Vroue deel met mekaar

As iets pla, is manlief gewillig om te luister – maar wil daar en dan ‘n oplossing gee. Ek weer, wil dit net uit my gestel kry – sonder die ridder op die wit perd. Ek soek iemand (lees soundboard) om te luister, die kop te knik, die een koffie na die ander saam met my te drink sonder om te veel te sê.

Maar waar kry ek drie-uur in die oggend iemand? Of saans half-sewe as die meeste 7de Laan kyk? Of na Grey’s Anatomy? Of elf-uur vanaand as die meeste vriendinne en vroue snoesig en sag en sexy langs manlief lê?

Een ding waarvoor ek dankbaar is, is dat vroue met mekaar kan praat. Ons is instinktief “carers” is. Vroue soek iemand met wie hulle kan “share”.

Sonder om te hoor, “soetlief, jy verbeel jou” of “ag my skat, dis mos nie so erg nie!”. Nog erger “liefling, hoekom vertel jy hom/haar nie die waarheid nie?” Dit is gewoonlik dáár waar ek my links gooi!

Daarom het Koffie-Klets lyfgekry. Hier kan ons gil en gril (24/7) – met ‘n beker koffie in die een hand en die ander hand op die (rekenaar) muis, en as daar nog ‘n stukkie van daardie kaaskoek oor is, hoekom nie?

Ek hoor al . . . “seker weer ‘n geskindery?”  Ek is trots vrou – sonder om ‘n Martie Martelgat te wees. Hang my, maar ‘n man wil ek nie wees nie.  Wat is nou interessant daaraan om net oor sport, motors en jou eie uhmm, prestasies te praat?

Maar . . . Koffie-Klets is ook veel meer as net ‘n oor-en-weer-kuiery. Hier gesels ons oor sake wat vir ons belangrik is – van aardbewings tot aannemings. Godsdiens tot G-kolle. Kitsdiëte tot kindermishandeling. Mosbolletjies tot Mozart. Oorloë tot orgasmes. Poësie tot politiek. Zille tot Zoid.

Die Koffie-Klets is almal se blad – en as jy hiervan hou, adverteer dit wyd en syd. Hoe meer vroue deelneem, hoe groter die gesprekke rondom dinge wat vir ons saak maak.

So, skink jou koffie – filter, kits, cuppachino of kaffeënvry. Laat sak die hare en lig jou bene en kom neem deel aan die gesprekke of lees ander se griffels en maak hierdie blad jou daaglikse koffie-break!

Ons mag . . . want ons kan!

Lorraine

To our English speaking guests, this is also for you – come and join us – comments in your own language is most welcome.

2 thoughts on “Vroue deel met mekaar

  1. soek net ‘n vriendin iemand meer te gesels al is dit net eenkeer ‘n maand of elke 2 weke koppie tee te drink – lief vir diere, blokkiesraaisels as kan bak, mosaik net om bietjie uit te kom ALLEENHEID IS ERG GERMISTON/ BOKSBURG AREA ASB.

  2. Hi Rhode de Beer

    Natuurlik is jy welkom. Is jy op facebook? Jy kan my invite as jy wil. Lorraine Weitz Brand. Dan behoort ek aan ‘n oulike arts en craft forum. Gaan sluit gerus daar aan. Daar is ook ‘n ken-mekaar bladsy onder hulle. Die groep se naam is R & R Arts en Crafts. As jy nie regkom nie, kontak my dan add ek jou op hulle bladsy. Sien hoeka jy doen mosaiek en mosaiek is groot op die blad.

    As jy ooit Bloemfontein se kant toe kom, laat weet my dan doen ons die koek en tee ding. Sal lekker wees!!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *