2 Halwes is nie noodwendig ‘n hele nie

Soms voel dit vir my asof my lewe net uit halwes bestaan. Dit is ook heeltemal my eie skuld, want ek doen alles half-half. In my kaste lê ‘n klompie projekte wat ek deur die jare aangepak het, nog nie een is klaar nie.

En dit laat my nogal bekommerd. Oor ek nie goed kan afhandel nie, of nog slegter – sodra ek ‘n nuwe projek aanpak en dit redelik goed kan doen, raak ek verveeld en soek ek alweer na iets nuut om my te stimuleer. Lê die ander goed net so ongebruik rond.

Ek het so bietjie gaan loer na woorde wat met half- begin en gaan vasstel of dit altyd sleg is – of is daar iets goeds daaraan?

Halfpad – dit is nogal moeilik. Jy is nog nie daar nie, maar jy het ook darem al aanbeweeg.

Dit geld vir baie dinge in ons lewe en dit kan een van twee dinge beteken. Jy sukkel om tot die eindpunt te kom waarmee jy besig is óf jy wil nie regtig wegbeweeg van jou gemaksone nie. Jy beweeg net so ver sodat dit maklik is om weer om te draai en terug te kom waar jy veilig voel.

Halfhartig – dit is iets wat ons almal baie goed ken. Die projek wat ons moet begin, die huis wat skoongemaak moet word, lewenstake wat aangepak moet word, ons houding teenoor ons naaste, vriendskappe wat aangeknoop word, ons huwelikke en ons eie idees oor sekere goed in die lewe.

Ons wil dit doen, maar dit klink dan nou skielik na werk, na opofferings, na ‘n sukkel-sukkel bestaan. Die lewe is al so gekompliseerd en dan moet ons nog na hierdie goed ook omsien. Ons doen, maar ons doen dit tog so halfhartig.

Halfmas – soms voel dit vir my asof my ou lewensvlaggie meeste van die tyd halfmas hang. Kry ek nie genoeg motivering vir die dag nie. Ek skrop soos ‘n hoender, ‘n bietjie hier en ‘n bietjie daar – kom tot niks. So gaan die dag verby en môre hang my vlaggie nog laer.

Halftyd – enige iets wat ons aanpak, het ‘n halftyd nodig. Dis dan (soos sportmense en in hierdie geval rugby) die afrigter sy span wys op hulle foute en hulle motiveer om dit te gaan regstel. Anders gaan hulle verloor. Die probleem is dat met baie van ons is ons halftyd langer en meer uitgerek as die wedstryd wat ons moet speel. Maak ons so baie nuwe regstellende planne – maar dit is al waar dit bly.

Hal(f)veer – ons lewe in so ‘n gejaagde tyd dat ons die helfte van ons lewe verkort met stres, status-najaag en sielkundige probleme. Ons jaag ons dood na niks. Hardloop agter die wind aan. Koop kitskos en soek kitsrykdom en as dit nie werk nie, soek ons kitsoplossings vir ons probleme. Ons het nie meer tyd nie, nie vir onsself, ons gesinne of ons medemens nie. Ons moet eerder teruggaan na die basiese dinge in ons lewe.

Gaan vind jou anker, jou rots – jou vastigheid onder jou voete. Besluit vir wie jy gaan nee sê sonder om skuldig te voel. Spandeer minder tyd voor die televisie en meer tyd saam met jou man en kinders – en as jy gelukkig is, met jou kleinkinders. Maak meer tyd vir jouself want as jy gelukkig is, is die om jou ook gelukkig.

Dalk moet ons almal eers ons halwes bymekaar kry, dit klaarmaak en die heles so stuk-stuk uitstal. Al is dit net in jou kop of in jou hart. Dan eers kan ons volledig ons eie storie skryf en dít is nie ‘n halwe waarheid nie!

Skaduwees

Ek het die anderdag so lekker gelag toe ‘n vriendin van my vertel van haar jongste dogter (destyds ‘n woelige drie-jarige) wat telkens probeer weghardloop het vir haar eie skaduwee.

Vandag toe ek weer daaraan dink, besef ek dat dit nie eintlik ‘n rare verskynsel is nie. Daar is van ons wat dit ook in ons daaglikse lewe toepas. Ons probeer van ons probleme ontslae raak soos ‘n akkedis wat sy stert afgooi as hy in gevaar verkeer.

En nou wonder ek maar net. Wie van ons het onlangs gekyk hoe lyk ons eie skaduwees? Nie die een wat jou op die grond volg as jy in die son loop nie, maar dié een wat saam met jou hart loop, die een wat jy saamneem kamer toe, in jou bed toelaat. Hy wat hom soos ‘n ongenooide gas aan jou opdring.

