Skaduwees

Ek het die anderdag so lekker gelag toe ‘n vriendin van my vertel van haar jongste dogter (destyds ‘n woelige drie-jarige) wat telkens probeer weghardloop het vir haar eie skaduwee.

Vandag toe ek weer daaraan dink, besef ek dat dit nie eintlik ‘n rare verskynsel is nie. Daar is van ons wat dit ook in ons daaglikse lewe toepas. Ons probeer van ons probleme ontslae raak soos ‘n akkedis wat sy stert afgooi as hy in gevaar verkeer.

En nou wonder ek maar net. Wie van ons het onlangs gekyk hoe lyk ons eie skaduwees? Nie die een wat jou op die grond volg as jy in die son loop nie, maar dié een wat saam met jou hart loop, die een wat jy saamneem kamer toe, in jou bed toelaat. Hy wat hom soos ‘n ongenooide gas aan jou opdring.

Probeer jy ook van hom vlug? Ek moet erken dat ek dit ook soms doen, maar sover nog sonder enige sukses. Is daar probleme in jou lewe waaroor jy maar liewer swyg, of selfs grappenderwys daarna verwys in die hoop dat dit sal weggaan? Maar vanaand, wanneer almal slaap en die huis stil is soos ‘n grafkelder en jou onwelkome besoeker verskyn weer, weet jy jy kan nie daarvan wegkom nie, al probeer jy ook hoe hard.

Daar is seker niks so aaklig en eensaam soos absolute stilte wat al die skaduwees in jou hart kom laat bontstaan nie, stiltes waar jy net jou eie hartklop in jou ore hoor hamer. Al jou vrese, jou bekommernisse, jou gewete, ja, hulle almal het ‘n manier om sommer in neonligte voor my te kom staan.

Hulle praat met my, maan my aan, maak my bang, jaag my senuwees heeltemal op hol, tref my met ‘n ongekende waarheid sodat ek môre met ‘n swaar gemoed die nuwe dag moet in.

Nou is dit vir my duidelik hoekom party mense so met die verkeerde voet uit die bed klim vir geen skynbare rede nie. Dit het niks te doen met watter voet jy opstaan nie, maar alles met daardie middernag besoekers wat jou van ‘n goeie nagrus beroof.

Ons mense maak soos volstruise, ek inkluis! Ons druk ons kop in ‘n gat en dink as jy nie jou probleme in die oë hoef te staar nie, sal dit naderhand vanself weggaan. Wanneer jy jou kop eendag daar uittrek, staan die probleem nog altyd daar en wag, hande in die sye, hierdie keer net meer ongeduldig en haastiger en soms met ‘n nare trek op sy gesig.

Probeer om sommer vandag nog die probleem by die horings te pak, hoe hartseer, moeilik of onsmaaklik dit ookal mag wees. Ons kan en gaan geen vrede hê as ons dit aanhoudend ignoreer nie. Ons het die vermoë om iets, hoe gering ookal, aan ons vrese en bekommernisse te doen.

Miskien los jy nie al vandag alles op nie, maar elke dag wat jy daaraan werk, word dit stadigaan kleiner of makliker. En voor jy jou kom kry, lyk die hoop probleme heelwat hanteerbaar.

Is jy nog bekommerd oor die knop in jou bors? Of die pyn agter jou blad? Maak vandag nog daardie afspraak by die dokter. Of as jy vermoed jou kind gebruik dwelms, gaan soek onmiddellik hulp by mense wat weet en vir jou raad en leiding kan gee. Kry ‘n oplossing vir julle probleem. Vanself gaan dit nie regkom nie.

Dink maar net watter moeilike taak het daar vir Jesus gewag. Hy kon eenvoudig net nie daar verby nie. Wat sal van my en jou geword het as Hy die kruisdood probeer ontduik het? Hy het bloed gesweet, want Hy was ook bang. Hy het gebid by Getsemane, alleen, want Sy dissipels het aan die slaap geraak. En Hy kon die uiteinde nie vryspring nie. Hy móés net daardeur, vir my en vir jou.

Juis daarom kan ons met ons probleme na Hom toe kom, Hy verstaan – want Hy is self daardeur en anders as Hy, hoef ons nie alleen met ons probleme te worstel nie. Hy gee vir ons hulp en die nodige krag om oplossings vir ons probleme te vind.

Mooi dag vir julle.