Oplossings vir die winter, resessies en ander oorlewingsprobleme . . .

 

hibernation-dormouse

Almal trek swaar.  Om te oorleef met die huidige pryse van kos en brandstof, is nie vir sissies nie.  Jy moet hare op jou bors, tande en rug hê!  Ek hoor gisteraand ‘n advertensie op televisie waar hulle die mense vertel dat trou vandag nog ‘n “bargain” kan wees.  As alles in aggeneem word, en dit sluit trouring en wittebrood uit, kan hulle ‘n troue reël vir ‘n bedrag tussen R40 000 en R45 000.  Ek het amper regagteroorgeslaan.  Dit sal my heeltemal van trou afsit.

Die armes word nog net armer.  En met die resessie is daar nie eers vinnig iets op die horison wat ons met ‘n lig kan sien nie wat uitkoms kan bring nie.  Waar sny jy?  Wat los jy?  Ons móét eet, ons móét ons kinders skooltoe stuur, ons móét by die werk uitkom.  Ons móét warm water hê om te bad, ons móét krag hê om te kook. En ons voel skuldig as iemand vir ‘n stukkie kos kom bedel en jy dink by jouself “hierdie vier snytjies brood is broodnodige kos vir my gesin”!

My hart breek as ek die pensioenarisse met hulle karige pensioentjies in die winkels sien.  Hulle draai en draai en draai daardie artikel om en aan die einde beland dit maar weer net op die rak.  Selfs mieliemeel kos deesdae ‘n fortuin.  Doodgaan is ook nie ‘n opsie nie, want begrafnisse kos baie geld.

Iets wat ek deesdae ondervind is dat mense grappies maak omtrent hulle omstandighede. Die een ou sê nou die anderdag, hy praat maar min deesdae want hy spaar dit vir die moeilike tye wat voorlê.  ‘n Ander spog en sê hy het gister wors gebraai – dit is deesdae ‘n luuksheid.  Die Huisgenoot se randrekkers raak deesdae ‘n broodnodige resepteboek in ons huise.

Die slim mense sê mos hoeka ons gebruik humor om ons deur krisisse, rampe en swaarkry te help.  Dit is toe dat ek dink my plan om die winter, resessie en ander finansiële probleme uit te wis, is nogal ‘n grênd plan.  Hibernasie. Winterseisoen. Vir tenminste ‘n hele paar maande.

Dink net, as Suid-Afrika elke jaar 3-4 maande kan hiberneer, wat sal dit nie vir ons beteken nie.  Soveel probleme kan in daardie tydperk aangespreek word.  Die moontlikhede is legio!!!  En boonop kan ek genomineer word vir ‘n Nobelprys!

Eerstens kan ons almal genoeg rus kry.  In hierdie drie maande hibernering is jou verlof ingesluit, asook alle publieke vakansiedae en naweke.  Siekverlof, kraamverlof en spesiale verlof.  Skoolsiek ook.  Die res van die jaar moet ons skouer aan die wiel sit.  Sodoende is daar ook nie tyd vir misdrywe en kriminele aktiwiteite nie.

Tweedens kan die natuur weer herstel.  Bome kan groei, velde kan herstel en diere kan rus. Implemente en voertuie kan tot stilstand kom en sodoende kan die osoonlaag ook weer tot normaliteit terugkeer.  As daar nie gasse vrygestel word nie, is daar niks wat die osoonlaag irriteer nie.

Ons liggame kan herstel en nuwe selle kan groei en regmaak wat binnekant verkeerd loop.  Ons kan van oortollige gewig ontslae raak wat dan ook terselfdertyd ander mediese probleme uitfasseer soos hoë bloeddruk, cholesterol (van al die ryk kosse wat ons in die winter verorber), stresverwante siekte en padwoede.

Inflasie kan beter beheer word (niemand kan koop in daardie tydperk nie) en dink net watter groot besparing kan ESKOM maak.  Geen verwarmers, elektriese komberse en warmwatersilinders wat ooreis word nie.

Uiteindelik sal daar minder oorloë wees.  Niemand gaan tog lus wees om na 3-4 maande se heerlike ontspannende slaap weer aan die gang te kom om verder oorlog te voer nie.  Daar skakel ons sommer ook die moontlikheid van oorlog uit aangesien 8 maande nie die moeite werd is om so ‘n perd op te saal nie.

Ek weet dit klink na heerlike dagdromery en “snert”, maar dit is nie.  Gaan sit en dink mooi oor al die voordele hieraan verbonde.  Ek, persoonlik, kan nie dink aan een nadeel nie!

