Oplossings vir die winter, resessies en ander oorlewingsprobleme . . .

 

hibernation-dormouse

Almal trek swaar.  Om te oorleef met die huidige pryse van kos en brandstof, is nie vir sissies nie.  Jy moet hare op jou bors, tande en rug hê!  Ek hoor gisteraand ‘n advertensie op televisie waar hulle die mense vertel dat trou vandag nog ‘n “bargain” kan wees.  As alles in aggeneem word, en dit sluit trouring en wittebrood uit, kan hulle ‘n troue reël vir ‘n bedrag tussen R40 000 en R45 000.  Ek het amper regagteroorgeslaan.  Dit sal my heeltemal van trou afsit.

Die armes word nog net armer.  En met die resessie is daar nie eers vinnig iets op die horison wat ons met ‘n lig kan sien nie wat uitkoms kan bring nie.  Waar sny jy?  Wat los jy?  Ons móét eet, ons móét ons kinders skooltoe stuur, ons móét by die werk uitkom.  Ons móét warm water hê om te bad, ons móét krag hê om te kook. En ons voel skuldig as iemand vir ‘n stukkie kos kom bedel en jy dink by jouself “hierdie vier snytjies brood is broodnodige kos vir my gesin”!

My hart breek as ek die pensioenarisse met hulle karige pensioentjies in die winkels sien.  Hulle draai en draai en draai daardie artikel om en aan die einde beland dit maar weer net op die rak.  Selfs mieliemeel kos deesdae ‘n fortuin.  Doodgaan is ook nie ‘n opsie nie, want begrafnisse kos baie geld.

Iets wat ek deesdae ondervind is dat mense grappies maak omtrent hulle omstandighede. Die een ou sê nou die anderdag, hy praat maar min deesdae want hy spaar dit vir die moeilike tye wat voorlê.  ‘n Ander spog en sê hy het gister wors gebraai – dit is deesdae ‘n luuksheid.  Die Huisgenoot se randrekkers raak deesdae ‘n broodnodige resepteboek in ons huise.

Die slim mense sê mos hoeka ons gebruik humor om ons deur krisisse, rampe en swaarkry te help.  Dit is toe dat ek dink my plan om die winter, resessie en ander finansiële probleme uit te wis, is nogal ‘n grênd plan.  Hibernasie. Winterseisoen. Vir tenminste ‘n hele paar maande.

Dink net, as Suid-Afrika elke jaar 3-4 maande kan hiberneer, wat sal dit nie vir ons beteken nie.  Soveel probleme kan in daardie tydperk aangespreek word.  Die moontlikhede is legio!!!  En boonop kan ek genomineer word vir ‘n Nobelprys!

Eerstens kan ons almal genoeg rus kry.  In hierdie drie maande hibernering is jou verlof ingesluit, asook alle publieke vakansiedae en naweke.  Siekverlof, kraamverlof en spesiale verlof.  Skoolsiek ook.  Die res van die jaar moet ons skouer aan die wiel sit.  Sodoende is daar ook nie tyd vir misdrywe en kriminele aktiwiteite nie.

Tweedens kan die natuur weer herstel.  Bome kan groei, velde kan herstel en diere kan rus. Implemente en voertuie kan tot stilstand kom en sodoende kan die osoonlaag ook weer tot normaliteit terugkeer.  As daar nie gasse vrygestel word nie, is daar niks wat die osoonlaag irriteer nie.

Ons liggame kan herstel en nuwe selle kan groei en regmaak wat binnekant verkeerd loop.  Ons kan van oortollige gewig ontslae raak wat dan ook terselfdertyd ander mediese probleme uitfasseer soos hoë bloeddruk, cholesterol (van al die ryk kosse wat ons in die winter verorber), stresverwante siekte en padwoede.

Inflasie kan beter beheer word (niemand kan koop in daardie tydperk nie) en dink net watter groot besparing kan ESKOM maak.  Geen verwarmers, elektriese komberse en warmwatersilinders wat ooreis word nie.

Uiteindelik sal daar minder oorloë wees.  Niemand gaan tog lus wees om na 3-4 maande se heerlike ontspannende slaap weer aan die gang te kom om verder oorlog te voer nie.  Daar skakel ons sommer ook die moontlikheid van oorlog uit aangesien 8 maande nie die moeite werd is om so ‘n perd op te saal nie.

Ek weet dit klink na heerlike dagdromery en “snert”, maar dit is nie.  Gaan sit en dink mooi oor al die voordele hieraan verbonde.  Ek, persoonlik, kan nie dink aan een nadeel nie!

Foto : Internet

Kopiereg voorbehou

 

Warm tot baie warm . . .

11598503-children-fishing-in-a-river-nostalgic-aged-sepia-tone

Ek lê hier op my bed, ‘n waaier van die dak en een langs my en nogsteeds tap die sweet van my af.  Elke jaar as dit winter is sweer ek ek sal nie weer kla oor die somer nie.  Tot dae soos vandag.  My brose lyfie en my ouderdom kan nie meer die uiterstes hanteer nie.

Vandag verlang ek na ‘n plaasdam wat ons nooit gehad het nie.  Ek was altyd so jaloers as my maters na ‘n naweek terugkom koshuis toe en vertel van ure se plesier-swem in ‘n plaasdam.  Ek kon my net voorstel . . . ‘n gelag en ‘n geplons terwyl tortelduiwe op nabye takke sit en die gejillery aanskou.

