Hoe ouer ek raak, hoe meer waardering het ek vir die “alleentydjies” met myself. Geen telefone, geen opdragte van my baas, geen geplaery nie. Net stilte en vrede.
Ek het my nog altyd verwonder oor mense wat paniekerig raak as hulle alleen is. Wat aan niks kan kom as hulle nie omring is met mense nie. Ek is mal oor mense, maar daar is ‘n afsnypunt. Ek is mal oor my man en kinders, maar daar kom ‘n tyd in die dag dat ek net ‘n bietjie alleentyd nodig het.
Dis wanneer ek weer my battery laai, my siel vul en my kop skoon kry. Dis asof nie net my longe nie, maar ook my hele wese asemhaal en asemskep. Kan ek weer vir ‘n halfuur óf niks óf iets doen wat my behaag.
Ons lewe in so ‘n gejaagde wêreld dat dit soms vir my voel ek ken myself nie. Die mens wat in die spieël na my kyk is die gesig van ‘n vreemdeling. Jy reageer net soos ‘n robot. Doen baie en dink niks. ‘n Vorige predikantsvrou het eendag gesê ‘n vrou móét soms net sit en niksdoen nie. Ek was mal oor haar.
Ons is so besig om ander te dien dat ons onsself in die proses vergeet. Onsself afskeep. Hoe ouer ek raak, hoe meer besef ek die nodigheid om my tenk daagliks te vul met stilte en vrede.
Is ek selfsugtig? Ander mag dalk so dink. Vir ‘n paar minute op ‘n dag wil ek niemand antwoord nie, niemand help soek na iets nie, niemand plesier nie, nie regstaan vir iemand nie. Alleenwees is pure bederftyd.
Ek het my alleentyd nodig soos ‘n mens se liggaam kos en slaap nodig het. Anders raak ek mensmoeilik vir die geringste dingetjie.
En DIT is nie ‘n mooi gesig nie.
LIEFLIK! Voel dieselfde!
Ken die gevoel maar alte goed!
Daar is niks lekkerder as om in n skuimbad met kerse en n glas wyn alleen te wees