Foto-Pretsel Nr 18

wolke

Daar is darem min dinge wat my gemoed so goed doen soos ‘n reenbui.  Wanneer die groot druppels plons op my stoep se sinkdak en die donderweer rammel in die verte en ek ruik die dankbaarheid van die aarde in die reuk van die grond, is dit trooskos vir my siel.

Gelukkig le ons somerreens nog voor . . . ek wag in afwagting.

Valentynsdag . . . ‘n finansiele uitgawe of ‘n liefdesgawe . . .

love 3Daar is skielik ‘n vonkel in die lug. Oral in winkelvensters is daar hartjies en liefdesengeltjies om ons te herinner, ook vir party wat vergeet het (mans) dat dit een dag is waar ons vroue graag van ons geliefdes wil hoor en hul liefde wil sien – letterlik – dat hulle ons liefhet en bewonder.

Bloemiste en restaurante kan nie voorbly nie en maak slim uit hierdie geleentheid ‘n finansiële wins. Dit is nie noodwendig sleg nie. Dalk is dit goed dat ons gedwing word om vir een dag bietjie stil te staan en weer voorraadopname te neem van ons prioriteite en van ons geliefdes en liefdeslewe.

Partydae voel dit vir my asof ons prioriteite bietjie windomkeer is. Ons gee geld vir organisasies, rugbyspanne, behoort aan bewaringsgroepe, ons koop die T-hemde, vertoon dit aan ons lyf sodat almal kan sien ons gee om, maar sodra dit by die liefde in jou lewe kom, sien ons dit as ‘n geldmaakbesigheid en weier om deel te wees daarvan. Ja, ek is bewus van die feit dat die geld na die eienaar se sak toe gaan, maar dit is nie die punt nie.

Dit is min genoeg gevra om een dag af te staan en vir diegene rondom ons te wys ons het iemand spesiaals in ons lewe. Dit is mos beter om NOU die blomme en drukkies te gee as om eendag met blomme by ‘n oop graf te staan en te smag na jou geliefde se nabyheid.

En terwyl ek skryf hoor ek al die diep, desperate gesug van menige mans. Waarom al hierdie bohaai oor iets wat ons vroue mos weet? En soos een man dit gestel het, hy sal sy vrou laat weet wanneer hy nie meer vir haar lief is nie, tot dan toe weet sy mos hoe hy oor haar voel!

Ek het onlangs ‘n video gekyk waarin die pa aan sy dogter verduidelik dat eintlike liefde dít is wat oorbly na die passie uitgewoed het. Ek dink tog die meeste vroue verlang nog altyd na die “romanse” in hul lewe, al is die passie uitgewoed. Dit is juis dan nodig om die “ou liefde” weer op te kikker.

Al kan ‘n mens nie sien jou motor makeer iets nie, neem jy hom (of is dit eintlik ‘n haar?) tog gereeld vir ‘n diens. Maak jy jou motor gereeld skoon, sit jy nuwe bande op en gee gereeld olie. Sodat jou motor saam met jou end-uit die pad kan loop. Waarom dan nie ook gereeld na jou geliefde omsien nie?

Vroue word soms stroperig gesien, minderwaardig-bewus van die mans se liefde vir hulle. Maar dit gaan eintlik oor veel meer as dit. Ons is nie mans nie, ons reageer anders oor die liefde as mans. Liefde begin vir ‘n vrou in haar hart. Sy wil weet sy word raakgesien, sy wil hê ander moet sien sy is geseën met liefde. Sy wil voel haar geliefde is nog net so mal oor haar soos in die dae toe hy haar nog die hof gemaak het met blomme en verrassings. Hoekom dan na ‘n ruk ophou hiermee?

