Propvol, oorvol, gatvol

 

Die afgelope paar jare (en veral 2020, 2021 en 2022) is ons oorlaai met inligting op sosiale media. Die negatief by verre in die meerderheid. Vandag het ek my limiet bereik. Ek is propvol, oorvol, maar veral gatvol.

Sameswering teorieë, die realiteit van die woke kultuur, COVID19, politiek – veral sleg – het ons oorval. Dood, siekte, inenting rusies, werkloosheid, vallende ekonomie, haatspraak, moord en lyding het ons lewe en ons denke kom oorneem.

Skole en kerke was meestal gesluit. Strukture tot stilstand gekom, departementele afdelings was meer toe as oop. Kinders is tussen werk en familie en vriende afgelaai. Oumense was vergete en afgesonderd in tehuise. Geliefdes moes alleen sterf sonder familie by hul sterfbed.

2020 het ons geboelie. Aan die keel en hare en korthare beetgekry en ons geskud. Ons het vanaf 2020 net een konstant gehad. Maskers en handewas en lockdowns. Sosiale afstand was maar min gehandhaaf.

Ons het gewig aangesit en ons het ons breinkrag verloor. Kinders en ouers sit voor die TV. Menigmaal nie met die beste opsies nie. En as dit nie die TV is nie, is dit selfone, tablette en rekenaars en X boxes.

Mense is gebombadeer met elkeen wat dink hy is ‘n viroloog, mediese dokter, analis, navorsing of watookal. Elkeen is reg en al die ander is verkeerd. Hoe arrogant het ons nie geword nie. Ons en julle. Hulle en julle.

Dan die nuwe tendens . . . vrae op vrae. Nuttelose vrae oor as jy slim is sal jy dalk een woord kry wat met T begin en T eindig. En almal spring in, ek inkluis aan die begin, tot ek besef het wat ‘n klug. Daar is honderde woorde wat met elke letter van die dekselse alfabet begin en met dieselfde letter eindig. En ons val daarvoor.

Deesdae is die vrae meer absurd op Facebook. En almal doen wat Simple Simon doen. As Simple Simon hande klap, dan klap ons ook maar saam. Sonder om te dink want dink het uit die mode geraak.

Ons redeneer nie meer nie. Ons is soos ‘n klomp zombies. Rigtingloos, doelloos, ankerloos, hopeloos. Kop in skouers getrek, oë grond toe. Een voet voor die ander.

Waarheen is ons oppad? Dis ‘n vraag wat my deesdae teister. Hoe gaan ons lyk oor tien jaar? Doen ons nog iets wat verder as ‘n skerm strek?

Het vanoggend iets gelees wat hierdie hele dinkding aan die dink gesit het. Ons moet onsself herprogrammeer vir die toekoms anders voorsien ek meer sosiale probleme as die huidige agteruitgang van mense en hul breinaktiwiteite. Dit wat ons doen en sê en uitdra, oordra het nodig om deur ‘n fabrieks herinstelling te gaan.

Dit het tyd geword vir langer stapsessies, mooier boeke, meer musiek. Geniet meer sonsondergange, hou meer hande vas. Rits rond in jou nabye omgewing, wees liewer vir jouself en respekteer ander, al verskil hulle van jou.

Lag meer, hê meer pret, praat meer, luister nog meer. Maak jou eie herinneringe, doen wat vir jou lekker is. Soek na dinge wat jou inspireer, dinge wat hou aspireer, al beteken dit jy moet perspireer. Dinge wat jou nie eensaam laat voel in ‘n oorvol, propvol, gatvol wêreld nie.

As ons net daarop kan fokus sal ons wêreld weer ‘n lekker plek word. Om nie eers te praat van ons lewe nie!

Ek sien uit!

~Lorraine Weitz Brand~❤️

Kopiereg voorbehou

Fotobron * Pinterest

Want ma’s weet (altyd) beter

 

Wonderlike goed, ma’s. Ek weet, want ek het een gehad en ek is self een. Is ook al ‘n ouma. Ek het my ma verloor op 11-jarige ouderdom. Tot vandag toe kan ek nog die “lewenslesse” onthou wat sy my geleer het. Die Bybel leer ons nie verniet “eer jou moeder en jou vader” nie.

Mooi loop!

