‘n Les uit die natuur

Dit is absoluut wonderlik hoe ‘n mens  by die natuur kan leer.  Gister het ek en manlief in die tuin gevaar.  Ons het hierdie dag vooruit beplan.  Die swartryp het redelik skoonskip gemaak met die plante.  Ek wou summier afknip, uithaal en weggooi.  “Wees geduldig”, het almal gesê en volgens die wat weet verplant ‘n mens blykbaar ook nie jou varkore voor Paul Krugerdag (10 Oktober) nie. 

Eerstens, met ‘n skok, besef ons dit is omtrent net kleigrond.  Die tuinvurk lyk asof dit in ‘n oorlog was.  Drie van die tande is gebuig.  Manlief blaas, hyg en sweet (amper soos die wolf in die Drie Varkies) soos hy probeer om die grond om te dolwe.  Ek, erg grillerig, sien iets beweeg.  Erdwurms!!!  Ek verloor amper my lus vir tuinwerk net daar.  Van kleinsaf is ek histeries grillerig vir erdwurms.  Yuck!!!

Ek sluk en werk maar weer saam met manlief – met die een oog op al wat ‘n wurm is.  Ons haal plante uit (vorige eienaars nie veel omgegee hoe en hoeveel hulle opmekaar plant nie) en verplant.  Ons kap en ons saag en sukkel met die kleigrond.

So tussen die sweet en sukkel besef ek ‘n mens leer darem baie uit die natuur. Ons moet net soek daarna, en soms is dit voor-die-hand-liggend.  ‘n Erdwurm (in my oë) is maar ‘n klein, tenger dingetjie.  Hier is ek, met my brose lyfie, en ek kry nie eers die graaf of die tuinvurk ingepak in die grond nie.  Die erdwurm wikkel sy lyfie deur die harde kleigrond, maak los waar hy kan en gaan aan met sy dagtaak. 

Hoe baie van ons mense gee nie gou moed op by die eerste “kleigrond” wat ons teëkom in ons lewe nie?  Sien ons nie meer kans om aan te gaan nie.  Sit op ‘n hopie en vergaan – sonder om weer te wil probeer.

Van die plante wat ons uitgehaal het, is maar fyn en trietsig – altans, so het ek gedink.  Dis met die uithaalslag wat ek my Moses teëgekom het.  Hulle wortelstelsel is dik, hard en taai.  Weer eens dink ek – dit is hoe ons soms ander mense oordeel.  Hulle lyk maar trietsig, maar boeta, hulle staan stewig vasgeanker.  Hulle geloof, hulle liefde, hulle omgee maak van hulle sterk mense, ongeag hoe hulle vir ons lyk. 

Terselfdertyd besef ek, ‘n mens hoef nie die mooiste, die rykste, die slimste in die wêreld te wees nie – solank die basiese beginsels in plek is kan die lewe se aanslae, net soos die swartryp, maar kom. Van ons blare kan maar tydelik verwelk, ons is dalk nie meer so mooi op die oog nie, maar ons weet ons wortelstelsel hou ons staande.  Ongeag van die swaarkry wat ons mee moet deel.

En as die Lente (goeie tye) kom, dan blom ons weer op ons mooiste!  Soos altyd!!

Cango Wild Life - Sterlitzia

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *