Watter soort blom is jy?

Nou dat Lente amper hier is (jippie!!!!) begin my kop weer na die tuin staan.  Is ek lus vir kleur na die verskriklike koue winter waar alles in die Vrystaat verdor tot ‘n melankoliekerige kleur van ‘n lewelose wit en vaalgeel.  Kry ek lus vir bessierooi, purperpers, goudgeel, spookasempienk en kobaltblou kleure in my tuin. 

Min mense wat my ken weet dat die rooi hisbiskus my gunsteling blom is.  Daar is iets omtrent hierdie blom wat met my siel werfskaf.  Het hoeka vir manlief gesê die dag as ek oorle hoef hy nie my graf met vars blomme te bedek nie.  Plant vir my eerder ‘n bloedrooi hisbiskus.  Twee sal ook “nice” wees.  Ek kan terselfdertyd in die koelte lê, my vel brand hoeka tog te vinnig en ek kan my terselfdertyd verlekker aan die mooi kleure.

Lank terug roep ‘n vrou my agterna terwyl ek wegstap.  Ons het mekaar geken maar nie as vriendinne nie.  Net nou en dan op straat of in winkels mekaar gegroet en hier en daar ‘n paar woorde gewissel. 

 Hierdie spesifieke dag sê sy vir my, “Weet jy, ek wou al lankal vir jou sê jy laat my altyd aan ‘n bloedrooi hisbiskus dink.”  Daar staan ek, skoon verstom ~ en die volgende oomblik huil ek dat die biesies bewe.

Die arme vrou is in ‘n toestand, vra wat het sy verkeerd gesê en ek probeer vir haar verduidelik sy het alles reg gesê.  Ek was juis die dag op ‘n laagte en my selfbeeld was nie op standaard nie en hier kom sy en sê ek laat haar dink aan my geliefkoosde blom. 

Dit was mooipraat om haar beter te laat voel, maar of sy ooit sal verstaan wat sy daardie dag vir my beteken het, dit weet ek nie.  Ek was op ‘n wolk.  Dat ‘n paar woorde my so vinnig uit die as kon tel! 

Van daardie dag af probeer ek om mense as blomme te sien.  Daar is ‘n paar rose, sonneblomme, sweet-peas, lelies en viooltjies onder my vriendinne en kennisse.  En daar is ook ‘n kaktus of twee. As jy die dorings miskyk en dit mooi hanteer is hulle net so pragtig soos die ander blomme.

Watter blom is jy?  Hoe sien jy jouself in hierdie wêreld waar water en kunsmis (liefde, vergifnis, aanvaarding ens) maar skaars is?  ‘n Wêreld waar ons mekaar eerder flenters trap onder ons voete en die versorging en instandhouding van vriendskappe maar yl gesaai is?

Kan jy blom sonder die nodige instandhouding, of is jy die tuinier wat van een blom na ‘n ander blom hardloop met die tuinslang maar in die proses nooit ‘n druppel water vir jouself oorhou nie?

Laat ons blom, nie net vir die oog van ander nie, maar ook vir die selfbevrediging wat dit aan onsself gee.

‘n Nuwe jaar

 plaashek

Salig! As my nuwe jaar so begin, kan ek vir vir 2011 sê “bring it on!”  Gisteraand het ons en ons kinders die oujaar afgesluit met ‘n braai op die plaas.  Terwyl ons aan tafel gesit het, het die reën (dit het al eintlik die heeldag gereën en net gestop sodat ons kon braai) saggies op die plaashuis se sinkdak geval.  Daar was geskerts aan die tafel, daar was onthou-jy-nogs en, wanneer niemand gekyk het nie, was daar trane in my oë. 

Hoe bevoorreg was ek nie!!  My man en al my kinders om een tafel.  In een huis. In vrede.  In oorvloed. In goeie gesondheid. In een stuk.  In liefde.  Wat meer kan ‘n mens wil hê.  Die afgelope tyd het menige mens vir my gevra wat ek wil hê vir 2011.

Sonder om blasé te klink, het ek gesê “niks”.  Party het my wel snaaks aangekyk, maar dit is hulle saak.  Ek het alles wat ek moet hê en wat ek wil hê.  Ek was nog nooit in my lewe materialisties nie.  Het al soveel mense met so baie besittings gesien wat sielsongelukkig was. 

Die dinge in die lewe wat my gelukkig maak, kos nie geld nie.  Kan jy dit nie koop nie.  Nie eers op ‘n uitverkoping nie.  Hartsgeluk – Vrede – Liefde – Aanvaarding – Vriendskappe – Sonsondergange – Natuurskoon – Reëns –  Sonnige dae – Kaggelvure – Geleenthede – Familie – Huweliksgeluk – Gesondheid . . . en nog baie meer.

Vanoggend toe ek wakker word (en manlief wat vir my koffie bed toe bring), is ek skielik opgewonde.  ‘n Nuwe jaar . . . nuwe verwagtinge.  Ek is so reg soos wat kan kom.  En jy? Vir jou wens ek al hierdie dinge hierbo – en nog meer.  As jy dit het, is al die ander dinge onnodig. 

Ek het gister ‘n mooi sms van ‘n vriendin ontvang.  In Engels.  Ek deel dit met julle.

“Lke birds, let us leave behind what we don’t need to carry . . . Pain, sadness, bitterness, fear and regrets . . .  Fly light – Life is beautiful!  If 2010 didn”t end up the way you planned . . . just remember . . . 2011 is created specially for you to start new . . . enjoy every new moment!”

Mag elke oomblik van jou 2011 gevul wees met voorspoed, vrede en vreugde!

Lorraine