Foto-Pretsel 20

Minste

Dis nie altyd so maklik nie.  Die mens se natuur wil hoofrol speel. As ons te nagekom word, wil ons terugveg.  Soms is ons vinniger met die mond as met die verstand.

Ek is gewoonlik heeltemal verstom wanneer iemand my verbaal aanval, veral as ek heeltemal onskuldig is.  Ek bly stil.  Nie uit eie keuse nie, ek is letterlik stom want op daardie oomblik gaan daar honderd dinge tegelyk deur my kop.  Agterna dan dink ek, ek was dom, ek moes dit vir haar/hom gese het of ek moes dit gedoen het.  Maar altyd te laat met die goeie raad aan myself.

Eendag noem ek dit aan ‘n vriend (was ons predikant) dat ek soms wens ek kan dadelik terugbaklei want die ander persoon dink hy/sy het die oorhand.  Se hy vir my toe die volgende. “Onthou, jou swakste eienskap is gewoonlik ook jou sterktste eienskap”.  Het my ‘n rukkie geneem om dit heeltemal te begryp.  Maar dit is waar.  As ek moes onmiddellik terugbaklei het, sou die situasies seker heelwat slegter afgeloop het.

Ek gaan nie jok nie, maar soms, net soms wens ek ek was bietjie vinniger . . . .

Oorgangsjare

Dis nou één woordjie wat nou regtig saam met die woord apartheid uit ons woordeboeke en woordeskat kan verdwyn.

Oorgangsjare is vir my eintlik ‘n skelwoord. Ek weet julle dink ek oorreageer, maar ek is in my vroeë vyftigs en elke keer as ek sê ek het ‘n hoofpyn, of ek slaap sleg, of ek voel nie lekker nie – dan kry mense so ‘n verafuitdrukking in hulle oë. Slaan hulle hande saam en sê medelyend, “dis jou oorgangsjare, mens.”

So asof ek op sterwe lê. So asof hierdie toestand die “wagkamer” vir die ewige lewe is. Oorgang of oorgaan – waarheen wil ek weet? Ek besef daar gebeur dinge met ‘n vrou se liggaam, of altans, dit gebeur nie meer nie – maar om dit met soveel negatiwiteit te koppel, gaan my verstand te bowe. Asof ons vroue nie weet van liggaamsveranderings nie.

Ongeveer van ons dertiende jaar begin jy met veranderings aan jou lyf. Ontdek jy bultjies en kurwes waar jy andersins voorheen soos ‘n plank gelyk het. Dinge gebeur met jou lyf terwyl ons (in ons tyd) nog wou boom klim en net so hard saam met die seuns kon speel.

Ek onthou hoe ek met my eerste ondersteuningstelsel (bra) skooltoe is. So ‘n delikate ligpienk een. Ousus het seker gemaak (my ma is oorlede toe ek elf jaar oud was) geen bandjies steek uit nie. Sy het seker gemaak niks is los nie. Die ding het my so geïrriteer dat voor dit tweede pouse was, toe lê hy netjies in my boeksak. Ek was al van jongsaf ‘n bevryde meisie. 

Die ander grootmeisie goed en al die hoekoms en waaroms was mooi met boekies verduidelik. Arme ousus, self ‘n jongmeisie, moes maar ma se plek inneem en verduidelik. Kon nie ‘n maklike taak gewees het nie.

Toe wil ek mos trou. Die pil was my voorland. Die kilogramme het gou-gou plek gevind om my maag en heupe. Ek oefen en ek draf en ek dieet maar klou klou hulle. Die kilogramme het later plekgemaak vir arms en bene en pienk tone. Nege maande se pyn en lyding soos ou Ella van Vetkoekpaleis geuiter het.

Ek moes maar onwillekeurig die ondersteuningstelsels weer nader trek en dit permanent dra. Alles is uitermatig groot. My boesem, my maag, my boude. Na die geboortes van my seuns was daar nie juis ‘n verskil nie. Ek dra nogsteeds wat gedra moet word.

Daarmee kon ek nog saamleef. Selfs die veranderings wat vir my voorlê sien ek kans. Dis die medelye in mense se oë wat ek nie kan hanteer nie. Ek sweer die helfte het al hul begrafnisklere uitgehang vir die kreukels. Kyk solank stilletjies na kransies. Vir my oorgangsjare.

Ek weet van vroue (in en na hul “oorgangsjare”) wat meer energie het en meer dinge aanpak as ons jonger susters. Wat meer kans sien vir die lewe as die jongetjies. Wat meer pret en plesier het as ons mede-sustertjies.

Dis nie dat ek jaloers is nie, maar glo my as ek sê, jonk wil ek nie weer wees nie. Al daardie regstaan en hardloop agter kindertjies aan (ek is mal oor my twee maar dankie tog hulle is groot) en al daardie “vir jou Suid-Afrika” dae is verby.

Nou is dit MY tyd. Om te maak soos ek wil, wanneer ek wil en of ek wil. Wat sal doen “op aanvraag”. Wat nee sê net omdat ek nie lus het nie. Wat eerder met ‘n boek op die bed lê as om pannekoek agter ‘n basaartafel te staan.

Ek het besluit, oorgangsjare se voet.  Om ouer te word, om wéér liggaamsveranderinge te ondervind is defnitief nie die einde van die wêreld of die einde van my lewe nie.

Om mee af te sluit, ek het hierdie oulike stukkie onlangs gelees en besef dit is PRESIES hoe ek my lewe wil leef!!! 

“Life should not be a journey to the grave with the intentions of arriving safely in attractive and well preserved body, but rather to skid in sideways, chocolate in one hand, wine in the other, body thorougly used up, totally worn out and screaming, “Woo hoo, what a ride!”