‘n Moeder se dag . . .

Die koerante en tydskrifte was vol van hulle – vroue wat in aanmerking gekom het vir die Woman of the Year-toekennings en nominasies wat letterlik by die duisende ingestroom het. Dis almal vroue wat die naam VROU eer aan doen. In al hul glorie, professors, doktors, dokters, gewone werkende vroue en vrywilligers.

Vandag wil ek ook hiermee hulde bring aan ‘n besondere vrou. Sy haal nooit die koerante nie, ook nie tydskrif-voorblaaie nie en word nie genooi as gasspreker, seremoniemeester of motiveringspreker nie. Sy leef nie ‘n glansryke lewe nie en word nooit erken vir haar werk as moeder nie. Hierdie vrou ken ons almal, sy is selfs aan jou bekend. Ja, sy is JY!

Vandag sit ek my helderste en grootste hoed op vir jou. Ek gee vir jou die mooiste ruiker en oorhandig aan jou die algehele-wenner toekenning. Jarelank het jy (sonder om dit eers te besef) gewerk vir hierdie toekenning, sonder om te kyk wie jou dophou, niemand om jou te nomineer nie, niemand om jou werk aan die groot klok te hang nie.

Vroegoggend is sy eerste uit die vere, self nog lus om haar lyf daardie ekstra tien minute te gun onder die warm beddegoed. In die kombuis werk sy met yskoue hande die knoop aan haar man se hemp wat gisteraand met die strykwerk afgeval het. Sy het laatnag eers in die bed gekom, gesukkel om die kinders se skoolklere in die nat weer droog te kry.

Met ‘n glimlag op haar gesig en haar warm hande maak sy hulle rustig wakker, vryf hul lywe totdat hulle slaperig vir haar glimlag. Sy maak groot-oë as hulle voor skool nog ‘n stukkie huiswerk afhandel maar is vinnig by met koffie en beskuit.

Die motor staan en luier terwyl haar meisiekind onthou sy oefen vandag netbal en die bal lê nog iewers in die huis. Met ‘n skrams soen teen die wang groet hulle haar toe sy hulle by die skool aflaai en sy weet sy stuur hulle oppad na ‘n beter toekoms. So min tyd oor, en nog so baie om te doen.

Terug by die huis word ‘n bondel wasgoed in die masjien gesit, die beddens word oorgetrek en die kombuis word aan die kant gemaak. Sy eet sommer staande die oorskiet roosterbrood en sluk twee pynpille om verligting te bring vir haar menstruasiepyne met koue tee af.

Voor sy gaan werk word vleis vir die aand uitgehaal, die groente geskil en die swart sakke moet nog uitgesit word. Die kat se kos is op en sy maak haastig ‘n blikkie oop. Die tjek vir die versekering word geskryf sodat sy dit kan pos voor werk. Die motor-registrasievorms wat in die pos gekom het word geliasseer. Sy maak ‘n lysie van inkopies wat in haar etenstyd aangekoop moet word asook ‘n nota om ‘n afspraak te maak vir haar man se hare.

Terwyl die badwater loop, stryk sy gou haar werksklere. By die werk gaan dit net so woes. Haar kliënte én haar baas eis elkeen sy pond vleis. Haar kollega is doodsiek met griep en die telefoon lui onophoudelik. Voor etenstyd stuur sy vinnig vir haar man ‘n sms om hom te herinner om na hul seun se rugbywedstryd. Met die telefoon tussen haar oor en nek vasgeknyp reël sy ‘n ete vir haar baas en sy kliënte. Haar etensuur is amper te kort vir alles wat gedoen moet word.

Inkopies word weggesit en hang die wasgoed van die oggend op die draad. By die hek sien sy die gras is lank, herinner haarself om op die kalender te kyk wanneer laas die tuindienste die gras gesny het. Sy is byna laat vir die vergadering. ‘n Kollega beleef ‘n krisis en met deernis luister sy en bied haar skouer aan. Tussen-in gee sy raad aan ‘n werker wie se kind se ore sweer en teetyd ruil sy vinnig nog ‘n kitsresep uit.

Terug by die huis en sy is gereed vir haar derde skof. Nadat sy die kinders se sportklere geweek het, berei sy aandete voor. Haar seun soek raad oor die meisie in sy lewe en haar dogter eis haar aandag op en troos sy geduldig as dié kind in trane uitbars omdat sy dink sy het te vet geword.