Probeer jy ook van hom vlug? Ek moet erken dat ek dit ook soms doen, maar sover nog sonder enige sukses. Is daar probleme in jou lewe waaroor jy maar liewer swyg, of selfs grappenderwys daarna verwys in die hoop dat dit sal weggaan? Maar vanaand, wanneer almal slaap en die huis stil is soos ‘n grafkelder en jou onwelkome besoeker verskyn weer, weet jy jy kan nie daarvan wegkom nie, al probeer jy ook hoe hard.

Daar is seker niks so aaklig en eensaam soos absolute stilte wat al die skaduwees in jou hart kom laat bontstaan nie, stiltes waar jy net jou eie hartklop in jou ore hoor hamer. Al jou vrese, jou bekommernisse, jou gewete, ja, hulle almal het ‘n manier om sommer in neonligte voor my te kom staan.

Hulle praat met my, maan my aan, maak my bang, jaag my senuwees heeltemal op hol, tref my met ‘n ongekende waarheid sodat ek môre met ‘n swaar gemoed die nuwe dag moet in.

Nou is dit vir my duidelik hoekom party mense so met die verkeerde voet uit die bed klim vir geen skynbare rede nie. Dit het niks te doen met watter voet jy opstaan nie, maar alles met daardie middernag besoekers wat jou van ‘n goeie nagrus beroof.

Ons mense maak soos volstruise, ek inkluis! Ons druk ons kop in ‘n gat en dink as jy nie jou probleme in die oë hoef te staar nie, sal dit naderhand vanself weggaan. Wanneer jy jou kop eendag daar uittrek, staan die probleem nog altyd daar en wag, hande in die sye, hierdie keer net meer ongeduldig en haastiger en soms met ‘n nare trek op sy gesig.

Probeer om sommer vandag nog die probleem by die horings te pak, hoe hartseer, moeilik of onsmaaklik dit ookal mag wees. Ons kan en gaan geen vrede hê as ons dit aanhoudend ignoreer nie. Ons het die vermoë om iets, hoe gering ookal, aan ons vrese en bekommernisse te doen.

Miskien los jy nie al vandag alles op nie, maar elke dag wat jy daaraan werk, word dit stadigaan kleiner of makliker. En voor jy jou kom kry, lyk die hoop probleme heelwat hanteerbaar.

Is jy nog bekommerd oor die knop in jou bors? Of die pyn agter jou blad? Maak vandag nog daardie afspraak by die dokter. Of as jy vermoed jou kind gebruik dwelms, gaan soek onmiddellik hulp by mense wat weet en vir jou raad en leiding kan gee. Kry ‘n oplossing vir julle probleem. Vanself gaan dit nie regkom nie.

Dink maar net watter moeilike taak het daar vir Jesus gewag. Hy kon eenvoudig net nie daar verby nie. Wat sal van my en jou geword het as Hy die kruisdood probeer ontduik het? Hy het bloed gesweet, want Hy was ook bang. Hy het gebid by Getsemane, alleen, want Sy dissipels het aan die slaap geraak. En Hy kon die uiteinde nie vryspring nie. Hy móés net daardeur, vir my en vir jou.

Juis daarom kan ons met ons probleme na Hom toe kom, Hy verstaan – want Hy is self daardeur en anders as Hy, hoef ons nie alleen met ons probleme te worstel nie. Hy gee vir ons hulp en die nodige krag om oplossings vir ons probleme te vind.

Mooi dag vir julle.

‘n Lint vir jou koek se krake

FB_IMG_1463233668544

‘n Kennis van my bak die heerlikste koeke. Ek hoop nie sy gee om as ek dit hier deel nie. Iemand vra haar om ‘n koek te bak en by die aflewering daarvan, vir een of ander bose rede, is daar ‘n kraak dwarsoor die koek. Gelukkig kon sy dit red deur die koek met ‘n lint bymekaar te hou en die kliënt het later laat weet die koek was heerlik. Net soos wat sy dit kan bak.

Sy deel dit toe op haar facebook blad en ek kommentaar grappenderwys daarop dat onder die bestes van ons ons ook maar ons “krake” wys. En dat ons ook partykeer ons “koek” bymekaarhou moet hou met mooi gesig-linte. Vanaand dink ek weer daaraan. Besef ek weer eens hoe waar dit eintlik is. Almal van ons het maar ons eiesoortige krakies.

