Wensdenkery

Vir eenkeer in ‘n lang tyd kon ek my naggloede nie die skuld gee vir nat hare, nat rug en nat kussing nie. Ek was nog nooit so bly om wakker te word soos vanoggend nie. En my weer eens te laat besef die spreekwoord, “oppas vir wat jy wens, jy mag dit dalk net kry!” regtig, regtig waar is.

Vir die van julle wat my ken, sal weet dat ek geseënd is met ‘n brose lyfie en dat ek met verloop van tyd vrede gemaak het daarmee. Nie dat ek al ooit gewens het ek kan soos Twiggy lyk nie (dit is darem ook te maer) maar soms as ek die jongmense so kyk met hul dun lyfies en min klere – veral in hierdie hitte – dis dan dat ek wens ek was so bietjie dunner.

So droom ek mos laasnag ek het ‘n ander lyf. Moenie my vra hoe het dit gebeur nie. Sover ek kan onthou moes ek met ‘n ander vrou geruil het. Was dit maar so maklik! Ek was erg opgewonde in my droom, ek kon weer my voete sien, ek kon rotse uitklim, ek kon saam met iemand anders ‘n stoel deel en so voorts.

Winkels toe was natuurlik my eerste prioriteit. Daar aangekom gryp ek die klein nommertjies van die rakke af. Sulke pikante goedjies. Ek dink ek het party van daardie klein nommertjies gesien toe ek laas op laerskool was! Dit is spaghetti-strêppie-toppies, bloesies wat my middeltjie wys, jeans wat op die heupe lê en die gepaste ondergoedjies. Het amper aan my dieetdrankie verstik (vet word sou ek nie weer nie) toe ek sien wat betaal ‘n mens vir so ‘n stukkie lappie!

Wat ‘n skok toe ek in die spieël kyk. Ek het nie net die lyf gekry van die ander vrou nie, maar ook haar hare! Ek kan niks daarmee uitrig nie. Maak nie saak of ek gel, “tease”, draai, blaas, spuit of stryk nie.

Asof dit nie genoeg is nie, sit daar hare op plekke wat ek nie gedink het hare kan sit nie. Van die plekke sal ek maar uit ordentlikheidshalwe nie hier herhaal nie. Maar in my droom het ek besef geen haarverwyderaar sal die onooglike hare op die mees “weirdste” plekke verwyder nie. Miskien dalk die tussen my tone.

Dis toe dat ek begin paniekerig raak. Sê nou maar net die ander vrou wil nie my lyf teruggee nie. Wat gaan ek dan maak? Ek was nog so besig om rond te hol in my drome, dalk was dit hoekom ek so gesweet het, om die vrou te vind want ek het besef dat ek eintlik heel tevrede was met my lyf. Ek het tenminste geweet wat en hoe om my hare te hanteer, danksy my haarkapster en ek het nie onooglike hare op snaakse plekke gehad nie.

Genadiglik skrik ek toe wakker. Eerste beweeg my hande bewerig oor my ronde heupe, my “seksie”-maag en my tone. Met ‘n glimlag vee ek oor my deurmekaar nat hare en ek sug en wil sommer sing, “my lyf is weer myne!” Nog nooit was ek so bly om myself te sien nie!

Vanoggend is ek sommer diep dankbaar vir alles aan my. Skete, pyne, velle, rolle, grys hare, lelike voete, geswelde bene in die hitte. Elke sentimeter van my lyf is MYNE!! Saam met die blydskap weet ek ook dat ek nooit, nooit weer sal wens dat ek iemand anders se lyf kan hê nie.

Sexy klere of “te not”!

Kopiereg voorbehou