Foto-Pretsel 12

Is verbasend hoe partymense met so ‘n “moeggebore” uitdrukking op hulle gesigte rondloop.  Die lewe is net eenvoudig te veel.  Hulle kan nie meer so voortgaan nie, die lewe is een pynigende hel op aarde.

En nee, ek praat nie oor mense wat werklike truamas moes deurgaan nie, of terminaal siek is, of dierbares aan die dood moes afstaan of weens die resessie al hul besittings en drome verloor het nie.

Ek praat van mense wat sonder rede kla, sonder rede kortaf (lees ongemanierd) is, wat mense as ‘n reël afjak, verneder en verkleineer.  Wat met alles ontevrede is, wat niks mooi en goeds in ander of in die lewe raaksien nie.

Geen wonder hulle is sielsmoeg in die aand nie.  Dit sal my ook tap van energie en positiwiteit.

Bygelowe . . .

 

 

Oe-heh-eh . . . ek wonder hoeveel mense het vandag by die huis gebly of selfs in die bed gebly omdat hulle bang was iets slegs gaan vandag gebeur?

Ek wou ook nogal daardie truuk doen. Bel my baas en seg hom ek gaan g’n nêrens vandag nie.  Bang die onheil gaan my tref. Toe het hy te vertelle dat as ek nie 08h00 by die werk is nie gaan die onheil my in elkgeval tref want hy gaan my op die plek “FIRE”.  Ook geen sin vir onheile nie. 

Nou ja, toe pak ek maar vir handsakkie en start vir karretjie en gaan werk toe maar.  Nie dat ek enigsins bygelowig is nie, maar ek het so uitgesien na ‘n lang naweek.  (“,)  Kersfees is nog ver!!

Alle grappies op ‘n stokkie.  Dit het my nooit gepla as die 13de op ‘n Vrydag val nie.  Ek dink wel daaraan (moeilik om dit te igoreer as almal heeldag daarvan praat) maar nie met ‘n beklemming om die hart nie.  As (die onheil) wil kom, dan sal hy.

En laat ek dit dan ook maar terselfdertyd erken.  Ons kan so maklik bygelowig raak.  Oor klein goedjies wat ons nie eers altyd agterkom nie.  Ek onthou op hoërskool het ek ‘n paar oorbelletjies (kruisies) gedra en elke keer wat ek dit aangesit het, het dit vir my gevoel dinge loop net reg.  In so ‘n mate dat ek later nie meer ander oorbelle wou dra nie.

Ek moes myself dwing om anders te dink daaroor.  Gelukkig was ek nog jonk en baie modebewus en het die ewigdurende veranderde modes my gelukkig gedwing om ‘n nuwe paar te kry.

Watter “klein” bygelofies het jy wat jy met ons wil deel?  Ek sit solank die ketel aan . . . of verkies jy ietsie sterkers terwyl ons oor hierdie prettige onderwerp gesels?

Foto-pretsel 11

 

 

Bome doen dit vir my.  Veral groot bome.  Dit laat my nederig en klein voel.  Ek kruip weg onder ‘n boom.  Daar word ek stil.  Ek luister en hoor wat normaalweg by my verbygaan.  Van kleinsaf het groot bome my gefassineer.  Eendag, lank terug, het ek in die Paarl in die winter skielik begin huil.  Mense het my vreemd aangekyk.  Die groot eikebome is oorweldigend vir my brose menswees.  Dis terapeuties.

Outydse gemmerbier

 

 

Ideaal vir die warm(ste) somerdae wat ons in jare beleef !!

GEMMERBIER

 Hierdie resep is al vanaf 1975 in gebruik in ons familie.  En nog altyd ‘n wenner in die somer.  Maklik en goedkoop om te maak. Proe net soos ouma s’n maar sonder die baie werk. 

17 liter water                                                

2,5kg suiker

3 eetl fyn gemmer                                       

1 eetl droë gis (korrels)

1 – 2 handevol (pit)rosyne

 

Gooi alles bymekaar in 20 liter emmer met deksel.  Roer tot suiker opgelos is.  Sit deksel op.  Laat staan oornag.  Rosyne moet bo-op dryf – dan is dit reg!).  Gooi in bottels, MOENIE BOTTELS SE PROPPE TE STYF OPDRAAI NIE!!!!!

Maak 18 liter gemmerbier.

Krismiskos . . .

 

In ons binnekring, dis nou nabye familie en vriende, word sommer blatant gevra, “Hoeveel kilogramme was jou Kersfees?”  Dis nou na aanleiding van al die versoekings in terme van kos en drinkgoed oor die groot dae.  En met my brose lyfie kan ek letterlik en figuurlik nie eers lyf wegsteek nie.

Ander mense se foute en sondes word slim verbloem met grimering, ‘n oulike kapsel of die regte snit klere, maar myne word oop en bloot tentoongestel soos ‘n goedkoop “X-Mas Special” in ‘n winkelvenster.  Vir almal om na te kyk en te wonder of dit die moeite werd is.

Iemand het lank gelede die opmerking gemaak dat ‘n mens die gewig wat ‘n mens in ‘n jaar optel nie soseer tussen Nuwejaar en Kersfees geskied nie, maar eerder in daardie lang, nimmereindige feestyd tussen Kersfees en Nuwejaar.