Party krakies is klein en oppervlakkig. Kom ons nog weg met dun linte. Maklik om hierdie krakies weg te steek. Gebruik ons eintlik die linte eerder as versiering. Klein bekommernissies wat aan jou vreet. Die spaargeld raak minder. Kos word duurder. Jou huwelik begin klein krakies toon. Kleinboet sukkel met huiswerk. Die hond is siek. Nog niks so ernstig nie, maar tog.

Sommiges het groter krake en is meer sigbaar. Het hulle meer en breër linte nodig. Dan is daar dié wat linte én knippies moet dra. Glimlag jy op jou mooiste as jy die wêreld in die oë moet kyk. Lag saam, speel saam, maar kort-kort voel jy of die knippies nog hou. Kort-kort wil die bekommernis oorhand kry. Daar is sprake dat jou man sy werk kan verloor. Jou kind raak stiller en meer teruggetrokke. En wil nie praat nie. ‘n Klein knoppie in jou bors. En as dit voel die vrees oorweldig jou, dan herstel jy die knippies. Maak die lint bietjie stywer vas. Alles is weer onder beheer, al is dit van korte duur. En jy sit jou miljoendollar glimlag op.

Party van ons krake is so groot dat die linte en knippies naderhand skietgee. Jou kop lyk later soos ‘n kleurvolle karnaval. Dis net linte waar jy kyk. Knippies by die dosyne.
Verskillende groottes en kleure. Gee jy vir die wêreld voor alles is reg. Jou oë lag nie meer so lekker saam nie, jou miljoendoller glimlag se waarde het geval . . . maar jy hou aan glimlag. Vir jou eie behoud. Vir jou gesin se onthalwe. Binnekant val jou koek uitmekaar. Manlief het sy werk verloor. Jou kind word geboelie by die skool. Die knop in jou bors is kanker. Wat sleg is, die wêreld gaan aan. Het hy maar min simpatie met jou koek se krake. Moreoggend staan jy op, kies ‘n klomp linte en knippies en bind jou koek se kraak so styf vas dat die wêreld en sy mense daarbuite dit vir solank as moontlik nie moet sien nie.

So is daar ook krake van die karakter. Afguns, hoogmoed, beterweterigheid, selfvoldaanheid, harteloosheid, selfsugtigheid, skynheiligheid, suinigheid. Te veel om op te noem. Dink ons die mooi lint om die kop of in die hare sal jou krake wegsteek. Maar wanneer jy dit die minste verwag, of selfs vir ‘n wyle vergeet van die kraak kan die mooiste en grootste lint nie hierdie lelike kraak wegsteek nie.

Troos is, almal van ons loop met ‘n kraak. Of dit nou ‘n kleintjie of ‘n grote is. Of dit ongevraagd of ‘n lelike karaktereienskap is. En . . . . of ons dit wil weet of nie, ons almal het ‘n verskeidenheid van linte en knippies in ons kas.

Vraag is . . . watter een van jou honderd linte dra jy vandag?

Lorraine Weitz Brand

Kopiereg voorbehou

My verhouding met ander mans . . .

zwine

In my getroude lewe het ek al verhoudings met ‘n hele paar ander mans gehad.  Maak nie saak in watter dorp ons gebly nie.  As ons in ‘n nuwe plek aankom, belowe ek myself om nie oor te gee aan die versoekings om te kyk watter talent die dorp bied nie.  Maar nee, ek gaan stop gougenoeg by my nuwe vriendinne.  Hulle weet gewoonlik waar ‘n mens ‘n mens dié tipe mans kan raakloop. En gewoonlik is ek nie teleurgesteld nie en het ek ‘n nuwe man aan my sy.

Ek weet julle sal my nie glo nie, en ek maak nie verskoning vir my gedrag nie, maar ek kan nie sonder hulle lewe nie. Julle moet my maar so aanvaar.  Gelukkig het my man al gewoond geraak aan al hierdie ander mans wat hy met my moet deel.  Glo dit as jy wil, dit dra tot my skoonma se goedkeuring weg!

Ek kon nog nooit ‘n handige man weerstaan nie.  Die meeste van my probleme kan my man self mee ‘n plan maak, en hy weet ook, die ander mans in my lewe help om van my ‘n beter vrou en mens te maak.  Daarom gee hy nie te veel om nie.  Hierdie mans is nie noodwendig goedkoop met hulle dienste nie, maar, om my gelukkig te hou is my man maar bereid om sy sak te skud vir my plesiertjies.  Ek is voorwaar ‘n gelukkige vrou, want watter man sal sy vrou deel met soveel ander mans?

