Wensdenkery

Vir eenkeer in ‘n lang tyd kon ek my naggloede nie die skuld gee vir nat hare, nat rug en nat kussing nie. Ek was nog nooit so bly om wakker te word soos vanoggend nie. En my weer eens te laat besef die spreekwoord, “oppas vir wat jy wens, jy mag dit dalk net kry!” regtig, regtig waar is.

Vir die van julle wat my ken, sal weet dat ek geseënd is met ‘n brose lyfie en dat ek met verloop van tyd vrede gemaak het daarmee. Nie dat ek al ooit gewens het ek kan soos Twiggy lyk nie (dit is darem ook te maer) maar soms as ek die jongmense so kyk met hul dun lyfies en min klere – veral in hierdie hitte – dis dan dat ek wens ek was so bietjie dunner.

So droom ek mos laasnag ek het ‘n ander lyf. Moenie my vra hoe het dit gebeur nie. Sover ek kan onthou moes ek met ‘n ander vrou geruil het. Was dit maar so maklik! Ek was erg opgewonde in my droom, ek kon weer my voete sien, ek kon rotse uitklim, ek kon saam met iemand anders ‘n stoel deel en so voorts.

Winkels toe was natuurlik my eerste prioriteit. Daar aangekom gryp ek die klein nommertjies van die rakke af. Sulke pikante goedjies. Ek dink ek het party van daardie klein nommertjies gesien toe ek laas op laerskool was! Dit is spaghetti-strêppie-toppies, bloesies wat my middeltjie wys, jeans wat op die heupe lê en die gepaste ondergoedjies. Het amper aan my dieetdrankie verstik (vet word sou ek nie weer nie) toe ek sien wat betaal ‘n mens vir so ‘n stukkie lappie!

Wat ‘n skok toe ek in die spieël kyk. Ek het nie net die lyf gekry van die ander vrou nie, maar ook haar hare! Ek kan niks daarmee uitrig nie. Maak nie saak of ek gel, “tease”, draai, blaas, spuit of stryk nie.

Asof dit nie genoeg is nie, sit daar hare op plekke wat ek nie gedink het hare kan sit nie. Van die plekke sal ek maar uit ordentlikheidshalwe nie hier herhaal nie. Maar in my droom het ek besef geen haarverwyderaar sal die onooglike hare op die mees “weirdste” plekke verwyder nie. Miskien dalk die tussen my tone.

Dis toe dat ek begin paniekerig raak. Sê nou maar net die ander vrou wil nie my lyf teruggee nie. Wat gaan ek dan maak? Ek was nog so besig om rond te hol in my drome, dalk was dit hoekom ek so gesweet het, om die vrou te vind want ek het besef dat ek eintlik heel tevrede was met my lyf. Ek het tenminste geweet wat en hoe om my hare te hanteer, danksy my haarkapster en ek het nie onooglike hare op snaakse plekke gehad nie.

Genadiglik skrik ek toe wakker. Eerste beweeg my hande bewerig oor my ronde heupe, my “seksie”-maag en my tone. Met ‘n glimlag vee ek oor my deurmekaar nat hare en ek sug en wil sommer sing, “my lyf is weer myne!” Nog nooit was ek so bly om myself te sien nie!

Vanoggend is ek sommer diep dankbaar vir alles aan my. Skete, pyne, velle, rolle, grys hare, lelike voete, geswelde bene in die hitte. Elke sentimeter van my lyf is MYNE!! Saam met die blydskap weet ek ook dat ek nooit, nooit weer sal wens dat ek iemand anders se lyf kan hê nie.

Sexy klere of “te not”!

Kopiereg voorbehou

Lodewyk . . . baas van die plaas . . .

So ontmoet ek toe uiteindelik die haan van die laan, of eerder die baas van die plaas.  En hy regeer die plaas behoorlik – met ‘n ysterhoef.  Jonk en oud is vir hom doodbang.  Lodewyk – een ou bul, nou wel ‘n stoetbul, maar in my oё bly hy maar net ‘n bul.