~Lorraine Weitz Brand~❤

Kopiereg voorbehou

Fotobron : Internet

Vullissakke

Soos ander mense se boeke duister is om te lees, so is ook hulle vullissakke. Ek kom nooit agter watter tipe en hoeveel vullissakke mense uitsit nie, behalwe oor vakansies. Die vullis pla my nie, maar met die vakansiemense wat hier kuier, sien jy elke week die stapels vullissakke raak meer, in jou eie huishouding en die van ander.

Dit laat my nogal dink aan ons persoonlike lewens. Elke week sit ons ook ons vullissakke uit, hoop ons dit sal verwyder word sodat ons elke week skoon kan begin, bid ons dat die honde dit nie sal oopskeur sodat volk en vaderland kan sien wat in ons lewens gebeur nie.

Sommige van ons lewenssakke het net persoonlike vullis in. Dis gevul met argwaan, arrogansie, selfsug en selfbelang. Krap jy hierin sal sy sien dat dit selfgeadresseerde vullis is.

Elke stukkie gemors begin met die woorde, “My” en “Ek”. Is hierdie sakke gewoonlik nie swart nie, maar deurskynend sodat ander hulle tog net kan raaksien. Sien jy nooit die vernietigende stukke van ander mense se lewens in jou sak nie, want tipies van hierdie mens is sy sak oorvol van homself.

Dan is daar sakke wat gevul is met niks. Hierby bedoel ek nie niks in gewig nie, maar niks in waarde nie. Hierdie persoon se sakke getuig van ‘n lewe wat doelloos rondgejaag word.

Iemand wat nooit vir ‘n paar minute op ‘n dag stilgestaan het nie, wat nie tyd gemaak het vir sy eie familie, vriende of medemens nie. Dit is amper soos die swartsak wat jy vul nadat almal hul kersgeskenke oopgemaak het, vol mooi gekleurde papiere, maar waardeloos.

Jy sal ook tussen die vullis, swartsakke kry wat gevul is met leed – hartseer, moedeloosheid, finansiële swaarkry, gebroke verhoudings, magteloosheid en frustrasies. Maak nie saak hoeveel sakke jy weekliks uitsit nie, dis asof die vulliswa verby jou ry en jou sakke nooit optel nie.

Begin jy maar elke week weer met dieselfde hoeveelheid sakke wat jy uitgesit het. Groei dit week na week, kry jy nooit kans om van vooraf skoon te begin nie. Hierdie sakke raak later te veel vir jou en ploeter jy naderhand maar voort in die bodem van jou vullis.

Party mense is lief om jou swartsakke met hulle vullis vol te maak. Mense wat afhanklik is van drank, dobbel en ander verslawings en sy huismense verbaal en fisies aanrand. Mense wat die groenoog-monster nie kan baasraak nie en die lewe vir ander hel maak.
Hulle wat familie, vriende en vreemdes finansieel indoen en bedrieg. Mense wat ander niks gun en hulle doelbewus seermaak en verkleineer. Maak dit dat jou sak naderhand wil skeur, sukkel jy om dit behoorlik toe te kry, wat nog te sê om dit tot by die optelpunt te dra.

Dan kry jy diegene wat hul eie sakke vul met misdaad. Verkragting, moord, kindermolestering- en mishandeling, rooftogte, korrupsie, egbreuk. Hou hulle hierdie sakke so styf toe totdat dit eendag te vol is en oopbars op die mees onmoontlikste tyd en plek. Veroorsaak dit soveel gemors in hul eie en ander se lewens dat geen vulliswa dit kan red nie.

Ek dink die meeste van ons persoonlike swartsakke is gevul met so ‘n ietsie-van-alles. Elke dag se geskinder, kleinlikheid, onverdraagsaamheid, liefdeloosheid, jaloesie, ongeduld, selfsug en ander klein jakkalsies wat die wingerd tog so graag verniel.

Miskien moet ons liewer ons sakke verruil vir kleurlose sakke. Vul ons dit met hoop, geloof en liefde. Vul ons dit met gedagtes en dade wat ander se lewens positief sal aanraak. Wat ‘n verskil sal maak in lewens. Wat sal help om ander se swartsakke ligter of minder te maak. Wat sal help om ander se swartsakke te dra tot by die optelpunt.

Laat ons eie sakke weekliks minder en kleiner word van selfsug en eiewaan en eerder meer en oorloop van goeie dinge. Mag die res van hierdie jaar (bietjie wat daar oor is) vir jou vreugde, vrede en voorspoed bring!

Mooi loop!

~Lorraine Weitz Brand~❤

Kopiereg voorbehou

Fotobron : Internet