Vir manlief wat van die werk afkom, staan daar ‘n lekker koppie koffie reg met sy gunsteling beskuit. Terwyl hy voor die televisie sit en ontspan vra sy hom uit oor sy dag. So tussen die gesels maak sy ‘n dosyn worsbroodjies vir die skool se fondsinsamelingsprojek. Sy lag saam met die kinders oor ‘n insident by die skool en herinner hulle terselfdertyd aan hulle huiswerk.

Vir 7de Laan kyk sy so tussen die kombuis en die waskamer deur en skud haar kop vir Oubaas se groot woorde van epidermiese proporsies. Kort-kort herinner sy haar seun om klaar te maak voor die rekenaar. By haar dogter se kamer staan sy ‘n paar minute stil om saam met haar te kwyl oor haar geliefkoosde sanger se nuutste CD.

Terwyl die kinders die aandskottelgoed was, maak sy die res van die huis aan die kant. Uiteindelik kom die kinders tot rus. Manlief wil gou-gou vir oulaas nog bietjie koffie hê voor hy sy moeë liggaam gaan neerlê. En waar is die boek wat voor sy bed was?

As die kinders in die bed is en die ligte feitlik almal af is, klim sy in ‘n warm bad met ‘n tydskrif, haar gedagtes vir ‘n paar minute haar eie. Nadat sy by almal se kamers ingeloer het om seker te maak hulle is warm en veilig, skuif sy haar voete onder die komberse in, versigtig om nie haar man te pla nie.

Sy lê en luister na die naggeluide, bid vir haar gesin en glimlag moeg terwyl sy wonder of sy nie more-oggend gou vir hulle ietsie lekkers moet maak vir ontbyt nie.

En soos iemand gister gesê het, die geskenke vir Moedersdae het ons eintlik al ontvang daardie dag wat jou bondeltjie liefde in jou arms geplaas word.

Vir jóú Wondervrou, Moeder, Ouma ~ jy wat vir jouself só vaal en só nutteloos voel teenoor die vroue van die wêreld, bring ek hiermee hulde aan jou! ‘n Geseënde Moedersdag vir jou!!

Skoue en feeste

Dit is Bloemskou (in Bloemfontein as iemand gewonder het) en ek beman ons werk se stalletjie vandag.  Van my kollegas vind dit erg vervelig.  Ek, aan die ander kant, geniet my gate uit.  Om mense dop te hou bly vir my ‘n heerlike tydverdryf.  Mens kan nogal baie lees aan mense se lyftale oor in watter kategorie hulle val.  Dis nou die kategorie van skou- of feesganger.

Eers kry jy die “strollers”.  Hulle bekyk die stalletjies op ‘n afstand.  Stop nooit nie, breek nooit die loopspoed nie, vra niks nie, wys geen emosie nie en hande is in sakke of agter die rug.   

Dan kry die ontdekkers.  Hulle stop by elke stalletjie, vra vrae, bevat en bevoel alles, neem al wat ‘n pamflet is, skryf kommentaar in elke besoekersboek, maar koop niks.

Volgende is die drafstappers.  Hulle hardloop deur die stalletjies, stop skielik en bekyk vinnig en woerts-warts is hulle weer op spoed.  Ek raak skoon uitasem as ek hulle dophou.

Dan is daar die arm-hakers.  Hulle kyk mekaar meer in die oë as wat hulle na die stalletjies kyk.  Dit glimlag vir mekaar, voer mekaar ‘n heerlike soetigheidjie, staar in mekaar se oë – weet regtig nie wat maak hulle hier nie, want stalletjies bekyk is defnitief nie op hulle prioriteitslys nie.

Dan, die laastes is my “favourites”.  Ek verkyk en vergaap my aan hulle.  Die man loop met ‘n frons op sy gesig, hy skud kort-kort sy horlosie om seker te maak die ding staan nie.  Hy is ongeduldig, onplesierig en ongeskik.  Sy vrou, wat so graag hier wou wees, moet maar vinnig haar ogies gooi by die stalletjies wat sy interessant vind.  Sy durf nie eers waag om haar beursie uit te haal nie.  Hoe verder die dag aanstap, hoe ongemakliker lyk hulle in mekaar se geselskap.  Nou vra ek myself . . . hoekom het hy die moeite gedoen om saam met haar te kom?

Nee kyk, hier by die skou, kry jy alle soorte.  Party is net lekkerder as ander.  Net soos die Licorice All Sorts. 

Wag, hier kom ‘n klomp ontdekkers.  Laat ek maar eers gou help!!