Oplossings vir die winter, resessies en ander oorlewingsprobleme . . .

 

hibernation-dormouse

Almal trek swaar.  Om te oorleef met die huidige pryse van kos en brandstof, is nie vir sissies nie.  Jy moet hare op jou bors, tande en rug hê!  Ek hoor gisteraand ‘n advertensie op televisie waar hulle die mense vertel dat trou vandag nog ‘n “bargain” kan wees.  As alles in aggeneem word, en dit sluit trouring en wittebrood uit, kan hulle ‘n troue reël vir ‘n bedrag tussen R40 000 en R45 000.  Ek het amper regagteroorgeslaan.  Dit sal my heeltemal van trou afsit.

Die armes word nog net armer.  En met die resessie is daar nie eers vinnig iets op die horison wat ons met ‘n lig kan sien nie wat uitkoms kan bring nie.  Waar sny jy?  Wat los jy?  Ons móét eet, ons móét ons kinders skooltoe stuur, ons móét by die werk uitkom.  Ons móét warm water hê om te bad, ons móét krag hê om te kook. En ons voel skuldig as iemand vir ‘n stukkie kos kom bedel en jy dink by jouself “hierdie vier snytjies brood is broodnodige kos vir my gesin”!

My hart breek as ek die pensioenarisse met hulle karige pensioentjies in die winkels sien.  Hulle draai en draai en draai daardie artikel om en aan die einde beland dit maar weer net op die rak.  Selfs mieliemeel kos deesdae ‘n fortuin.  Doodgaan is ook nie ‘n opsie nie, want begrafnisse kos baie geld.

Iets wat ek deesdae ondervind is dat mense grappies maak omtrent hulle omstandighede. Die een ou sê nou die anderdag, hy praat maar min deesdae want hy spaar dit vir die moeilike tye wat voorlê.  ‘n Ander spog en sê hy het gister wors gebraai – dit is deesdae ‘n luuksheid.  Die Huisgenoot se randrekkers raak deesdae ‘n broodnodige resepteboek in ons huise.

Die slim mense sê mos hoeka ons gebruik humor om ons deur krisisse, rampe en swaarkry te help.  Dit is toe dat ek dink my plan om die winter, resessie en ander finansiële probleme uit te wis, is nogal ‘n grênd plan.  Hibernasie. Winterseisoen. Vir tenminste ‘n hele paar maande.

Dink net, as Suid-Afrika elke jaar 3-4 maande kan hiberneer, wat sal dit nie vir ons beteken nie.  Soveel probleme kan in daardie tydperk aangespreek word.  Die moontlikhede is legio!!!  En boonop kan ek genomineer word vir ‘n Nobelprys!

Eerstens kan ons almal genoeg rus kry.  In hierdie drie maande hibernering is jou verlof ingesluit, asook alle publieke vakansiedae en naweke.  Siekverlof, kraamverlof en spesiale verlof.  Skoolsiek ook.  Die res van die jaar moet ons skouer aan die wiel sit.  Sodoende is daar ook nie tyd vir misdrywe en kriminele aktiwiteite nie.

Tweedens kan die natuur weer herstel.  Bome kan groei, velde kan herstel en diere kan rus. Implemente en voertuie kan tot stilstand kom en sodoende kan die osoonlaag ook weer tot normaliteit terugkeer.  As daar nie gasse vrygestel word nie, is daar niks wat die osoonlaag irriteer nie.

Ons liggame kan herstel en nuwe selle kan groei en regmaak wat binnekant verkeerd loop.  Ons kan van oortollige gewig ontslae raak wat dan ook terselfdertyd ander mediese probleme uitfasseer soos hoë bloeddruk, cholesterol (van al die ryk kosse wat ons in die winter verorber), stresverwante siekte en padwoede.

Inflasie kan beter beheer word (niemand kan koop in daardie tydperk nie) en dink net watter groot besparing kan ESKOM maak.  Geen verwarmers, elektriese komberse en warmwatersilinders wat ooreis word nie.

Uiteindelik sal daar minder oorloë wees.  Niemand gaan tog lus wees om na 3-4 maande se heerlike ontspannende slaap weer aan die gang te kom om verder oorlog te voer nie.  Daar skakel ons sommer ook die moontlikheid van oorlog uit aangesien 8 maande nie die moeite werd is om so ‘n perd op te saal nie.

Ek weet dit klink na heerlike dagdromery en “snert”, maar dit is nie.  Gaan sit en dink mooi oor al die voordele hieraan verbonde.  Ek, persoonlik, kan nie dink aan een nadeel nie!

Foto : Internet

Kopiereg voorbehou