Elke hond kry sy dag . . .

boxer-dog_19-133187

As iemand nog dink ek is dom en onnosel . . . blameer vir Buks.
My “liberation before education” het begin toe ek vir die eerste keer skooltoe is. Voor eerste pouse het Buks by die skool aangekom, die klaskamer binne gestorm, direk na my skoolbank geloop en my vreesloos aan my splinternuwe skoolrok se pante beetgekry en huistoe probeer sleep.
Vandag wens ek ek kon dit op kamera sien.  Ek is seker ek sou meer as ‘n miljoen “likes” op Youtube gekry het.  Buks kon advertensierolle losslaan en ek sou my Ekonomiese Vryheid in my leeftyd op ‘n baie vroee ouerdom bereik het.

Hoe Buks geweet het waar die skool is en watter klaskamer aan die Sub A’s behoort sal geen mens weet nie. Ons het omtrent ‘n kilometer van die skool gebly.  Die groot drama was toe die skoolhoof se dogter (my senior en in Sub B) my meegedeel het dat haar pa Buks sou skiet as hy weer sou durf waag om sy pote op die skoolgronde te sit.  Ek het haar gehaat met ‘n passie (kinder-drif) want hoe op aarde vertel ek vir Buks hy is nie welkom by die skool nie.
Ek meen, hy was na alles ‘n hond.  ‘n Tweejaar oue Bokser wat nie geskrik het vir die duiwel nie.  My pa was op ‘n stadium moedeloos met Buks oor sy arrogansie en het die hond vir ‘n vriend gegee op ‘n plaas.  Met trane in ons kinderoe het ons die swart Mercedes agterna gestaar met Buks op die agtersitplek.  Twee weke daarna kom die einste swart Mercedes terug.  Met Buks op die voorste sitplek.  Die plaasboer is moedeloos verby.  Buks wil nie aanpas op die plaas nie.

Soos die verlore seun word Buks terugverwelkom in die huisgesin.   Sy spesiale kos word voorberei, hy word gebad en ‘n nuwe kombers vervang die ou een.  Daardie aand slaap Buks voor die ou koolstoof in die kombuis.  Die katte is moeilik, al hulle lojaliteit het hulle niks gehelp nie.  Buks was die gekroonde vierpotige koning van die dieredom in die huis.
Elke Vrydagmiddag was dit Kinderkrans by die skool.  Buks het darem nie meer die nut daarin gesien om my lyfwag te speel by die skool nie.  So wag ek vir my sussies en broer om te kom dat ons kan stap.  Ek is verveeld en besluit die heining (draad) en hek is ‘n lekker speelplek.  Klim op en af, op en af . . . net om die volgende oomblik hardhandig van agter beetgekry en afgetrek word grond toe.  Het nou nog die merke van sy tande as bewyse,  Vandag wonder ek, was hy bekommerd ek kry seer of het ek net pleinweg op sy senuwees gewerk?

 

My ma is nie baie lank daarna oorlede nie.  Buks het verander.  Stiller geword.  Nie meer so waaksaam gewees nie.  Minder geeet en minder gespeel.  Minder omgegee, as ek dit so kan noem.

 

Nie baie maande na my ma se dood het Buks verdwyn.  Ek was nog hartseer oor my ma se dood en toe los Buks ons ook net so.  Vandag, byna 40 jaar later wonder ek baie oor Buks.  Was dit my ma se dood wat hom geknou het? Was dit die hartseer in die huis wat hy nie meer kon hanteer het nie?  Of het hy geweet my ma gaan nie meer lank leef nie?  Het hy net gebly terwille van haar?

 

Vandag sal ek alles wou gee om weer vir Buks te kan he.  En om hom ‘n drukkie te kan gee en dankie te se dat hy so mooi na my gekyk het.

 

©