Wensdenkery

Vir eenkeer in ‘n lang tyd kon ek my naggloede nie die skuld gee vir nat hare, nat rug en nat kussing nie. Ek was nog nooit so bly om wakker te word soos vanoggend nie. En my weer eens te laat besef die spreekwoord, “oppas vir wat jy wens, jy mag dit dalk net kry!” regtig, regtig waar is.

Vir die van julle wat my ken, sal weet dat ek geseënd is met ‘n brose lyfie en dat ek met verloop van tyd vrede gemaak het daarmee. Nie dat ek al ooit gewens het ek kan soos Twiggy lyk nie (dit is darem ook te maer) maar soms as ek die jongmense so kyk met hul dun lyfies en min klere – veral in hierdie hitte – dis dan dat ek wens ek was so bietjie dunner.

So droom ek mos laasnag ek het ‘n ander lyf. Moenie my vra hoe het dit gebeur nie. Sover ek kan onthou moes ek met ‘n ander vrou geruil het. Was dit maar so maklik! Ek was erg opgewonde in my droom, ek kon weer my voete sien, ek kon rotse uitklim, ek kon saam met iemand anders ‘n stoel deel en so voorts.

Winkels toe was natuurlik my eerste prioriteit. Daar aangekom gryp ek die klein nommertjies van die rakke af. Sulke pikante goedjies. Ek dink ek het party van daardie klein nommertjies gesien toe ek laas op laerskool was! Dit is spaghetti-strêppie-toppies, bloesies wat my middeltjie wys, jeans wat op die heupe lê en die gepaste ondergoedjies. Het amper aan my dieetdrankie verstik (vet word sou ek nie weer nie) toe ek sien wat betaal ‘n mens vir so ‘n stukkie lappie!

Wat ‘n skok toe ek in die spieël kyk. Ek het nie net die lyf gekry van die ander vrou nie, maar ook haar hare! Ek kan niks daarmee uitrig nie. Maak nie saak of ek gel, “tease”, draai, blaas, spuit of stryk nie.

Asof dit nie genoeg is nie, sit daar hare op plekke wat ek nie gedink het hare kan sit nie. Van die plekke sal ek maar uit ordentlikheidshalwe nie hier herhaal nie. Maar in my droom het ek besef geen haarverwyderaar sal die onooglike hare op die mees “weirdste” plekke verwyder nie. Miskien dalk die tussen my tone.

Dis toe dat ek begin paniekerig raak. Sê nou maar net die ander vrou wil nie my lyf teruggee nie. Wat gaan ek dan maak? Ek was nog so besig om rond te hol in my drome, dalk was dit hoekom ek so gesweet het, om die vrou te vind want ek het besef dat ek eintlik heel tevrede was met my lyf. Ek het tenminste geweet wat en hoe om my hare te hanteer, danksy my haarkapster en ek het nie onooglike hare op snaakse plekke gehad nie.

Genadiglik skrik ek toe wakker. Eerste beweeg my hande bewerig oor my ronde heupe, my “seksie”-maag en my tone. Met ‘n glimlag vee ek oor my deurmekaar nat hare en ek sug en wil sommer sing, “my lyf is weer myne!” Nog nooit was ek so bly om myself te sien nie!

Vanoggend is ek sommer diep dankbaar vir alles aan my. Skete, pyne, velle, rolle, grys hare, lelike voete, geswelde bene in die hitte. Elke sentimeter van my lyf is MYNE!! Saam met die blydskap weet ek ook dat ek nooit, nooit weer sal wens dat ek iemand anders se lyf kan hê nie.

Sexy klere of “te not”!

Kopiereg voorbehou

Oorgangsjare

Dis nou één woordjie wat nou regtig saam met die woord apartheid uit ons woordeboeke en woordeskat kan verdwyn.

Oorgangsjare is vir my eintlik ‘n skelwoord. Ek weet julle dink ek oorreageer, maar ek is in my vroeë vyftigs en elke keer as ek sê ek het ‘n hoofpyn, of ek slaap sleg, of ek voel nie lekker nie – dan kry mense so ‘n verafuitdrukking in hulle oë. Slaan hulle hande saam en sê medelyend, “dis jou oorgangsjare, mens.”

