Morele verval

Ek wil nie eers meer die koerante lees nie.  Orals word ons gebombardeer met dade wat grens aan onbehoorlik.  As dit nie klein onskuldige babatjies is wat verwurg word nie, is dit ‘n dogtertjie wat perongeluk deur haar eie pa doodgeskiet word omdat daar rowers in die huis is.  Verder word dit in ons kele afgedruk dat ons vir die president van ons land respek moet hê terwyl hy bitter min of geen respek vir sy land se mense het nie.

Ek is siek en sat om verskoning te vra wanneer ons die regering kritiseer oor dienste wat nie gelewer word of hardverdiende belastinggeld wat in regeringsmense se persoonlike sakke beland om hul uitspattige leefstyle te subsidieer. Ek is siek en sat daarvoor om as ‘n rassis uitgeskel te word wanneer die regering nie sy werk doen nie.  Vir een of ander rede vergeet die ANC-regering deel van sy “governance” beteken om sy PERFORMancE op te skerp en dit daar te hou.

Maak die regering foute, moet die man in die straat betaal.  Verswak hy sy eie polisiediens deur kriminele aan te stel moet die man in die straat ekstra geld uithaal vir privaat sekuriteitsdienste.  Omdat basiese dienste soos gesondheidsdienste ineengeval het, moet die man in die straat derduisende rande per jaar bestee aan mediese fondse wat ons nog verder verarm.

Is ons water in ‘n toestand waar dit ondrinkbaar is, moet die man in die straat honderde rande spandeer deur waterfiltreerders by sy huis en werkplek te laat installeer.  Intussen gaan ons belastinggeld wat eintlik moet dien vir hierdie sake reguit na die banksakke van die kriminele in die regering.

Baie mense voel ons MOET die president respekteer.  Sê wie?  Die grondwet sê ek moet alle mense erken . . . niemand praat van admireer nie.  Tans is ons huidige regering se morele verval van so ‘n aard dat daar nie eintlik meer iets bestaan soos morele waardes binne die regering nie.  Net jammer van die handvol wat so hard probeer en ook onder dieselfde kam geskeer word.

Dr R J Khoza (grootkop in Nedbank) het onlangs gesê dat ons leiers nie “morals, values and ethics” het nie.  Ek stem saam.  Geen trots, geen gewete en geen bekommernisse nie.

Hierdie sussie is suur vanoggend . . . alhoewel ek eerder voel soos ouboet.

 

4 thoughts on “Morele verval

  1. Ek weet nie wat ek hierop moet antwoord nie. Ek wil eintlik my antwoord uitgil op die pieke van die hoogste berge. Ek kan nie meer met jou saamstem nie. Mens kan dit nie eers ‘n skande noem nie. Verskoon asseblief my vergelyking nou, maar ek weet nie anders nie. Ek sien die regering as ‘n sweer en die ministers as die geel etter wat daar ronddryf. Tussen hulle is daar ‘n paar witbloedselle wat hard probeer om die dinge weer gesond te kry maar die siek selle is net te veel. En asseblief, voor iemand nou weer asma kry, my vergelyking het sweet blou niks te doen met rasse of kleur of geur of wat ookal pal gebraak word nie. Net met ‘n siek stelsel wat geen medisyne wil neem nie omdat hy nie glo hy is siek nie. Lorraine, ek sou graag jou brief net so aan die president wou gee. Dis nou as hy dit sal kan lees. Ek sou graag ‘n uur saam met hom in ‘n vertrek wou sit en vrae vra. Ek sou hom graag aan ‘n paar dinge wou herinner. Soos sy struggle. En wie hom gehelp het. En nou help hy net homself en sy wywe!! As jy kwaad is, ek is hartseer. So hartseer.

  2. Liewe Desire en Lorraine
    Kwaad en hartseer. Ek wil graag ‘n gevoel van wanhoop hierby voeg, en ja, die wanhoop strek oor alle grense van kleur en geslag. Daar is soveel om oor wanhopig te voel, dat indien mens eers begin, wonder ek of ‘n mens se emosionele remme jou dalk in die steek sal raak.
    Desire, ons regering is algeheel beset deur ‘n gees van narcissisme… hulle glo almal om hulle is siek, maar kom nie agter dat hulle hulleself in die spieel sien nie.
    Mag dit nie gebeur dat ons onsensitief word nie… ek wil graag ontsteld bly oor wat met kinders en onskuldige mense gebeur. Ek wil die vermoe om te huil en de moer in te raak behou.
    Maar vergewe my disrespek… ek kan nie help om vir die president se toeter te lag nie!!!!

  3. Ek stem saam met julle albei. Suur, kwaad, de moer in, wanhoop. Is dit nie ironies dat die ANC (die letters, nie die regering nie) staan in governANCe, performANCe, acceptANCe, ens ens. Maar die ANC (regering) is nêrens te sien in hierdie woorde en ander nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *