Die geur van katjiepiering

CAOF61SFDit was gisteraand die perfekte aand.  Die somersaandlug was soel, die krieke het lawaaierig hul teenwoordigheid bekend gemaak – maar wat dit vir my vervolmaak het, was die soet swaar geur van katjiepiering in die lug.  Ek dink in my vorige lewe was ek dalk ‘n by want as hierdie geure opdam in die aandlug, is ek soos ‘n besete bytjie.  Ek wil uit, ek wil ruik, ek snuif, ek adem die reuk in dat ek naderhand amper “hyperventilate”. 

Vir een of ander rede kry ek net nie genoeg van die reuk nie.  Sodra die son sak en die blomme hul geur versprei, kan jy met my toor.  Ek is maklik, gemaklik en kan manlief my enigeiets vra.  Buitendien dink ek die katjiepiering-geur werk op my hormone want eweskielik is ek vriendelik, vryerig en vrygewig. 

As dit so stil is buite en ek omring word met hierdie hemelse geur raak ek weer eens bewus van hoe wonderlik ons natuur is.  Hoeveel seeninge ons ontvang, hoe bevoorreg ons is en hoe dankbaar ons behoort te wees vir dit wat ons so mildelik ontvang.  Geen parfuumhuis kan hierdie ongelooflike geur herhaal nie.  Miskien kry hulle dit amper reg, maar die natuur se geur is uniek, opreg, warm.

Ek kan nie wag dat dit weer aand moet word nie.  Die voordeur word wyd oopgegooi om die natuur in die huis te nooi.  Ek sal defnitief buite onder die sterrehemel gaan sit, maar dit is wat so lekker is, jy kan die natuur saamneem.

Ek is skoon opgewonde oor die somer!!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *