Die Lolita-effek

Oor 'n koppie koffie

Môre Môre!

Niks wat ‘n effe koel oggend so vinnig opkikker soos ‘n beker stomende koffie nie.  Verkieslik lekker sterk filterkoffie, maar vanoggend kry kitskoffie voorkeur.  Ek is te dors.  Hier in Hermanus is dit heerlik vanoggend – ek begin so bietjie benoud raak oor die somer nog nie rerig rerig deurbreek nie – maar ek is hoopvol.

Gister bel ‘n vriendin.  “Loer gou na Dr Phil” – sy reken ek sal dit interessant vind.  Dit handel oor jong meisies wat op ‘n “verkeerde”  manier aantrek om aandag van die teenoorgestelde geslag te soek.  “Sexualize” is die woord.  Daar is selfs ‘n boek daaroor geskryf – The Lolita Effect. ‘n Boek wat, volgens Dr Phil, elke ouerpaar behoort te lees wat jong meisiekinders het.  Die wêreld daarbuite gee vir ons vroue en meisies die verkeerde beeld van mooiwees, van aanvaarding en veral selfaanvaarding.  My hare rys drie sentimeter hoog toe ek dit aanskou. 

Ek moet erken dat ek ietwat blind deur hierdie stadiums gegaan het omdat ek net twee seuns het.  Gelukkig (vir my) was hul meisievriende doodnormaal.  Aangetrek soos wat ek dink alle jongmeisies behoort aan te trek.  Modern, maar stylvol.  Nie die uitlokkende, alleswysende meisies nie.  Is ek skielik, nadat ek die program gekyk het, dankbaar dat ek net twee seuns het. 

‘n Interessante ding wat Dr Phil genoem het, is dat ‘n ma en ‘n pa nooit kan ophou om ouers te wees nie.  Jy kan nie besluit tot hiertoe en nie verder nie.  “Until then and then some more!”  Dr Phil reken ook ons, as ouers, moet ons kinders beskerm teen ander en die dinge van die wêreld, maar VERAL teen hulself want hulle is nog nie volwasse genoeg om verantwoordelike besluite te neem of die nagevolge van hul besluite te hanteer nie – al dink hulle so.

Ek en my oudste seun het so drie jaar gelede oor iets vasgesit, hy was toe 23 en ek onthou ek het vir hom gesê dat ek nie omgee of hy 3, 13 of 53 is nie, solank as wat ek asemhaal, sal ek ‘n ma bly en sal ek help en praat as ek dink iets is nie reg nie.  “Live with it” was my waarskuwingswoorde.  Vandag lag ons albei daaroor, maar diep binne in my (en ek dink in hom ook) weet ons dit was vir sy eie beswil.  Ouerskap hou nie op die dag as jou kind mondig word nie. 

My skoonma is al 73 en soms, net soms vertel sy my nog hoe en wat ek moet maak.  Gelukkig is ek nie een wat my elke keer vererg nie, en luister maar wat sy sê.  As ek voel ek kan haar raad gebruik, sê ek dankie.  As ek voel, nee – dit is nie vir my nie, ignoreer ek dit net.  9 uit die 10 kere is dit goeie en goedbedoelde raad.  ‘n Kind bly ‘n kind en ‘n ma bly ‘n ma – miskien verstaan ek haar net beter omdat ekself ma is.

Om terug te keer na die Lolita-effek.  Op Dr Phil het hulle gewys hoe neem hulle ‘n doodgewone jongmeisie, verander haar voorkoms (hare en grimering) en met een of ander program soos Photoshop maak hulle haar nek langer, haar oë groter en mond wyer.  Hierdie beeld word dan op die groot “billboards” langs die pad gesit en dit is hoe meisies dink hulle MOET en WIL lyk. 

Sonder al die grimering en “regmaak” is dit net ‘n gewone jongmeisie – jou buurman se dogter. As hierdie doodgewone meisies dan probeer om kers vas te hou by hierdie modelle voel hulle ‘n mislukking en dit is wanneer hulle uitreik na ander maniere om aandag van die teenoorgestelde geslag te kry.

Wie kan onthou die Dove advertensie waar volfiguurvroue gebruik was?  Nie dat ek sê ons moet alles gesonde leefstyle oorboord gooi nie – maar laat ons maar erken, dis ‘n handjievol van ons wat op ons ouderdom nog die perfekte lyfie het.

Ons vroue moet ons eiewaarde ontdek, daarmee vrede maak, dit geniet – ons is uniek, elkeen van ons.  Meer belangriker is dat ons hierdie waardes aan ons dogters sal oordra.  “Until then and then some more!” Tot hulle dit glo en hulself as waardig en waardevol sal beskou!

Lorraine

One thought on “Die Lolita-effek

  1. Dis darem baie waar woorde hierdie hoor. Ek het twee tienerdogters. Ene (Ousus) is redelik oor haar stadiums – tot die volgende ene seker kom. Kleinsus is ‘n riller. En kan sy haar stert nou lekker wip as ek haar terugstuur om ander klere te gaan aantrek!!! Groepsdruk is net so ‘n probleem. Sarie en Annie doen so, hoekom kan ek nie. My standaard antwoord is altyd, maar jy is nie Sarie of Annie nie, jy is Tarina. Nou ja, dit gaan nooit so goed af nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *