Bitter!

Die foto het ek in 2010 geneem by die Korannaberge waar ons saam met die kinders vir ‘n naweek was en dit hou vir my soveel simboliek in. Op verskillende vlakke. Elke keer as ek na die selfpyniging van die plant kyk, kry ek opnuut ‘n ander betekenis.

Eerstens laat dit my dink aan selfgroei. Al is dit meestal pynlike prosesse. Groei ons “deur/in” onsself, soos op die foto. Kry ons geestelik en emosioneel seer maar uiteindelik beur ons vorentoe en dan, eintlik daardeur ~ al is ons hoe op. Alles net deur genade.

Tweedens laat dit my dink aan hoe ons onsself verwyt vir sekere dinge wat gebeur het in ons lewe. Wat as ek of wat as ek nie . . . So druk ons elke dag die skerp kant van verwyt in ons eie sagte vleis. Tot ons lewenssap loop. Bitter soos die sap van ‘n aalwyn.

Derdens, in ons swakheid is ons eintlik baie sterk. Dit mag vir jou ontmoontlik lyk en voel tydens jou stryd maar kyk net hoe klou daardie blaar vir lewe vas terwyl daar menige groot en vet blare deur dit groei. Hou dit alles bymekaar. So is ons ook. Al val ons wereld uitmekaar hou ons nog kop – doen ons wat gedoen moet word. Maak kos, was wasgoed, gaan werktoe, lig jou kop op, sit ‘n glimlag op jou gesig, kam jou hare, smeer lipstiffie aan en spuit parfuum. Verder klou jy verbete aan jou stukkie menswees om net nie te laat skiet nie.

En net soos hierdie plant is die mens. Staan ons geanker in ons geloof, in liefde, omgee en die wil om te oorleef. Ten spyte van ons persoonlike stryd en swaarkry!

Hou dus goeie moed! Steek vas, byt vas en hou vas want jy is sterk! Sterker as wat jy ooit nou sal glo.

Voorskote

aprons

Laat ek maar prontuit erken.  Ek hou nie van huiswerk nie.  Nie wiskunde of take nie, huiswerk soos in huisskoonmaak, was, stryk, vensters was en al die ander takies wat gewoonlik op ‘n vrou se skouers rus.  Manlief het al gewaarsku dat ek nie so luidkeels moet verkondig dat ek nie ‘n huisvrou is nie, seker bang dit skrik voornemende vriende af.  Verwag hulle die huis moet lyk asof ‘n orkaan dit getref het.

Tenspyte van my gevoelens, moet ek maar huis skoonmaak.  Ek dink dit is juis wat so ‘n kriewelrig in my binneste veroorsaak.  Want dit moet gedoen word.  Of ek nou wil of nie.  Dit maak egter nie ‘n verskil aan hoe ek voel nie.  Dit is so ‘n ondankbare werk.  En van die betaling praat ek nie eers nie.  Boonop werk ek nie vir byvoordele nie.  Teen die tyd wat jy by die kombuis kom, lê die stof al klaar weer dik op die koffietafeltjie.  Met die huidige resessie kan ek ook nie hulp bekostig nie.

Gister stap ek in ‘n piepklein winkeltjie in Hermanus.  Kan nie eers die naam onthou nie.  Teen die een muur hang twee voorskootjies.  Pikswart.  Te dierbaar vir woorde.  Die een is opgetooi met sexy swart kant en lyk eerder na ‘n stoute nagrokkie.  Die ander een is versier met sequins en blink kraletjies en laat my dink aan ‘n swart nommertjie wat ek eenkeer in ‘n boetiek se venster gesien het, en begeer het.

Vir een of ander rede het hierdie twee voorskootjies my weer lus gemaak (al was dit van korte duur) om huis skoon te maak.  Laat dit my sommer dink dat die sleurwerkies plesierwerkies kan raak.  In my gedagte sien ek myself al met een van hierdie voorskote, die stofsuier in die een hand en ‘n “cocktail” in die ander.  Ge-make-up en hoë hakskoene.  Juwele om die nek.  Iewers op die klaar gepoleerde eetkamertafel staan daar ‘n bord met kaas, beskuitjies en olywe.  Vrolike klassieke musiek wat oor die CD speler kom.  En ‘n huppel in my stap.  Verspotte danspassies.  Met die verestowwer en die stoflap.

Dis toe dat ek besef, al druk die lewe jou maar soms,  al kry jy emosioneel of finansieel swaar, jy moet maar die lewe vir jouself lekker maak.  Soos die voorskootjies wat opgetooi is.  Anders raak die lewe vir jou donker en swaar.  Leef moet ons – ongelukkig.  Dit het my soms ook gevoel ek wou eerder net in my stoel sit en ophou asemhaal, maar dit werk nie so nie.

Humor is ‘n goeie geneesmiddel.  Soms dink ek dit is al wat my red.  Om partykere vir myself en vir my situasie te lag.  Al wil jy eintlik huil.   Bel die kinders een aand, sê hulle respekteer vir my en manlief dat ons die resessie so goed hanteer en dat ons nog altyd lief is en lief bly vir mekaar.  Sê manlief later toe die gesprek klaar is, “dis oor daar nie geld is om te skei nie!”  Ons het gerol van die lag.  Besef ons dat tenspyte van alles, ons nog mekaar het.  Ons kinders het, ons sin vir humor het.

Boonop droom ons van die dag dat dinge weer beter sal gaan.  En drome kos niks.  Maak dit die huidige swaarkry lekkerkry.  Ek glo aan die wet van aantrekkingskrag.  Wat opgaan moet afkom.  Die wiel sal weer draai, al wil ek hom soms aanhelp om vinniger te draai.

Dalk is ek net optimisties, bluf ek myself – maar as dit die voorskoot is wat ek moet aantrek om deur die moeilike tye te kom, dan doen ek dit maar!

Fotobron : Internet