Maak nie saak hoe die meeste mans voel oor hierdie dag nie, maar dat dit defnitief ‘n vonkel in vele vroue se oë sit (ook tot voordeel van die mans in hul lewens) is ‘n feit. Dalk moet ons onthou dat vroue van nature die versorger is en daarom op hierdie dag net so bietjie erkenning wil ontvang – juis oor die liefde van haar maat – en nie noodwendig omdat sy goed na sy huis en sy kinders omsien nie.

Sien dit as deel van jou versekeringspremie. Jou kosbaarste besittings wil jy mos teen alle kwaad (diefstal, brand ens) beskerm. Jy weet jou besittings is veilig, maar jy wil net seker maak dat daar dekking is vir dié dag wat daar dalk iets verkeerd kan loop. Gemoedsrus en waarborg sodat jy rustig deur die jaar jou gang kan gaan.

Belê in jou liefde, die renteopbrengs is altyd die moeite werd, veel meer as rand en sent. Die vrugte daarvan sal jy nog lank kan pluk. Ons hele menswees bestaan uit verhoudings. Liefde vir God, jou lewensmaat, jou kinders, familie en vriende, jou medemens, jou passies en die natuur. Niemand van ons kan sonder die liefde nie. Van die dag wat jy gebore word tot die dag wat jy sterf.  Hoe hard jy ookal daarteen stry.

Dit geld ook vir die mans in ons lewens. Bederf hom, maak hom weer bewus van jou, sit ‘n vonkel in sy oog en laat hom voel hy is die enigste een in jou lewe. Vertel hom hoe hy jou laat voel. Dit lyk dalk nie so nie, maar hulle wil ook weet hulle doen dit nog vir jou.

En meneer, verras haar dus nou en dan deur die jaar met blomme, ‘n bottel vonkelwyn of ‘n kersligete – selfs by die huis – en laat haar voel sy is vir jou nog net so spesiaal soos die dag wat jy haar verower het!
©

Foto : Internet

‘n Nuwe begin . . .

Bloemfontein               Vreemd hoe die lewe jou skommel.  Ons het 16jr gelede besluit om Kaap toe te kom.  Die kinders was klein, ons wou by die see bly.  Ons het geskuif.  Met die idee om hier by die see te kom aftree.  En ons het amper – tot die resessie gekom het.  Bouwerk in die kusdorpe het feitlik opgedroog, manlief (wie se ambag messelaar is) moes kompeteer met eks- polisiemanne, onderwysers, staatsamptenare wat ook begin bou het en dan kan jy nie meer appels met appels vergelyk nie.

Geleenthede in die Vrystaat is gunstig vir ons, ek het ‘n lekker werk losgeslaan en begin eersdaag daar.  Dit bring mee groot veranderings. Ons moet trek, ons gaan na ‘n kleiner woonplek tot ons weer finansieel sterker is, ek moet dierbare en goeie vriende hier prysgee, ek moet die berge en die see koebaai sê, my katte moet agterbly omdat ons na ‘n woonstel of meenthuis moet gaan.  Hulle ken nie perke nie.  My hart breek in stukke. 

MAAR aan die anderkant is my kinders, my jongste en sy vrou in Bloemfontein, die oudste in Pretoria.  Ons gaan mekaar meer sien, meer beleef – iets waaroor ek uitgehonger is.  Om jou kinders vir ‘n Sondagmiddagete om jou tafel te kan hê (of ons om hulle tafel) is ‘n voorreg wat min ouers het wat getroude kinders het.  Om my oudste een keer ‘n maand te sien in plaas van een keer per jaar is ‘n groot geskenk. 

Hierdie afgelope jaar het ons geboelie en gekarnuffel, maar ek dank die Here dat ek en manlief nog saam hierdie skuif kan maak.  Dit was ‘n harde jaar, finansieel en gesondheidsgewys.  Maar nou kan ons vorentoe kyk.  Die Here is goed vir ons.

As daar van julle lesers is wat in Bloemfontein bly, en julle is lus vir koffie en nie vir kuberkoffie nie, bel my.  Ek maak altyd ‘n plan vir ‘n geselsie!!