Foto : Internet

Kopiereg voorbehou

 

Mona Lisa

 

Oor 'n koppie koffie

Gister het ek na mooi prentjies op die internet gesoek en kom af op ‘n paar van Mona Lisa.  In my stilligheid wonder ek.  Sy is nie juis ‘n model nie.  Ook nie maer nie en het nou nie juis die mooiste klere aan nie – maar sy is verreweg seker die vrou waarvoor die meeste betaal is. 

Hoe meer ek na haar prentjie kyk, hoe meer voel ek soos sy. Besef ek ons twee het heelwat in gemeen. Daar is ‘n Mona Lisa in elkeen van ons.  Is ons ook maar die Mona Lisa’s van die wêreld, van ons eie lewens.  Van omstandighede.  Produkte van ons keuses, reg of verkeerd.  Kan ons ons vereenselwig met haar.

1              Sy  is ‘n vrou. 

2              Sy is nou nie eintlik ‘n oil painting nie.  Al is sy in olie geverf. 

3              Sy is ‘n misterie.  Niemand weet veel van haar nie.

4              Daardie beroemde glimlaggie weerspieël nie eintlik iets van haar emosies nie.  Weet sy dalk iets wat ek nie weet nie, of hou sy maar net haar “pose”.

5              Sy dien as versiering.

6              Sy maak baie mense gelukkig.7              Sy is alombekend, van my ou-oumagrootjie tot my vriendin se kleuter weet wie en wat is die Mona Lisa.

8              Sy is kosbaar en waardevol.

9              Sy is ‘n internasionale ikoon.

10           Sy het ‘n hart wat kan seerkry, liefhê en bly wees oor mooi goeters.

Besef ek dat daar baie Mona Lisas is wat op hierdie aarde rondloop.  Ek sien hulle elke dag – ek praat met hulle elke dag.  Van hulle is my familielede, my vriendinne, my kennisse.  Die vrou agter die toonbank, die ma wat haar kind by die skool gaan optel, die wasgoed ophang, kosmaak vir haar gesin en haar eie drome en vrese het.

Ons lewe is soos ‘n skoon skilderdoek.  Verf ons die prentjie van ons eie Mona Lisa beeld daarop.  Vir ander is ons lewe ‘n toe boek, maar een ding staan soos ‘n paal bo water – al hierdie punte hierbo kan ons in ons eie lewe mee identifiseer. 

Las elkeen van ons ‘n kleurtjie by die lewe daarbuite en laat ons ‘n geurtjie agter.  Wit kan nie uitstaan as daar nie swart is om dit teen te meet nie.  Hartseer kan nie oorwin word as daar nie vreugde is wat ons motiveer nie.  Ons kan ïnspireer, aspireer en in die meeste gevalle, perspireer. 

Soms wonder ek of die vroue in die middeleeue wat as hekse verbrand was – nie eerder ‘n bedreiging vir die man en die kerk was nie.  ‘n Vrou is spesiaal, ons kan (en kon destyds al) ons mense gesond maak met kruie, die tye van die weer bepaal met die maansiklusse (wie weet beter van maand(stonde)siklusse as ons) en kon ‘n hele huishouding/besigheid/huwelik/gesinslewe/versorger/voortplanting/raadgewer/trooster vrou-alleen hanteer. 

Vandag word mense (meestal mans) professionele fooie vir al hierdie beroepe betaal – finansiële adviseurs, besigheidskonsultante, huwelikberaders, gesinsadvokate, dokters, ginekoloë en sielkundiges.  Ons doen dit al van die eerste dag wat Eva geskep is.  “Been there, done that” en het al die t-hemde om dit te wys!!

Ons is ook nie bang om te wys ons gee om of stel belang in ‘n ander vrou nie.  Ons kan mekaar komplimenteer oor ons klere, haarstyle, juwele, suksesse sonder dat ons bang is die wêreld kyk vir ons skeef (so reken mans).   Het jy al gesien dat een man vir ‘n ander sê “Jis ja, daai jean sit darem netjies aan jou lyf!” ?  Of “jinne, maar jou hare lyk stunning, wie is jou haarkapper – jy moet tog  sy nommer vir my gee!!”  Behoede my!

Ons aanvaar makliker, vergeef makliker, help makliker, verstaan makliker.  Ons huil makliker, lag makliker en kry makliker lief.  Ek weet ek kla soms oor die “vroudinge” – menstruasies, beenhare verwyder, onderklere wat druk en span – maar gee my enige dag die lewe van ‘n vrou!

Ons is vroue – ons kan want ons MAG!

Lorraine