Vat jou goed en trek Ferreira . . .

move

Op my brose ouderdom is ek nie meer gebou vir sulke kapperjolle nie.  Ek het amper vyf jaar terug dié groot taak aangepak Bloemfontein toe.  Die laaste trek voor dit was ‘n hele paar jaar terug.  Die verskil is dat ek daardie tyd nog energie en lus gehad het vir sulke takies.  Nou voel dit of iemand my vra om in die nag (of in die hitte) kaalvoet oor Tafelberg te stap.  ‘n Vriendin vertel nou die dag haar dokter sê hoe ouer ons raak, hoe minder raak ons “coping skills” – en hoe waar is dit tog nie!

Ek het egter geen verskoning gehad vir die warboel nie, want ek het maande voor die tyd geweet daarvan.  Maar wat pak ‘n mens nou in?  Net as ek iets netjies geboks en geseël het, kan ek verseker weet kort voor lank moet ek weer oopmaak want ek het weer iets nodig.  Dan begin die hele proses van vooraf.

Boonop kan ‘n mens in ‘n paar jaar vinnig klomp nonsens opgaar.  Ek het ‘n wonderlike formule, hou dit in jou hand en as jy nie ‘n gevoel kry vir die artikel nie, gooi dit weg.  Kry jy een, hou dit.  Die probleem is dat met elke ding wat ek in my hand vashou, ek herinneringe oproep van “onthou jy nog toe . . . . “  Die nagevolge is dat ek dan alles wil bêre.  Dis waar wilskrag ter sprake kom.

Die voorlaaste keer het my man en die seuns die goed aangery, en in die proses (na aanleiding van die graad van hul moegheid – en die hitte) sommer van die goed wat hulle dink ek nie meer nodig het nie, weggesmyt.  En boonop nou hoog en laag sweer hulle het dit saamgebring!  As iemand dalk ‘n mooi badkamerkassie opgetel het of ‘n rooi stukkende kitaar gewaar het – dis myne!

Elke ding het sy herinneringe hier in my binneste.  Wat lekker is van so ‘n trekkery is dat jy weer goed sien wat jy vergeet het jy besit.  So kom ek af op ‘n handmeul wat ek jare terug gekoop het (vir manlief) en seker vir die beste part van vyf jaar nie met ‘n oog gesien het nie.  Nou meul ek alles, van alikreukel tot vleis.

So moes ek ook noodgedwonge ontslae raak van daardie klere wat ek weer in koue water gewas het en my nie meer pas nie.  Waspoeier is ook nie meer vandag wat dit was nie!  Daardie swart nommertjie wat ek myself belowe het ek sal in, moes maar gaan.  Aan my brose lyfie sal dit nooit weer kom nie.

So ook die stel borde wat ek in my prille jeug bymekaar gemaak het toe Biggie Best nog in die mode was.  Ek het my dae omgeloop in tweedehandse winkels, op soek na dáárdie bord wat die res van my versameling sou komplimenteer.  Vandag kan ek glad nie dink wat was vir my so mooi daaraan nie.

Krultange, warmborsels, elektriese krullers, kamme en haarborsels van enige denkbare grootte en vorm is nou in iemand anders se besit.  En so in my stilligheid verwonder ek my aan die tyd wat ek voor die spieël deurgebring het om my hare in ‘n spesifieke styl droog te maak.

Al waarteen ek vasgeskop het wat nie weggegooi mag word nie, is my kinders se kleuterskoolprente en projekte.  Ek weet nog nie wat ek daarmee wil maak nie, maar ek sal dit nooit oor my hart kan kry om dit weg te gooi nie.  Dis asof die tyd te vinnig verby gegaan het toe hulle kleuters was en dit al is wat my nog aan daardie onskuldige en ongekompliseerde tydperk in hul lewens herinner.

Maar die mans kan maar net so lekker opgaar.  Myne het boeke wat dateer uit 1974.  Boeke oor die boubedryf, brosjures oor vensterrame, dakteëls en bakstene.  Boeke met idees om huise te restoureer. Gereedskap wat my baie aan die ystertydperk herinner, eras waar mans nog vroue oor die kop geslaan het en grot toe gesleep het.  En moenie laat ek waag om iets te wil wegsmyt nie, dan moet ek hoor hoe hy dit nog vir hierdie en daardie takie kan gebruik.  Nodeloos om te sê die takies lê nounog onaangeraak!

