Morele verval

Ek wil nie eers meer die koerante lees nie.  Orals word ons gebombardeer met dade wat grens aan onbehoorlik.  As dit nie klein onskuldige babatjies is wat verwurg word nie, is dit ‘n dogtertjie wat perongeluk deur haar eie pa doodgeskiet word omdat daar rowers in die huis is.  Verder word dit in ons kele afgedruk dat ons vir die president van ons land respek moet hê terwyl hy bitter min of geen respek vir sy land se mense het nie.

Ek is siek en sat om verskoning te vra wanneer ons die regering kritiseer oor dienste wat nie gelewer word of hardverdiende belastinggeld wat in regeringsmense se persoonlike sakke beland om hul uitspattige leefstyle te subsidieer. Ek is siek en sat daarvoor om as ‘n rassis uitgeskel te word wanneer die regering nie sy werk doen nie.  Vir een of ander rede vergeet die ANC-regering deel van sy “governance” beteken om sy PERFORMancE op te skerp en dit daar te hou.

Maak die regering foute, moet die man in die straat betaal.  Verswak hy sy eie polisiediens deur kriminele aan te stel moet die man in die straat ekstra geld uithaal vir privaat sekuriteitsdienste.  Omdat basiese dienste soos gesondheidsdienste ineengeval het, moet die man in die straat derduisende rande per jaar bestee aan mediese fondse wat ons nog verder verarm.

Is ons water in ‘n toestand waar dit ondrinkbaar is, moet die man in die straat honderde rande spandeer deur waterfiltreerders by sy huis en werkplek te laat installeer.  Intussen gaan ons belastinggeld wat eintlik moet dien vir hierdie sake reguit na die banksakke van die kriminele in die regering.

Baie mense voel ons MOET die president respekteer.  Sê wie?  Die grondwet sê ek moet alle mense erken . . . niemand praat van admireer nie.  Tans is ons huidige regering se morele verval van so ‘n aard dat daar nie eintlik meer iets bestaan soos morele waardes binne die regering nie.  Net jammer van die handvol wat so hard probeer en ook onder dieselfde kam geskeer word.

Dr R J Khoza (grootkop in Nedbank) het onlangs gesê dat ons leiers nie “morals, values and ethics” het nie.  Ek stem saam.  Geen trots, geen gewete en geen bekommernisse nie.

Hierdie sussie is suur vanoggend . . . alhoewel ek eerder voel soos ouboet.

 

Die blikstem-wals

green

As daar nou een ding is wat my kleinkry en waarmee ons deesdae opgeskeep sit, is dit groot maatskappye se gerekaniseerde telefoon-antwoorddiens.  Weg is die “goeiemore, good morning” van destyds en waarna ek nou met ‘n diep heimwee terugwens.

Net toe ek wou neersit na ‘n lang gelui, tel iemand aan die anderkant op.  My goeie voornemens vir die dag waai summier by die voordeur uit toe die blikstem antwoord.  My hart sak reguit tussen die vloer en politoer van my blokkiesvloer en ek kry lus om my polse te kou.

Eerstens word jy saaklik welkom geheet en vertel hulle jou dat hierdie oproep dalk opgeneem word vir kwaliteit-kontrole. (Kon nog nooit die doel daarvoor insien nie, tensy hulle wil hoor wat jy so deur alles by jouself kwytraak).  Jy wag en dan begin die vet pret. “Vir Engels druk 1, vir Afrikaans druk 2 en so ryg sy al ons 11 amptelike landstale in.  En die horlosie stap aan.

Ek wag opgewonde om ‘n vriendelike stem in my moedertaal te hoor maar blikstem stel my voor aan die verskillende keuses.  Vir Navrae druk 1, vir klagtes druk 2, vir rekeningnavrae druk 3.  Vir my klink dit almal dieselfde, boonop het ek iets vir elkeen te sê.

Met ‘n bewende vinger nader ek die foon, stres my op en wonder of ek nou die regte nommer sal druk vir die regte probleem.  Ek sug ietwat beangs en probeer terselfdertyd onthou dat my ma nie bangkinders grootgemaak het nie.

