Wensdenkery

Vir eenkeer in ‘n lang tyd kon ek my naggloede nie die skuld gee vir nat hare, nat rug en nat kussing nie. Ek was nog nooit so bly om wakker te word soos vanoggend nie. En my weer eens te laat besef die spreekwoord, “oppas vir wat jy wens, jy mag dit dalk net kry!” regtig, regtig waar is.

Vir die van julle wat my ken, sal weet dat ek geseënd is met ‘n brose lyfie en dat ek met verloop van tyd vrede gemaak het daarmee. Nie dat ek al ooit gewens het ek kan soos Twiggy lyk nie (dit is darem ook te maer) maar soms as ek die jongmense so kyk met hul dun lyfies en min klere – veral in hierdie hitte – dis dan dat ek wens ek was so bietjie dunner.

So droom ek mos laasnag ek het ‘n ander lyf. Moenie my vra hoe het dit gebeur nie. Sover ek kan onthou moes ek met ‘n ander vrou geruil het. Was dit maar so maklik! Ek was erg opgewonde in my droom, ek kon weer my voete sien, ek kon rotse uitklim, ek kon saam met iemand anders ‘n stoel deel en so voorts.

Winkels toe was natuurlik my eerste prioriteit. Daar aangekom gryp ek die klein nommertjies van die rakke af. Sulke pikante goedjies. Ek dink ek het party van daardie klein nommertjies gesien toe ek laas op laerskool was! Dit is spaghetti-strêppie-toppies, bloesies wat my middeltjie wys, jeans wat op die heupe lê en die gepaste ondergoedjies. Het amper aan my dieetdrankie verstik (vet word sou ek nie weer nie) toe ek sien wat betaal ‘n mens vir so ‘n stukkie lappie!

Wat ‘n skok toe ek in die spieël kyk. Ek het nie net die lyf gekry van die ander vrou nie, maar ook haar hare! Ek kan niks daarmee uitrig nie. Maak nie saak of ek gel, “tease”, draai, blaas, spuit of stryk nie.

Asof dit nie genoeg is nie, sit daar hare op plekke wat ek nie gedink het hare kan sit nie. Van die plekke sal ek maar uit ordentlikheidshalwe nie hier herhaal nie. Maar in my droom het ek besef geen haarverwyderaar sal die onooglike hare op die mees “weirdste” plekke verwyder nie. Miskien dalk die tussen my tone.

Dis toe dat ek begin paniekerig raak. Sê nou maar net die ander vrou wil nie my lyf teruggee nie. Wat gaan ek dan maak? Ek was nog so besig om rond te hol in my drome, dalk was dit hoekom ek so gesweet het, om die vrou te vind want ek het besef dat ek eintlik heel tevrede was met my lyf. Ek het tenminste geweet wat en hoe om my hare te hanteer, danksy my haarkapster en ek het nie onooglike hare op snaakse plekke gehad nie.

Genadiglik skrik ek toe wakker. Eerste beweeg my hande bewerig oor my ronde heupe, my “seksie”-maag en my tone. Met ‘n glimlag vee ek oor my deurmekaar nat hare en ek sug en wil sommer sing, “my lyf is weer myne!” Nog nooit was ek so bly om myself te sien nie!

Vanoggend is ek sommer diep dankbaar vir alles aan my. Skete, pyne, velle, rolle, grys hare, lelike voete, geswelde bene in die hitte. Elke sentimeter van my lyf is MYNE!! Saam met die blydskap weet ek ook dat ek nooit, nooit weer sal wens dat ek iemand anders se lyf kan hê nie.

Sexy klere of “te not”!

Kopiereg voorbehou

Ek is goedkoop en maklik . . .

Fashion-Jewelry

Dis nie altyd maklik om bekend te staan as ‘n goedkoop en maklike meisie nie.  Die wêreld en sy mense kan gou sy rug op jou draai.  Veroordeel hulle jou nog voor hulle die hele storie agter die storie gehoor het.  Ek weet waarvan ek praat, is al self daardeur. Ek weet hoe dit voel as mense hul neus optrek en anderpad kyk as jy in ‘n vertrek instap.

Op my ouderdom het ek al geleer om nie meer notisie te neem van sulke mense nie.  Dis maklik as jy net jou vingers kan klap en die manne met geld letterlik op hul knieë voor jou kniel vir jou aandag.  Ek weer, moet maar tevrede wees om self die aanvoerwerk te doen.  Kyk van hulle jou ook maar uit die hoogte aan.  Soos ek sê, ek weet hoe dit voel om goedkoop en maklik te wees.

Al wat ek vra is dat mense my eers beter leer ken,  sal verstaan wie en wat ek is voordat hulle die oordeel fel.  Elkeen van ons is tog uniek, nie die beeld van ‘n massaproduksie nie.  Buitendien wil ek ook nie een van die massas wees nie.

Daarom is ek so bly kostuumjuwele is weer hoogmode.  Gelukkig al vir ‘n tydperk en ek hoop sommer nog vir lank. Oor die jare het ek ook gesukkel om weg te kom van dit waarmee ek grootgeword het – selfs silwer was iets waaraan ek eers gewoond moes raak.

Ek het die gewone goue juwele gehad, trouring, armband, horlosie en een of twee pare oorringe. Kon nooit verstaan hoekom vroue so kopverloor oor nog ‘n goue ring nie.   Ek is gewoonlik mosterd na die maal en teen die tyd wat silwer my uiteindelik beetpak, kom kostuumjuwele en ek raak hopeloos verslaaf.

Daar is nog altyd mense wat ‘n weersin het in alles wat nie goud is nie, en soms as ek by ‘n vertrek inkom, sien ek hoe hulle my bekyk, van kop tot tone, vol ongeloof dat ek dit oor my hart kry om goedkoop kostuumjuwele te dra.  Soos ‘n vrou eendag vreeslik meerderwaardig (voor haar goudbeslaande vriendinne”) gesê het : “Ek belê eerder in goud, dis meer waardevol en is vir ewig – en dit gaan eendag as erfstukke vir my dogters!”  Die “erfstukke” was so onder my neus ingevryf.

Ai tannie, ek is jammer om te hoor van jou probleme.  My skoonma het altyd gesê “to each his own” en ek stem daarmee saam.  Ek het geen persoonlike juwelier wat sy meesterstukke teen ‘n huis se prys op sy knieë voor my kom tentoonstel nie.

Geniet maar jou goue erfstukke (sê nou jou kinders verkoop dit na jou dood en koop dan goedkoop kostuumjuwele?), my seuns moet maar self vir hulle vroue goue stukkies koop as hulle daarvan hou.  Ek vrek oor my kostuumjuwele want dit is goedkoop en boonop is dit maklik om self te maak.

Ek dink die mans wat my boonop so uit die hoogte kyk, is maar net moedeloos as hulle my sien, want ek kan nie ophou krap en kyk totdat ek al die stukke onder hande geneem het nie. Buitendien het ek nuus vir die goudbeslaande tannies – ek het sommer groot planne met my kostuumjuwele nadat ek my kop vir die laaste keer gaan neerlê.

My haarkapster gaan my hare mooimaak, my gesig inkleur en my behang met kostuumjuwele voor hulle die kis se deksel toemaak.  Die res moet sommer so op my lyf neergeplaas word.  Oor ‘n duisend jaar as hulle my opgrawe en my kis oopmaak moet hul eerste gedagte wees, “Hier lê defnitief ‘n PRINSES!”

(Foto : Internet)