Dis dae soos vandag dat ek wens waatlemoene was nog twee vir R20.  Soet en rooi as Pa dit in skywe sny.  Die waatlemoen-smeerdery agterna was baie pret.  En dan, as jy so taai is dat jou vingers aanmekaar kleef word die soet en die taai en die warm van jou lyf afgespuit met ‘n tuinslang.  Wat natuurlik weer vir nog pret sorg.

Dan is dit ook die dae wat ek roomyskarretjies mis.  Wat van veraf sy klokkie lui soos hy afkom in die straat.  En ma’s en pa’s rondskarrel om los sente te kry om vir elkeen ‘n vrugte-yssie te koop.  Of, as dit goed gaan . . . ‘n regte “cherry top” . . .

Ek mis die speletjies wat ons in die aande gespeel het.  Wegkruipertjie, vrot-eier, koljander-deur-die-bos . . . en die buurt se kinders wat almal sommer vir ai-tog-dis-lekker om die blok stap.  Niemand wat jou veiligheid bedreig nie.  Geen wonder obesiteit was nog nie so ‘n krisis nie. Ons het meer as genoeg oefening gehad.

Toe ek groter word, het ons saans na ete buite gesit.  Op tuinstelle wat sulke diamantpatroontjies op jou vel gemaak het.  Daar het ons gesit en soveel onthou-jy-nogs uitgepak.  Meestal het ons gelag dat die trane loop en soms het ons ‘n traan gepik oor iemand wat alreeds nie meer met ons was nie.

Drome is gedroom.  Alle vrese is besweer.  Alledaagse krisisse is in perspektief gebring en sou jy ‘n bietjie grootkoppig en hardkoppig wees het jou sibbe jou vinnig teruggebring aarde toe.  Daar was nie tyd vir houdinkies nie.

Buite het dit geruik na grond, na varsgesnyde grasperke, die chloor in die spreiers wat so tik-tik-tik die grasperke en akkers natlei.  En skoon lug.  Orals het jy mense gehoor lag, gesels, verby jou huis geloop en geselsies aangeknoop.  Almal het almal geken.  Vandag ken ek nogsteeds nie my bure nie.

Die samelewing van vandag misgun ons kinders om soos ons van ouds saans op die gras te le en na die sterre te kyk.  As die hitte jou uit die huis jaag, le ons almal op die gras op ons rug.  Soek ons komete en sterre-prentjies aan die hemelhange.  Skoon vergete van die hitte wat druk.

Ek mis ook die stoepslapery.  Waar jy jou matras uitpak op die stoep en in rus en vrede ‘n koele nagrus kon beleef.  Vandag is dit selfs onveilig in jou eie huis agter slot en grendel te slaap.

As die hitte te erg geraak het, het Pa ons in die kar gelaai en dorp toe gery waar ons “window shopping gedoen het” . . .  altans, die grootmense.  Ons kinders het na hartelus saamgedrentel, mekaar besig gehou . . . enigeiets net om van die hitte van die huis weg te kom.

Ek mis die sorgvrye dae van die somer.  Waar ons so besig gehou was dat die hitte selde ‘n stopstraat geword het.  Waar die hitte ons nie teruggehou het van pret en plesier nie.  Waar hitte jou gedwing het om die natuur te geniet.  Om nuwe dinge te ontdek.  Om jou humeur, jou gemoed en jou lyf af te koel.

Dis meestal in die hitte buite ons huis dat ek weer mens geword het.  In die teenwoordigheid van hulle wat vir my lief was en my aanvaar het vir wie ek is.

Fotobron : Internet

My “coping skills” of eerder . . . die tekort daaraan . . .

 

bol

Vandag het ek maar net weer besef . . . my “coping skills” is lankal nie meer wat hulle was ‘n paar jaar gelede nie.  Kom daar nou krisisse oor my pad tree die “fight or flight” in werking en is die kanse 90% groot dat ek eerder sal vlug.

Waar ek voorheen  sonder om tweekeer te dink my moeilikhede in die oe sou kyk en dit uitsorteer voel dit nou eerder asof iemand my vra om Tafelberg kaalvoet oor te steek met die geringste teken van ‘n krisis.  Ek kan dit skaars glo . . . waarheen het my vuur en vlam verdwyn?

Is dit die ouderdom?  Is dit die hormone?  Of is dit al die stres wat ‘n mens ophoop en nou is my potjie vol?  Het ek rigting verloor?  Glo ek nie meer aan my eie oordeel nie? Wat dit ookal is, dit maak die lewe vir my baie ingewikkeld.

‘n Goeie vriendin het egter nou onlangs vir my ‘n brief gestuur en die wyse  woorde gelaat  . . .

. . . maar nou ja, “in the end everything will be OK, and if it’s not OK, it is not yet the end…” 

O gaats, noudat ek daaraan dink . . . dis mos die eerste vol week wat ek weer moet werk na die kort vakansie . . . geen wonder ek voel so uitgeput en ingeduik nie.

Lekker slaap ~ more is Vrydag!!  Skielik lyk Tafelberg nie meer so groot nie . . .   😉

©