Morele verval

Ek wil nie eers meer die koerante lees nie.  Orals word ons gebombardeer met dade wat grens aan onbehoorlik.  As dit nie klein onskuldige babatjies is wat verwurg word nie, is dit ‘n dogtertjie wat perongeluk deur haar eie pa doodgeskiet word omdat daar rowers in die huis is.  Verder word dit in ons kele afgedruk dat ons vir die president van ons land respek moet hê terwyl hy bitter min of geen respek vir sy land se mense het nie.

Ek is siek en sat om verskoning te vra wanneer ons die regering kritiseer oor dienste wat nie gelewer word of hardverdiende belastinggeld wat in regeringsmense se persoonlike sakke beland om hul uitspattige leefstyle te subsidieer. Ek is siek en sat daarvoor om as ‘n rassis uitgeskel te word wanneer die regering nie sy werk doen nie.  Vir een of ander rede vergeet die ANC-regering deel van sy “governance” beteken om sy PERFORMancE op te skerp en dit daar te hou.

Maak die regering foute, moet die man in die straat betaal.  Verswak hy sy eie polisiediens deur kriminele aan te stel moet die man in die straat ekstra geld uithaal vir privaat sekuriteitsdienste.  Omdat basiese dienste soos gesondheidsdienste ineengeval het, moet die man in die straat derduisende rande per jaar bestee aan mediese fondse wat ons nog verder verarm.

Is ons water in ‘n toestand waar dit ondrinkbaar is, moet die man in die straat honderde rande spandeer deur waterfiltreerders by sy huis en werkplek te laat installeer.  Intussen gaan ons belastinggeld wat eintlik moet dien vir hierdie sake reguit na die banksakke van die kriminele in die regering.

Baie mense voel ons MOET die president respekteer.  Sê wie?  Die grondwet sê ek moet alle mense erken . . . niemand praat van admireer nie.  Tans is ons huidige regering se morele verval van so ‘n aard dat daar nie eintlik meer iets bestaan soos morele waardes binne die regering nie.  Net jammer van die handvol wat so hard probeer en ook onder dieselfde kam geskeer word.

Dr R J Khoza (grootkop in Nedbank) het onlangs gesê dat ons leiers nie “morals, values and ethics” het nie.  Ek stem saam.  Geen trots, geen gewete en geen bekommernisse nie.

Hierdie sussie is suur vanoggend . . . alhoewel ek eerder voel soos ouboet.

 

Bygelowe . . .

 

 

Oe-heh-eh . . . ek wonder hoeveel mense het vandag by die huis gebly of selfs in die bed gebly omdat hulle bang was iets slegs gaan vandag gebeur?

Ek wou ook nogal daardie truuk doen. Bel my baas en seg hom ek gaan g’n nêrens vandag nie.  Bang die onheil gaan my tref. Toe het hy te vertelle dat as ek nie 08h00 by die werk is nie gaan die onheil my in elkgeval tref want hy gaan my op die plek “FIRE”.  Ook geen sin vir onheile nie. 

Nou ja, toe pak ek maar vir handsakkie en start vir karretjie en gaan werk toe maar.  Nie dat ek enigsins bygelowig is nie, maar ek het so uitgesien na ‘n lang naweek.  (“,)  Kersfees is nog ver!!

Alle grappies op ‘n stokkie.  Dit het my nooit gepla as die 13de op ‘n Vrydag val nie.  Ek dink wel daaraan (moeilik om dit te igoreer as almal heeldag daarvan praat) maar nie met ‘n beklemming om die hart nie.  As (die onheil) wil kom, dan sal hy.

En laat ek dit dan ook maar terselfdertyd erken.  Ons kan so maklik bygelowig raak.  Oor klein goedjies wat ons nie eers altyd agterkom nie.  Ek onthou op hoërskool het ek ‘n paar oorbelletjies (kruisies) gedra en elke keer wat ek dit aangesit het, het dit vir my gevoel dinge loop net reg.  In so ‘n mate dat ek later nie meer ander oorbelle wou dra nie.

Ek moes myself dwing om anders te dink daaroor.  Gelukkig was ek nog jonk en baie modebewus en het die ewigdurende veranderde modes my gelukkig gedwing om ‘n nuwe paar te kry.

Watter “klein” bygelofies het jy wat jy met ons wil deel?  Ek sit solank die ketel aan . . . of verkies jy ietsie sterkers terwyl ons oor hierdie prettige onderwerp gesels?

Het jy dit verloor . . . ?

Het jy dit langs die pad verloor?  By die supermark in die trollie gelos? Of los jy dit sommer by voorbaat by die huis.  Of stel jy so min belang dat jy nie eers weet waar dit is nie?

Ek praat van jou vermoë om te lag.  Jou sin vir humor.  Om die snaaks in iets te sien en te waardeer.  Om, ten spyte van jou persoonlike probleme, ander met ‘n glimlag te kan verwelkom.  Of moet die hele wêreld dit nou ontgeld as jy in ‘n slegte bui is?

Daar is niks so onaantreklik as ‘n suur vrou nie.  ‘n Man ook, maar vir my is ‘n onvergenoegde vrou totaal en al teen die grein van vrouwees.  Ons moet gemaklike en lekker atmosfere skep vir ons mans, ons kinders en ons vriendinne.  Dit moet vir hulle lekker wees om in ons geselskap te wees. 