Ek doen die regte ding en maak my verantwoordelike keuse.  Ek skraap my keel skoon, probeer om my sonskynself te klink en lig my kop op, vol moed en gereed om my saak te stel.

“Vir besigheidsnavrae druk 1, vir residensiële navrae druk 2, vir ons spesiale aanbiedinge druk 3”.  My skouers sak tussen my boesem en my naeltjie.  Depressie sit nou om in agressie.  My gesig begin sweet, my hare begin “ke-têng (frizz) soos in Nataniël se troukoekstorie, maar ek probeer my bes om koel en kalm te bly.

Ek oorweeg dit om neer te sit, maar die blote feit dat ek van vooraf moet begin, laat my sidder in my spore.  Die horlosie wys ek is nou al 15 minute besig. Vir noodgeval sleep ek solank my bloeddruk- en kalmeerpille nader.

Ek haal diep asem en in die proses skeur ek byna my diafragma.  Ek maak my oë toe, bid vir krag en genade en hoop ek druk die regte nommer. “Sleutel nou u rekeningnommer in tesame met u pinnommer”.  Nou begin die hartkloppings, my kamer lyk asof ‘n helikopter land, dis net papiere wat rondwaai soos ek soek.

Uiteindelik (nadat blikstem my weer herinner het sy soek my nommers) vind ek dit en twyfel skielik, hoe het sy nou weer gesê? Eers die rekeningnommer en dan die pinnommer of is dit nou weer andersom?  Maar ek staan sterk.

Uiteindelik is ek reg, my storie agtermekaar. 21 Minute lank hou ek aan en dit moet seker nou einde se kant toe staan.  Ek maak my mond oop om sommer met die intrapslag my saak te stel, net om tot stilswye gedwing te word “Jammer dat u moes wag, al ons operateurs is tans besig.  Dankie dat u ingeskakel bly.  Sodra ‘n operateur beskikbaar is, sal daar onmiddellik aan u probleem aandag gegee word”.

Nou kom die musiek en ek hou tyd met ‘n tempo wat skrik vir niks.  My oksels begin jeuk. Ek raak nie sommer kwaad nie, maar hierdie Ousus raak nou suur.  Halfpad word die musiek onderbreek, vol hoop sit ek regop en my hartklop keer amper terug tot normaal. “Het u geweet dat ons maatskappy ook die volgende dienste aanbied?  Vir spesiale aanbiedinge druk 1, om meer inligting oor tariewe te bekom druk 2, vir nuwe besigheid druk 3”.

Ek stel nie belang nie en sit tjoepstil met die hoop sy kom niks agter nie.  Blikstem is ernstig.  Weer herhaal sy haar opdrag.  (Was sy ongeduldig die tweede keer?  Ek verbeel my ek kon dit hoor in haar stem).  Blykbaar het ek nie ‘n keuse nie en uit pure frustrasie druk ek toe-oë ‘n nommer.

Die horlosie wys ek is nou by die 29ste minuut.  My kinders kom ingehardloop, beduie my die kos brand.  Op daardie oomblik is dít die laaste van my bekommernis.  My humeur is nou warmder as die hoenderpastei in die oond.

Uiteindelik is die maatskappy se spesiale promosies, kompetisies wat gewen kan word en adresse om hul verskillende webtuistes te besoek met ‘n lied in hul stem aan my oorgedra.  “Lekker reklame-foefie op my tyd”, dink ek hardop by myself, hoopvol dat my snedige antwoord opgeneem sal word terwyl hulle die oproep toets vir kwaliteit-kontrole.  Die horlosie wys nou 39 minute.

En toe, sonder ‘n waarskuwing, vertel sy weer in haar blikstem vir my. “Dankie vir u geduld, al ons lyne is tans besig en die netwerk is oorlaai.  Skakel gerus weer later.  Onthou, ons diens is u gemoedsrus”.  Met die “beep-beep-beep” in my ore staar ek met nikssiende oë die verte in.  Met trane wat oor my wange rol wonder ek hoe lang tronkstraf sal ek kry vir telefoonwoede . . .

Fotobron : Internet