Wanneer jy van hom af wegloop (so hoor ek), draai jy nie sommer jou rug op hom nie.  Hou jy hom hier uit die hoek van jou oog dop.  Net vir ingeval hy besluit hy wil jou regsien. Net omdat hy kan.

Lodewyk is geskuif van afsondering (grotendeels vir sy eie gesondheid en aan die anderkant vir die mense op die plaas se veiligheid) na die koeikamp.  Nou is hy besig met “onderhoudwerk”, die taak waarvoor hy aangeskaf is.  Hy het ‘n klomp koeie wat hy moet gelukkig hou.

Moenie dink dit laat sy gemoed bietjie sak nie.  Mens sou dink met so ‘n vooruitsig behoort hy van oor tot oor te glimlag. Nee, o griet, die arme bul is nou tienkeer erger.  Mens sou sweer dis slawe-arbeid. So vat manlief my die naweek om vir Lodewyk te gaan kyk.

Eers moet daar ‘n strategie uitgewerk word.  Vyf treё vorentoe, en dan eers bietjie stilstaan.  As Lodewyk met sy rug na ons toe staan, moet ons tien treё vinnig vorentoe en drie treё na links beweeg.  Kyk hy vir jou, moet jy hom nie in die oё kyk nie.  Ek oordryf bietjie, maar dit is omtrent net so erg.

Dis toe net daar wat ek my vererg.  Wie dink Lodewyk is hy nou eintlik?  Ek meen, wie kyk dat hy elke dag vars water het? Wie kyk dat die voerkuil behoorlik volgens formule gemeng word vir sy spesiale dieet sodat hy kan stamina hê vir sy lewenstaak?  Wie kyk dat sy waterkrippe skoon is, sy kamp se drade heel is?  (Ek moet erken – ek sou ook sy kamp se drade gaan heelmaak het – dis veiliger).

Al wat nog kort is dat die plaasbestuurder en sy personeel voor hom moet buig as hulle hom sien.  Windgat is ‘n mooi woord.  Arrogant dalk ‘n beter keuse.  Toe ons hom (ons was nog in die boomlaning) nader – hy het ons seker geruik – hoor ek hom snortend geluide maak.  Hy begin blaas en die koeie begin vroetel.  Ek dink weer by myself – dis verregaande.  Hoe kan een bulletjie soveel mag hê?  Die flippen ding kan nie eers praat nie.

Daar staan Lodewyk in al sy glorie.  Dis nie dat hy so groot is as wat ek gereken het nie, dit is sy houding.  Dié is groter as groot.  Wilder as die wildtuin. Hy blaas en hy skoffel en kap met sy hoewe in die grond.  Dis net stof.  Hy druk die koeie met sy groot kop weg van die draad.

Die koeie is skoon beteuterd.  Hulle hyg na asem en trippel senuagtig rond.  In my verbeelding sien ek hoe lawe hulle mekaar met lanfer-lappies.  Lodewyk is op dreef – hy paradeer langs die kamp se draad, gee ons sulke vuil kyke en beloof ons allerhande dinge met sy liggaamstaal (en in duidelike snork-taal) as ons dit sou waag om nader te kom.

Aan die anderkant van die kamp is manlief net so hard besig om te snork en om my agter hom te probeer hou.  Hy moet sy eie koei beskerm.  Hy is nou wel nie (meer) ‘n stoetbul nie en ek nie meer die jong vrugbare koeitjie nie, maar ons het net mekaar.

Ek lag stilletjies tog te lekker.  Lyk my dit is maar hoe dit is – met mans.  Elkeen beskerm maar net wat syne is.  Tot die dood toe. Ons vroue kan maar agteraf tongklap en kopskud, maar eintlik geniet ons die hele gedoente.  Dit laat ons tog veilig en bemind voel.

Met Vadersdag om die draai is dit dalk nou net die tyd om daardie bul in jou lewe behoorlik te bederf.

(Die storie het ek seker so byna twee jaar terug geskryf vir ‘n ander blad, maar dit bly een van my gunstelinge gebeurtenisse)     Foto :  The one and only Lodewyk . . . .