My pa het ons grootgemaak om vir onsself te kan lag.  “Eerder dit as wat iemand anders vir jou lag!”  Lag vat die plooie om die mond weg en sit dit om in lagplooitjies langs jou oë.  Vir my is dit die mooiste tekens van ouer word by ‘n vrou.

Op ons televisie is daar ‘n Corega advertensie van ‘n bejaarde vrou wat ‘n appel eet.  As ek soos sy kan lyk as ek oud is, wil ek sommer nou haar ouderdom bereik.  Wat ‘n pragtige vrou.  Ek verkyk my aan haar en selfs my oudste seun het die ander dag melding gemaak van hoe ‘n mooi vrou sy is ~ en hy is 28 jaar oud!!!

Ek weet baie sal sê “Ja, maar dis net ‘n advertensie, sy word betaal om te lag!”  Ek stem nie saam nie.  Daardie vrou is ‘n gelukkige en selftevrede vrou, haar skoonheid kom van binne, van haar hart en siel.  Sy gloei! En almal kan dit sien!

Gaan soek jou sin vir humor terug.  Lag oor die snaaks, en soms die nie-so-snaaks.  Jy sal verbaas wees hoe goed voel ‘n mens na so ‘n lagsessie. 
Dit voel soos ‘n dag by ‘n SPA . . . net goedkoper!!

Sien is glo

kruis

‘n Ruk gelede, een oggend toe ek die huis verlaat, sien ek ‘n skaduwee-kruis teen die muur wat my huis omring.  Vir ‘n oomblik was ek stomgeslaan.  Wat kan die son so afbeeld in die vorm van ‘n kruis? Iets misterieus? By verdere ondersoek sien ek dit is net die wasgoedpaal.  Ek was half teleurgesteld, ek wou hê dit moes ‘n beter verduideliking hê.

Dis toe dat ek vir myself sê dat die lewe ook maar so is.  Ons sien dinge soos ons dit wil sien.  Wil ons glo dat dinge so móét lyk.  As ons agterna uitvind dit was iets anders in die gedaante van ons ideaal, is ons teleurgesteld.

Ons plaas ons vertroue in mense, om later teleurgestel te word.  Mense oorrompel jou met valse voorwendsels, vriendelike glimlaggies en allerhande mooi beloftes en praatjies.  Net om agterna te besef dat ons in ons eie strik van goedgelowigheid geval het.  Nie dat daar iets mee skort nie, ek vir een glo, of wil glo dat die mensdom nie so korrup kan wees nie.

Die ergste is dat mense jou soms onder die dekmantel van “christenskap” flous.  Soos iemand ‘n paar jaar gelede vir my gesê het : “In die naam van Christenskap wens ek jou sterkte toe vir . . . “ Tot my ontnugtering, of liewers skok, moes ek uitvind die vrou doen die mees onchristelike ding aan my. 

Mens sou sweer na al die jare het ek darem al my les geleer, maar nee – daar is nie pille vir dom mense nie.  Aan die anderkant kan ek ook nie so met wantroue deur die lewe gaan nie.  Ek sou nie wou hê dat mense twyfel aan my woorde of my dade nie.  Dat dit wat hulle sien van my, nie ‘n verwronge beeld is van wie ek is nie.  Dat my kruis nie ‘n ysterpaal is nie.

Daagliks hoor ons van mense wat finansieel ingeloop word deur instansies. Vriende spat uitmekaar oor bedrog.  Families skeur uiteen deur geldgierigheid, vennootskappe gaan uitmekaar wanneer daar onderlangs besigheid gevoer word wat nie ‘n aanwins is vir die besigheid nie.

Afgelope jare het ons gesien dat glanspersone ook maar die publiek flous.  Aan die een kant het ons hierdie helde maar tot mense se skok moes hul uitvind die mense het voete van klei.  Was hierdie mense ons kinders se helde, baie van ons kinders se rolmodelle.  Was hulle groot klomp geld betaal – vir iets wat hulle nie eintlik was nie. Van ‘n hero tot ‘n zero!

My pa het altyd gesê as ons in die aand gaan slaap moet ons dag se doen en late van so ‘n aard wees dat jy môre-oggend jouself weer in die spieël kan kyk.  Moet jy weet jy het nie ‘n ander tenagekom met woord en daad nie.  Dat jy nie iemand se selfbeeld afgekraak het nie, niemand misbruik het vir jou eie gewin nie. 

My pa is al jare dood, maar wanneer ek soggens in die spieël kyk, weerklink sy woorde in my gedagtes.  Soms is ek nie altyd seker nie, hoop ek maar as ek terugdink aan die vorige dag, dat ek niemand bewustelik of onbewustelik seergemaak het nie.

Dit is alweer amper einde Januarie 2011.  Dit is nog nie te laat nie.  Maak reg wat verkeerd is in jou verhoudinge met mense.  Die lewe is so kort.  Ek het gister gehoor van ‘n vierjarige dogtertjie wat gesterf het na ‘n baie kort siekbed.  Sulke gebeure plaas dinge weer vir my in perspektief.  Dat ons onsself nie belangriker ag as ander nie. Dat die lewe kosbaar is.  Dat ons sagkens met mense moet omgaan.  In opregtheid.