So asof ek op sterwe lê. So asof hierdie toestand die “wagkamer” vir die ewige lewe is. Oorgang of oorgaan – waarheen wil ek weet? Ek besef daar gebeur dinge met ‘n vrou se liggaam, of altans, dit gebeur nie meer nie – maar om dit met soveel negatiwiteit te koppel, gaan my verstand te bowe. Asof ons vroue nie weet van liggaamsveranderings nie.

Ongeveer van ons dertiende jaar begin jy met veranderings aan jou lyf. Ontdek jy bultjies en kurwes waar jy andersins voorheen soos ‘n plank gelyk het. Dinge gebeur met jou lyf terwyl ons (in ons tyd) nog wou boom klim en net so hard saam met die seuns kon speel.

Ek onthou hoe ek met my eerste ondersteuningstelsel (bra) skooltoe is. So ‘n delikate ligpienk een. Ousus het seker gemaak (my ma is oorlede toe ek elf jaar oud was) geen bandjies steek uit nie. Sy het seker gemaak niks is los nie. Die ding het my so geïrriteer dat voor dit tweede pouse was, toe lê hy netjies in my boeksak. Ek was al van jongsaf ‘n bevryde meisie. 

Die ander grootmeisie goed en al die hoekoms en waaroms was mooi met boekies verduidelik. Arme ousus, self ‘n jongmeisie, moes maar ma se plek inneem en verduidelik. Kon nie ‘n maklike taak gewees het nie.

Toe wil ek mos trou. Die pil was my voorland. Die kilogramme het gou-gou plek gevind om my maag en heupe. Ek oefen en ek draf en ek dieet maar klou klou hulle. Die kilogramme het later plekgemaak vir arms en bene en pienk tone. Nege maande se pyn en lyding soos ou Ella van Vetkoekpaleis geuiter het.

Ek moes maar onwillekeurig die ondersteuningstelsels weer nader trek en dit permanent dra. Alles is uitermatig groot. My boesem, my maag, my boude. Na die geboortes van my seuns was daar nie juis ‘n verskil nie. Ek dra nogsteeds wat gedra moet word.

Daarmee kon ek nog saamleef. Selfs die veranderings wat vir my voorlê sien ek kans. Dis die medelye in mense se oë wat ek nie kan hanteer nie. Ek sweer die helfte het al hul begrafnisklere uitgehang vir die kreukels. Kyk solank stilletjies na kransies. Vir my oorgangsjare.

Ek weet van vroue (in en na hul “oorgangsjare”) wat meer energie het en meer dinge aanpak as ons jonger susters. Wat meer kans sien vir die lewe as die jongetjies. Wat meer pret en plesier het as ons mede-sustertjies.

Dis nie dat ek jaloers is nie, maar glo my as ek sê, jonk wil ek nie weer wees nie. Al daardie regstaan en hardloop agter kindertjies aan (ek is mal oor my twee maar dankie tog hulle is groot) en al daardie “vir jou Suid-Afrika” dae is verby.

Nou is dit MY tyd. Om te maak soos ek wil, wanneer ek wil en of ek wil. Wat sal doen “op aanvraag”. Wat nee sê net omdat ek nie lus het nie. Wat eerder met ‘n boek op die bed lê as om pannekoek agter ‘n basaartafel te staan.

Ek het besluit, oorgangsjare se voet.  Om ouer te word, om wéér liggaamsveranderinge te ondervind is defnitief nie die einde van die wêreld of die einde van my lewe nie.

Om mee af te sluit, ek het hierdie oulike stukkie onlangs gelees en besef dit is PRESIES hoe ek my lewe wil leef!!! 

“Life should not be a journey to the grave with the intentions of arriving safely in attractive and well preserved body, but rather to skid in sideways, chocolate in one hand, wine in the other, body thorougly used up, totally worn out and screaming, “Woo hoo, what a ride!”