Kos vir my honger siel . . .

IMG_14551263984117

 

Toe ek my tuin laatmiddag vandag natlei, hang die reuk van katjepiering swaar in die lug. Toe WEET ek, die somer is hier. Daar is twee dinge wat my siel behoorlik voed.

1) Groot reendruppels wat op ‘n sinkdak plons.

2) Die reuk van katjiepiering wat laatmiddag/vroegaand swaar hang in die lug.

Die moets en moenies van 2011

Swellendam Faerie Sanctuary (5)

Hier het ons dit.  Die jaar is klaar.  More is ‘n nuwe begin.  Met sy eie reëls.  Dit is hier wat ek vasskop of vassteek.  Solank dit net effektief is. 

Ek het nie meer (op my brose ouderdom) enige nuwejaarsvoorneme nie.  Dit werk nie.  Jammer vir dié wie se lugborrel sopas gebars het.  Nuwejaarsvoorneme is uitgedink deur iemand wat die persoonlikheid van ‘n . . . nee wat, laat dit maar ongesê bly. 

Wat ek wel het, is ‘n lysie van moets en moenies vir 2011.  Nie ‘n lang lysie nie, maar dis belangrik – of, onbelangrik . . . hang af hoe jy daarna kyk.

MOENIE

1.    ja sê vir iets of iemand as jy regtig nie kans sien daarvoor nie.  (ek kom al mooi reg)

2.   musiek luister as dit niks vir jou siel beteken nie (sit liewer die radio af)

3.   elke weggooi kat of hond probeer red nie (jou sak en jou gesondheid ly daaronder)

4.   lewe om te eet nie – eet om te lewe (ai, dis moeilik, swartwoudkersiekoek roep my gereeld)

5.   ander mense se oorlog joune maak nie (soms is jy die enigste slagoffer)

6.   biblioteke besoek waar daar nie ordentlike boeke is nie (ek hoop ek kry die regte een)

7.   vinniger as die spoedgrens ry nie (ek sien nooit die kameras nie)

8.   luister na die weervoorspellings nie (verkeerde voorspellings het al mooi dae geruïneer)

9.   weer slaptjips by ‘n wegneemete-plek koop nie (waar kry mens nog outydse slaptjips)

10.  sê “nooit weer” nie (het ‘n manier om jou in die rug te kom byt)

MOET

1.  genoeg seekos eet (kanselleer die lewe om te eet hierbo uit)

2.  in die reën dans tot die water van my ore afloop (solank daar nie weerlig is nie)

3.  probeer om van skryfgoed in boekvorm te sit (manlief sal sóóóó bly wees)

4.  weer vir my ‘n swart kat kry (ek het ‘n ding oor swart katte)

5.  gaan ten-pin-bowling speel (ek dreig al jare)

6.  weer begin lees (daar was net nie tyd nie – as daar tyd was kon ek nooit ‘n goeie boek kry nie)

7.  begin om weer fotos te neem (ek mis dit en boonop het vriendin Sussa my aangesteek)

8.  leer om kerrie soos manlief te maak (as hy weg is, is ek gestrand – hoe water my mond)

9.  genoeg tyd inruimvir absolute stilte (ek kom agter my siel smag daarna)

10. iets aan my hare doen (wat weet ek nie)

Nie ‘n indrukwekkende lys nie, maar baie belangrik vir my.  Niks aardskuddings nie, maar genoeg om na uit te sien. 

Want 2011 gaan MY jaar wees – F.A.K (finish and klaar)

Mag die nuwe jaar vir jou ook jou mooiste jaar wees!  Veilig loop!

Lorraine