James Bond, 007 – ‘n leier soos min!

Uit pure verveeldheid kyk ek gisteraand na ‘n stokou James Bond fliek. Dr No, met Sean Connery as 007 en die mooie Ursula Andres in die vroulike hoofrol en besef weer hoe die tegnologie ontwikkel het. Laat my terugverlang na die dae toe alles nog ongekompliseerd was.

Die enigste toerusting wat dié destydse intelligensieagent gehad het, was ‘n groterige masjien wat golwe van een of ander aard opspoor. Geen snaakse gadgets vir 007 nie. Geen selfone nie, geen internet nie. Wonder hoeveel helde/misdadigers sou oorleef het as hulle ‘n selfoon byderhand kon hê om vir versterkings te vra. Of hoe handig en vinnig 007 persone of belangrike inligting sou kon opspoor met internet.

Die sektretaresse, Moneypenny, se lessenaar het slegs drie items bevat. Tikmasjien, telefoon en ‘n notaboek. Die grootbaas, natuurlik ‘n man, se lessenaar het ‘n houer vir penne, telefoon, asbakkie vir sy pyp en een of twee lêers. Alles is nog met die hand geskryf en dan met tikmasjiene afgehandel. Die enigste kontak tussen baas en sekretaresse was ‘n interkomstelsel, met ‘n tipiese rooi- en groen liggie langs sy deur.

Geen familiariteit nie, almal was Meneer of Mevrou of Mejuffrou aangespreek. “Dankie mnr Bond” en “Die plesier is myne, Mej Moneypenny” was die norm. Geen gekruide taal, uitstekende diens en bevoegde personeel was aan die orde van die dag. Polisiemanne was nog trots. Hotelle het geen televisiestelle gehad nie en restaurante het nog nooit van die rookwet gehoor nie.

Publieke telefoonhokkies, openbare badkamers, lughawens en strate het gewerk en was skoon. Motors wat breër en langer is as duikbote is met handigheid bestuur, op die mees onmoontlikste plekke kon hulle ‘n U-draai maak en bane seepglad verwissel. Parkering en parkeerplekke was skynbaar nooit ‘n probleem nie.

Mense in kantore en op straat was netjies geklee. Vroue het uitskoprokke of stylvolle pakkies (geen langbroeke), vollyfonderrokke en netjiese byekorf-haarstyle gedra. Daar was hoëhakskoene, sykouse met nate, bypassende handsakke en foutlose grimering met die alombekende “beauty spot” net links op die bo-lip.

Mans het almal voor die voet hoede en jasse gedra, gerook, netjiese pakke, wit hemde en dasse en swart, blink skoene aangehad. Selfs die slegte ouens het pakke gedra. James Bond se strikdas was altyd in plek. In sy baadjie se binnesak was daar altyd ‘n kam om daardie ge-oliede hare in toom te hou.

Informeel was omtrent gelykstaande aan om jou das effens losserig te dra en jou boordjie se boonste knoop los te maak. Selfs as Bond sy vyande aanval, op land, see of in die lug, was sy klere altyd netjies en skoon, daardie teruggekamde kuif sonder ‘n haar uit sy plek. Geen sweet onder die arms vir 007 nie!

Bond het altyd ‘n mooi Russiese vrou by ‘n Cassino ontmoet, nooit ‘n pokerspel verloor nie en het altyd sy Martini, “shaken, not stirred!” byderhand gehad. Sy motor is nooit langs die pad gekaap nie, hy is nooit lastig geval by ‘n robot deur lastige straatverkopers nie. Of opgehou deur taxibestuurders nie.

Hy was nooit bang vir vyand of vir vreemde vroue nie en het altyd gewys wie is baas. Vyande het die slegste daarvan afgekom – dood, en die vroue het opgeëindig in sy bed, springlewendig, met hier ‘n daar ‘n uitsondering. Sy bedsake was aan die verbeelding oorgelaat. Sy meisie, Ursula Andres sal onthou word waar sy uit die see stap met haar goedbedeelde lyfie, geklee in ‘n spierwit bikini. Soos die meeste mans, bevind 007 hom in ‘n tong-uithang-hart-wat-vinnig-klop-en-hou-my-regop-situasie. Waarna hy haar, soos gewoonlik, met sy sjarme oorrompel.

Vroue het oor hom gekwyl en vriend en vyand het hom respekteer. Altyd professioneel, geen korrupsie geduld nie, altyd paraat as sy werk en land hom nodig het. ‘n Man van integriteit. Daar is min van sy soort oor!

Suid-Afrika het nou so ‘n leier nodig. Waar kriminele weet daar is geen genade met hom in die omtrek nie. Waar integriteit ‘n groot rol speel. ‘n Man met ‘n plan, ‘n plan wat tot sy land se voordeel strek, al offer hy homself op.

Ons kan maar vergeet van De La Rey – “James Bond, James Bond, wil jy nie asseblief die mense kom lei?” Ten minste leef James Bond nog, al het hy menigmaal van gedaante al verander!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *