Wensdenkery

Vir eenkeer in ‘n lang tyd kon ek my naggloede nie die skuld gee vir nat hare, nat rug en nat kussing nie. Ek was nog nooit so bly om wakker te word soos vanoggend nie. En my weer eens te laat besef die spreekwoord, “oppas vir wat jy wens, jy mag dit dalk net kry!” regtig, regtig waar is.

Vir die van julle wat my ken, sal weet dat ek geseënd is met ‘n brose lyfie en dat ek met verloop van tyd vrede gemaak het daarmee. Nie dat ek al ooit gewens het ek kan soos Twiggy lyk nie (dit is darem ook te maer) maar soms as ek die jongmense so kyk met hul dun lyfies en min klere – veral in hierdie hitte – dis dan dat ek wens ek was so bietjie dunner.

So droom ek mos laasnag ek het ‘n ander lyf. Moenie my vra hoe het dit gebeur nie. Sover ek kan onthou moes ek met ‘n ander vrou geruil het. Was dit maar so maklik! Ek was erg opgewonde in my droom, ek kon weer my voete sien, ek kon rotse uitklim, ek kon saam met iemand anders ‘n stoel deel en so voorts.

Winkels toe was natuurlik my eerste prioriteit. Daar aangekom gryp ek die klein nommertjies van die rakke af. Sulke pikante goedjies. Ek dink ek het party van daardie klein nommertjies gesien toe ek laas op laerskool was! Dit is spaghetti-strêppie-toppies, bloesies wat my middeltjie wys, jeans wat op die heupe lê en die gepaste ondergoedjies. Het amper aan my dieetdrankie verstik (vet word sou ek nie weer nie) toe ek sien wat betaal ‘n mens vir so ‘n stukkie lappie!

Wat ‘n skok toe ek in die spieël kyk. Ek het nie net die lyf gekry van die ander vrou nie, maar ook haar hare! Ek kan niks daarmee uitrig nie. Maak nie saak of ek gel, “tease”, draai, blaas, spuit of stryk nie.

Asof dit nie genoeg is nie, sit daar hare op plekke wat ek nie gedink het hare kan sit nie. Van die plekke sal ek maar uit ordentlikheidshalwe nie hier herhaal nie. Maar in my droom het ek besef geen haarverwyderaar sal die onooglike hare op die mees “weirdste” plekke verwyder nie. Miskien dalk die tussen my tone.

Dis toe dat ek begin paniekerig raak. Sê nou maar net die ander vrou wil nie my lyf teruggee nie. Wat gaan ek dan maak? Ek was nog so besig om rond te hol in my drome, dalk was dit hoekom ek so gesweet het, om die vrou te vind want ek het besef dat ek eintlik heel tevrede was met my lyf. Ek het tenminste geweet wat en hoe om my hare te hanteer, danksy my haarkapster en ek het nie onooglike hare op snaakse plekke gehad nie.

Genadiglik skrik ek toe wakker. Eerste beweeg my hande bewerig oor my ronde heupe, my “seksie”-maag en my tone. Met ‘n glimlag vee ek oor my deurmekaar nat hare en ek sug en wil sommer sing, “my lyf is weer myne!” Nog nooit was ek so bly om myself te sien nie!

Vanoggend is ek sommer diep dankbaar vir alles aan my. Skete, pyne, velle, rolle, grys hare, lelike voete, geswelde bene in die hitte. Elke sentimeter van my lyf is MYNE!! Saam met die blydskap weet ek ook dat ek nooit, nooit weer sal wens dat ek iemand anders se lyf kan hê nie.

Sexy klere of “te not”!

Kopiereg voorbehou

Die storie van die litroos

Ek het onlangs ‘n litroos as geskenk gekry. My eerste gedagte was, sjoe– dis nie die mooiste plant wat ek al in my lewe gesien het nie.

So plant ek dit maar langtand tussen my ander mooi vetplante. So ver agterlangs. Hoop ek hy maak dit nie en dan het ek rede om van hom ontslae te raak. (Ek se hom, want haar klink nie reg nie.) Maar ek gee water, en kyk en praat met hom en verstom my aan sy ongemaklike stam – of is dit blare? Geel, maar ook nie eintlik geel nie. Groen maar ook tog nie groen nie. ‘n “Onooglike” plant.

Een stam groei hierdie kant toe, die ander blaar heel dwars van die hoofstam. So asof dit ‘n gebrek het. Ek kry net nie my kop gedraai om die voorkoms van die plant nie. Dit maak net nie vir my sin nie. Die plat stam/blare nog minder.

Op ‘n dag begin daar aan die eenkant van die plant ‘n knoppie uitkom. Op die mees ondenkbaarste plek van die plant. Soos ‘n puisie op die punt van jou neus. Ek bekyk die besigheid en skud maar net my kop. Besluit ek sal maar wag tot die blom eendag oopgaan en kyk wat kom daaruit.

Sondagoggend staan ek op. Loer oudergewoonte deur die ruit na buite. Sonder my kontaklense, natuurlilk. Vererg my onmiddelik vir die stuk rooi plastieksak in my tuin. Hoe kom dit nou daar? Pluk die skuifdeur geirriteerd oop en oppad om die plastieksak te gaan haal kry ek die grootste verrassing van my lewe.

My litroos blom. Trots, fier, ongelooflike mooi in rooi getooi. Ek kry sommer trane in my oe. Die mooiste ooitste prentjie van ‘n blom. Ondanks die lelike blare/stam wat my so afgesit het. En ek kry skaam, bitterlik skaam vir myself.

Ek leer ‘n goeie lewensles uit my litroos. Ons (en ek is self skuldig) is so haastig om te oordeel op dit wat ons sien en hoor. Gee ons nie die “lelike een” kans om te wys watter mooi regtig in hom/haar steek nie. Besluit ons klaar vooraf – nee wat, dit pas nie by my styl nie. Dit sal afsteek by my idees oor reg en verkeerd is. Of wat mooi en lelik is.

So pronk my litroos in my tuin. My trots. Ek neem fotos, deel dit op sosiale media. Sien ek nie eers my ander mooi(er) plante raak nie. My oog bly terugval op die mooi gesig. In sy volle glorie voel ek nogsteeds die plant se nederigheid aan. Nie ek-het-jou-mos-gese nie. Net ‘n stille dankbaarheid dat hy kans gekry het om sy ware kleure te kan vertoon. En nederig dankbaar vir die plesier wat dit aan my bring.

Ek buk, my trane val op die blom. Vra ek omverskoning. Ek is jammer ek het hom uit die staanspoor geoordeel sonder om hom kans te gee om eers tot sy volle reg te kom. Ek stap weg, skaam. Skaam oor my gedrag teenoor een van God se skeppings. Skaam oor my hooghartigheid, wat besluit het een van God se skeppings is nie goedgenoeg vir my nie.

Doen ek dit met mense ook? Vind ek ook fout met God se skeppings? Hou ek my beter as my buurvrou? Of die vrou wat vir my vra vir kos? Vir die vrou wat haar probleme wegdrink? Die vrou wat elke dag dieselfde rok dra want daar is net nie geld vir nuwes nie? Wat maak my nou eintlik beter as enige een van hulle? NIKS.

Skaam en vol bittere verwyt kyk ek op en smeek, “Here, vergewe my tog, asseblief!”