My eerste verhouding in my getroude lewe was met Mr Min.  Ek het hom ontmoet net kort voor my troue.  Ek wou eers niks met hom te doene gehad het nie, maar kon later net nie meer sy dienste weerstaan nie.   En so met die jare het hy homself bewys.  Ek kan na al die jare nog altyd op sy nommer druk.  Boonop hou my kant van die saak silwerskoon.

Toe ontmoet ek vir Handy Andy.  Hy is nie so rond soos Mr Min nie, en was bietjie meer veelsydig – en daarvan hou ek baie.  Hy het my regtig gehelp om van al my hardnekkige probleme ontslae te raak, probleme waarvoor my man nie eintlik kansgesien het nie.  Vir ‘n baie lang tyd het ek en die twee mans ‘n goeie verhouding gehad.

So drie jaar terug stel Mr Min sy ouer neef aan my voor.  Ek was hoflik, hom ongesiens van ‘n kant af bekyk en eers ignoreer.  Ek het alles probeer om nie weer in die versoeking te val nie, maar dit is moeilik as jy hom elke dag in die winkels raakloop.  Boonop het hy bietjie meer om die lyf en is nie bang om sy manlikheid te wys nie.  Voor ek my kon kry, het ek vir Mr Muscle geval.  Ek is tot vandag toe nog nie spyt nie.  Hy bring sy kant en sien kans om my te aanvaar met al my probleme.

Wat so handig is van hierdie verhoudings in my getroude lewe is dat ek meestal van hulle gebruik maak as my man nie by die huis is nie.  Wat ek sonder Mr Battery, Mr Exhause en Mr Tyre sou maak, weet ek nie.  Hulle is wel bietjie duurder daarom maak ek net so nou en dan gebruik van hulle dienste.  Gelukkig het die meeste van hulle ‘n waarborg.

As ek saans te eensaam raak en my man werk laat of gaan slaap vroeg, dan bel ek my goeie ou vriend, Mr Video.   Hy gee nie om dat ek hom soms net nou en dan nodig het nie.  Vreeslik geduldig.  Ons het al ure saam deurgebring.  Ons twee het al menigmaal saam gelag, saam gehuil en soms saam ons koppe geskud vir die mense.

Wat lekker is van hom, is dat ek al die praatwerk aan hom kan oorlaat en net myself geniet. Boonop gee hy ook glad nie om as ek huil nie en gee ook glad nie om as ek in my nagklere loop nie.  Hy aanvaar my net soos ek is wat beteken hy sien kans vir al my buie. Mr Video kanvan ‘n lang, eensame aand ‘n vrolikheid maak.  ‘n Regte staatmaker.

Afhangende van die tyd wat ek op hande het, en ek behoefte het aan meer, bel ek vir Mr Delivery ook.  Ek hoef nie eers agter hom aan te ry nie.  Hy gee ook nie om om my met Mr Video te deel nie.  Hy sorg gewoonlik vir pizzas, hoenderstukkies en ander heerlike eetgoed.   Dis boonop twee verhoudings wat my man soms aanbeveel as hy sien sy ou vroutjie raak te eensaam of is doodeenvoudig net verveeld.

My nuutste verhouding is met die drieling en oor hulle is ek vreeslik opgewonde.  Lyk my hoe ouer ek raak, hoe meer sien ek kansvir nog.  Gelukkig is hulle bietjie uit my koers maar ek besoek hulle gereeld.  Die enigste probleem is dat ek nooit weet watter een om eerste te kies nie.  Hulle kan nogal my sak ruk, veral as ek hulle aldrie besoek.  Dit is nie nimlike Mr Price Homes, Mr Price Clothing en Mr Price Sports.

Ek is heeltemal verslaaf aan die drie manne.  Ek kan net nie wegbly nie.  Ry ons verby hulle, probeer ek die versoeking weerstaan, maar kry altyd ‘n verskoning om vir hulle hallo te gaan sê.  Boonop gee hulle my soveel plesier en het altyd iets nuuts om my te verlei en bederf my gereeld soos hulle kan.

Ek is seker teen die tyd verstaan julle my dilemma oor die mans in my lewe.  Ek is ook seker julle is self skuldig.  Wys jou nounet, mens moet nooit sommer iemand anders veroordeel voordat jy die hele storie ken nie.  En wees eerlik met jouself, wat sal ons sonder hierdie mans in ons lewe gemaak het?

So, as julle weet van ‘n man wat bereid is om sy dienste aan my lewer, gee vir hom my selnommer.  Dit is nou as hy nie te duur is nie en nie omgee om my met nog ‘n hele paar ander te deel nie!

 

Fotobron : Internet