Gordyne, duvets, kussings en my kinders se komberse uit hul laerskooldae het die pad gevind na iemand wat dit broodnodig gehad het.  En met ‘n rooigesig besef ek hoe bevoorreg ek is om te kan weggee.  Nie omdat dit ‘n goeie daad is nie, maar dat ek daagliks genoeg ontvang en somtyds nog so arrogant is om vies te word as ek nie iets dadelik kan kry nie.

Met hierdie wete kan ek nie anders as om te dink aan die menigte mense in ons land wat in plakkerskampe alles verloor het tydens ‘n brand of watervloed nie.  Die bietjie wat hulle besit het, dié verloor hulle ook nog.  Klein kindertjies wat bibberend en bewend in die reën staan terwyl hulle ouers probeer om alles droog te kry.

Volwasse mans en vroue wat huilend voor die vuur genade probeer vind om die bietjie besittings te red wat hulle in ‘n reddelose tydperk bymekaar gemaak het.  Wat die volgende dag tussen as en sand en gebuigde plate opsoek is na iets wat weer gebruik kan word. Wetend dat met die werkloosheid wat hoogty seëvier in Suid-Afrika die kanse maar skraal is om weer van voor te begin.

En as jy hulle vra hoe dit gaan, sê hulle gewoonlik dit gaan goed.  Hoe moet ons ons nie skaam nie.  Ons kla nie met die witbrood onder die arm nie, maar sommer met ‘n hele bakkery.  Hoeveel keer gooi ons nie net weg omdat dit nie meer vir ons mooi is nie, of uit die mode geraak het nie.  Wetend dat daar daagliks mense is wat alles, alhoewel ‘n druppel in die emmer in vergelyking met wat ons het, verloor.

Volgende keer as ons weer wil kla, laat ons eers dink aan hulle wat nie so bevoorreg is soos ons nie.

Dalk sal ons dán weer meer waardeer wat ons het.

 

 

Ooh heh-eh

1148456960b4vQ9R[1]Ek is mal oor die “two tenners” advertensie. Op hierdie stadium dink ek (persoonlike opinie) die advertensies op televisie is baie beter as die meeste programme.

So ‘n rukkie terug was die een van die wit gesin wat vir jare lank in ‘n bunker gebly het (en baked beans geeet het) ook klassiek.  So ‘n jaar of drie terug was dit die Wimpy se koffie-advertensie vir my tops.  Wie onthou nog die verliefde paartjie en die koffiename? Die beste was haar woorde aan die einde “Oooo ???, I love it when you talk foreign.” 

Wie (gee ek my ouderdom weg) kan nog die Sanlam-advertensies onthou met die babas? Dit was ‘n groot wenner.   Onwillekeurig dink ek terug aan die “braaivleis, sonskyn en Chevrolet” advertensie.  Onlangs kom ek af op ‘n advertensie in ‘n stokou koerant van KFC.  ‘n “Family Bucket” het iets soos R6.88 gekos.  Een stukkie hoender ongeveer 25c.

Toe ek ‘n kind was, het bruin brood 7c en ‘n wit brood 9c gekos.  Melk was 11c ‘n liter.  Ons skoolgeld (per kwartaal) R2.  ‘n Treinkaarjie retoer (Kaap toe en terug) R11. Jy kon 20 Chappies koop vir 5c, viennas en chips 15c en kon gaan fliek (en heelagter saam met die rokers sit) vir 15c.

My eerste (2de handse) karretjie het ek vir R100 gekoop, R3 se petrol ingegooi en die hele maand daarmee rondgerits.  Skaap het R2.10 p/kg gekos.  Woonstelhuur R250.  Goeie ou dae.

Botter het nog soos botter geproe en brood by die bakkery op die hoek gekoop en melk in glasbottels by die melkery met koepons.  In vandag se tye word limonade met kunsmatige geurmiddels gemaak en meubelpolitoer met 100% suiwer suurlemoensap. Vreemd!

Ek kan vir ure aangaan.  Raak sommer nostalgies.  Verlang na die dae toe ons op ‘n kombers gele het en die sterre bekyk (daar was toe nog nie televisie nie).  Lekker oor die draad met die bure gekuier, vandag weet ek nie eers wie is my bure nie.

Tye het verander.  Baie nuwe dinge het op die mark verskyn.  Sommige goed ander minder goed . . . en die mens pas maar aan.

Ek is baie beindruk met al die nuwe tegnologie op die mark wat gedurig geadverteer word.  Wonder net soms of ons in die proses nie van ons menswees verloor het nie?  Maar nou ja, as daar nie internet en webtuistes, blogs en rekenaars was nie sou ek nou nie so lekker op die naat van my rug kon le en gesels nie!!