Waarom gaan ons dan elke jaar deur al die dramas rondom Krismiskos?  Daar word vooraf ure om die tafel gesit, spyskaarte word beplan, opinies word gevra en die breine word gerek vir ‘n ete der etes op dié besondere dag.  Sou die spyskaart die begroting diep in die rooi sit, moet al die stappe weer van vooraf deurgewerk word.

Skielik ontpop elkeen in ‘n vyfster-sjef.  Elke lid van die huisgesin gooi sy wenresep spyskaart in die groot pot – en dring boonop daarop aan dat syne die beste is.  Selfs ek, wat na vyf-en-twintig jaar al redelik opgekook is, wil nou ook skielik ‘n lepel in die kastrol druk oor die spyskaart.

Na al die gekoukus word daar eenparig, met subtiele dreigemente en afpersing deur die huishouding se Minister van Finansies, vir ons besluit.  Manlief kry sy sin oor die vleisgeregte, Ouboet het vrek en vrede of die res van ons van sy keuse van nagereg hou en Kleinboet dra vir ‘n vale resepte aan van eksotiese slaaie en bykosse. 

My keuse? Sien ek kans vir al die voorbereidings of gaan ek my moet oorgee aan daardie bekende blou pilletjies om my regop te hou met al die bedrywighede?

As die welsyn op Kersdag by my huis moet instap, sluit hulle my summier toe in die tronk en gooi die sleutel ver weg. ‘n Mens sal sweer my mense het jarelaas ordentlike kos gesien en geëet!  Dat nie een van hulle in die hospitaal beland weens ‘n gebarste maag of diafragma nie, is opsigself ‘n agste of negende wonder van die wêreld.

My oomblik van wraak (oor die aldag en heeldag gestanery voor die warm stoof en wasbak) breek uiteindelik aan.  Gelukkig het ek baie geduld en kan ek lank wag.   Boonop haat ek dit om kos te mors.  Die volgende paar dae se spyskaart lyk toe as volg.  Toebroodjies met oorskiet kouevleis, slaai en krismispoeding.  Kits pizzas met “krismis toppings” (lees oorskiet kouevleis), slaai en poeding.  Gevulde ommelette met oorskietvleis, slaai en iets wat lyk soos krismispoeding.

Tot vervelens toe.  Verrassing op verrassing, totdat selfs die katte in die huis hulle koppe naderhand wegdraai  vir heerlike gesnipperde varkboud en hoenderdytjies.  “Te erg is te erg” – lê die verwyt in hulle oë as dit net lyk of ek na die yskas se kant toe beweeg.  Met hierdie vreemde gedrag van die katte is ek oortuig dat ons dierbare troeteldiere vir tenminste ‘n week vrywilliglik ‘n vegetariese dieet volg. 

Natuurlik is dit ‘n heerlike tyd in my lewe.  Geen kosmakery nie, die skottelgoed word by die dag minder en ek kan weer die yskas se liggie raaksien sonder om alles uit te pak.  Die kinders is iesigrimmig, grom in die verbyloop vir mekaar en soek verskoning om uit te slaap (vir verandering van spyse, glo ek) en my man begin verval in ‘n toestand van stilstuipe.  En soos wat deesdae se kinders sal sê,  kap ek hulle ‘n “ignore”,

En dan, sonder dat ek dit regtig besef, wonder ek hoekom ek skielik so aangetrek word deur alles wat groen- en oranjekleurig is?  Sien ek ‘n struik met groen blare wil dit so half en half ‘n klokkie by my lui, ek kan net nie dink wat nie.  Totdat ek in die plaaslike supermark beland.

Maak nie saak wat ek op die rakke soek nie, ek bly terugkeer na die groente-afdeling.  As ek my kom kry staan ek daar, bevoel en bevat die komkommers, vryf oor die wortels, koester die murgpampoene en skorsies teen my lyf.  Dit alles gepaardgaande met ‘n dromerige uitdrukking in my oë wat vir ander dalk na ‘n dringende geval vir die sielkundige lyk.

Net voordat die winkeleienaar my wil uitsmyt oor onsedelike gedrag, koop ek op die daad genoeg groente vir ‘n weermagpeleton.  Terwyl ek huistoe jaag, gryp ek die selfoon (dankie tog daarvoor) en skakel vir manlief.  Soos ‘n generaal in ‘n oorlogsituasie skree ek die bevele oor die foon, “maak vuur, smeer jou swartpot, skil solank uie, haal daar ‘n pak skaapskenkels uit, vanaand maak ons ‘n pot.  Hierdie sussie is nou lus vir gewone boerekos – sonder poeding!”  Vanaand eet ons weer soos ordentlike opgevoede mense!

Daardie aand lyk dit asof die kinders tuisgekom het na jarelange swerwery oor die groot waters.  Ons glimlag ordentlik vir mekaar, waag dit selfs om grappies te maak.  Die katte kom skuur-skuur nader, hoopvol dat daar iewers dalk ‘n stukkie wortel uit die pot sal val.  My man knipoog (met ‘n vonkel in sy oog) betekenisvol vir my oor die vuur.  Daar is weer uiteindelik vrede in die huis. In my hart sê ek saggies, “Dankie tog, Krismis kom net eenmaal ‘n jaar!”