie, maar die wat jou motiveer, inspireer en opbou.  Iemand met ‘n sagte mond, ‘n sagte hand . . . ‘n sagte hart.

Mens hoor so gereeld van mense wat selfmoord pleeg en dan daar altyd  ‘n stemmetjie vir my of daar nie dalk iemand was wat daardie persoon so seergemaak het, afgeknou of selfs ‘n lelike woord toegesnou het nie.  Was daardie woorde dalk die laaste woorde wat iemand met hom gepraat het?  Kon ‘n sagter woord, hand of hart nie die persoon se lewe gered het nie?

Partymense is sommer net pleinweg onbeskof.  Skuil agter die “ek is maar net reguit” verskoning.  Nonsens.  Wie wil so leef.  Om heeltyd aanmerkings en opmerkings te maak wat ander mense afsit, selfs diep seermaak.   Ek glo vas dat dit mense met ‘n lae selfbeeld is, wat dit aan ander doen.  Hulle voel beter as hulle mense kan aftrek in plaas van optrek. 

Die mense met wie ek my ophou kom van oral.  Ryk, arm, mooi, minder mooi, mans, vroue, kinders, studente.  Slim mense en minder slim mense, pienk- geel en persmense.  Mense met skoon verledes en mense met kolle.  Oumense en jongmense.  Siek mense, gesonde mense,  maer mense en rondetjies soos ek.

Hulle het almal ‘n paar dinge in gemeen.  Hulle leef.  Hulle haal nie net asem nie.  Hulle laat mense rondom hulle hulself uitleef.  Hulle bou op, help op, kyk op.  Hulle het hoop, visie, liefde, deernis en begrip.  Vir ander . . . maar ook vir hulself.

Ons lewe in tye waar hoop aan die verdwyn is.  Waar gemoedelikheid plek maak vir stres en mondhoeke wat afwaarts neig.  Jou bure is vreemd, jou familie sien jy skaars en jou gesin is gelukkig as julle nog saam om die etenstafel verkeer.  Die mure rondom jou huis en hart is so hoog dat jy jouself nie eers meer herken nie.

Ek glo vas aan die beginsel dat as jy goeddoen (sonder dat die linkerhand weet wat die regterhand doen) aan ander, dit weer terugkom na jou toe.  Boonop is dit vir my die lekkerste gevoel om te weet ek het vandag ‘n sagte woord gehad vir iemand wat dit nodig gehad het.  ‘n Sagte hand waar iemand seer/swaarkry.  Begrip vir ander se probleme en sienings sonder om dit af te skiet. 

‘n Mens hoef nie met alles in die lewe saam te stem nie.  Dit is ook jou reg om te verskil.  Die kuns lê daarin om dit op die regte manier te doen.  Watter hartseer of kwaad steek jy weg agter die woorde waarmee jy ander kwes.  Vir my is emosionele mishandeling net so erg as fisiese mishandeling.  Soms erger.  Wonde genees . . . harte nie altyd so maklik nie.  Sommiges nooit weer nie.

As jy vanaand jou tandeborsel en jy kyk na jouself in die spieël – wat sien jy?  Kan jy met ‘n opregte hart erken jy het vandag voluit geleef?  Sonder om ander af te kraak, lelik te wees en mense se eergevoelens aan te tas.

Indien jy nee moet sê . . . ondersoek bietjie jou hart.  Haal dit uit en skrop al die kwaad en angs en liefdeloosheid af.  Smeer dit met olie van liefde, geloof en hoop. Geur dit met begrip, deernis, verdraagsaamheid en omgee.

Ek het grootgeword met die volgende woorde : Dit is nie wat jy sê wat seermaak nie, dit is hoe jy dit sê.

Ek is dankbaar vir die sonneblomvriendinne in my lewe.  Hulle leer my om my gesig na die son te draai!

Sonskyngroete vir jou!

 

Het jy dit verloor . . . ?

Het jy dit langs die pad verloor?  By die supermark in die trollie gelos? Of los jy dit sommer by voorbaat by die huis.  Of stel jy so min belang dat jy nie eers weet waar dit is nie?

Ek praat van jou vermoë om te lag.  Jou sin vir humor.  Om die snaaks in iets te sien en te waardeer.  Om, ten spyte van jou persoonlike probleme, ander met ‘n glimlag te kan verwelkom.  Of moet die hele wêreld dit nou ontgeld as jy in ‘n slegte bui is?

Daar is niks so onaantreklik as ‘n suur vrou nie.  ‘n Man ook, maar vir my is ‘n onvergenoegde vrou totaal en al teen die grein van vrouwees.  Ons moet gemaklike en lekker atmosfere skep vir ons mans, ons kinders en ons vriendinne.  Dit moet vir hulle lekker wees om in ons geselskap te wees. 

My pa het ons grootgemaak om vir onsself te kan lag.  “Eerder dit as wat iemand anders vir jou lag!”  Lag vat die plooie om die mond weg en sit dit om in lagplooitjies langs jou oë.  Vir my is dit die mooiste tekens van ouer word by ‘n vrou.

Op ons televisie is daar ‘n Corega advertensie van ‘n bejaarde vrou wat ‘n appel eet.  As ek soos sy kan lyk as ek oud is, wil ek sommer nou haar ouderdom bereik.  Wat ‘n pragtige vrou.  Ek verkyk my aan haar en selfs my oudste seun het die ander dag melding gemaak van hoe ‘n mooi vrou sy is ~ en hy is 28 jaar oud!!!

Ek weet baie sal sê “Ja, maar dis net ‘n advertensie, sy word betaal om te lag!”  Ek stem nie saam nie.  Daardie vrou is ‘n gelukkige en selftevrede vrou, haar skoonheid kom van binne, van haar hart en siel.  Sy gloei! En almal kan dit sien!

Gaan soek jou sin vir humor terug.  Lag oor die snaaks, en soms die nie-so-snaaks.  Jy sal verbaas wees hoe goed voel ‘n mens na so ‘n lagsessie. 
Dit voel soos ‘n dag by ‘n SPA . . . net goedkoper!!

Foto-Pretsel 10

Die pad vorentoe lyk soms so nou en ver dat ‘n mens jou maklik kan verbeel jy sal nooit daar uitkom nie. 

So voel ek ook as ek my oor die toekoms bekommer.  Dit lyk asof daar nie ‘n einde gaan kom aan my probleme nie en die uitkoms is onseker  . . . wie kan sê wat wag vir my in die toekoms en nog erger . . . sal ek dit kan hanteer? 

Om nou al te tob oor die toekoms maak ‘n mens moeg, dit put jou energie en veroorsaak dat jy paniekerig raak.

Stap die pad . . . treëtjie vir treëtjie ~ en voor jy jou kom kry is jy daar en besef  jy die pad is eintlik net so breed soos toe jy hom begin stap het. 

Hanteer jou bekommernisse ook so, een dag op ‘n slag !