Propvol, oorvol, gatvol

 

Die afgelope paar jare (en veral 2020, 2021 en 2022) is ons oorlaai met inligting op sosiale media. Die negatief by verre in die meerderheid. Vandag het ek my limiet bereik. Ek is propvol, oorvol, maar veral gatvol.

Sameswering teorieë, die realiteit van die woke kultuur, COVID19, politiek – veral sleg – het ons oorval. Dood, siekte, inenting rusies, werkloosheid, vallende ekonomie, haatspraak, moord en lyding het ons lewe en ons denke kom oorneem.

Skole en kerke was meestal gesluit. Strukture tot stilstand gekom, departementele afdelings was meer toe as oop. Kinders is tussen werk en familie en vriende afgelaai. Oumense was vergete en afgesonderd in tehuise. Geliefdes moes alleen sterf sonder familie by hul sterfbed.

2020 het ons geboelie. Aan die keel en hare en korthare beetgekry en ons geskud. Ons het vanaf 2020 net een konstant gehad. Maskers en handewas en lockdowns. Sosiale afstand was maar min gehandhaaf.

Ons het gewig aangesit en ons het ons breinkrag verloor. Kinders en ouers sit voor die TV. Menigmaal nie met die beste opsies nie. En as dit nie die TV is nie, is dit selfone, tablette en rekenaars en X boxes.

Mense is gebombadeer met elkeen wat dink hy is ‘n viroloog, mediese dokter, analis, navorsing of watookal. Elkeen is reg en al die ander is verkeerd. Hoe arrogant het ons nie geword nie. Ons en julle. Hulle en julle.

Dan die nuwe tendens . . . vrae op vrae. Nuttelose vrae oor as jy slim is sal jy dalk een woord kry wat met T begin en T eindig. En almal spring in, ek inkluis aan die begin, tot ek besef het wat ‘n klug. Daar is honderde woorde wat met elke letter van die dekselse alfabet begin en met dieselfde letter eindig. En ons val daarvoor.

Deesdae is die vrae meer absurd op Facebook. En almal doen wat Simple Simon doen. As Simple Simon hande klap, dan klap ons ook maar saam. Sonder om te dink want dink het uit die mode geraak.

Ons redeneer nie meer nie. Ons is soos ‘n klomp zombies. Rigtingloos, doelloos, ankerloos, hopeloos. Kop in skouers getrek, oë grond toe. Een voet voor die ander.

Waarheen is ons oppad? Dis ‘n vraag wat my deesdae teister. Hoe gaan ons lyk oor tien jaar? Doen ons nog iets wat verder as ‘n skerm strek?

Het vanoggend iets gelees wat hierdie hele dinkding aan die dink gesit het. Ons moet onsself herprogrammeer vir die toekoms anders voorsien ek meer sosiale probleme as die huidige agteruitgang van mense en hul breinaktiwiteite. Dit wat ons doen en sê en uitdra, oordra het nodig om deur ‘n fabrieks herinstelling te gaan.

Dit het tyd geword vir langer stapsessies, mooier boeke, meer musiek. Geniet meer sonsondergange, hou meer hande vas. Rits rond in jou nabye omgewing, wees liewer vir jouself en respekteer ander, al verskil hulle van jou.

Lag meer, hê meer pret, praat meer, luister nog meer. Maak jou eie herinneringe, doen wat vir jou lekker is. Soek na dinge wat jou inspireer, dinge wat hou aspireer, al beteken dit jy moet perspireer. Dinge wat jou nie eensaam laat voel in ‘n oorvol, propvol, gatvol wêreld nie.

As ons net daarop kan fokus sal ons wêreld weer ‘n lekker plek word. Om nie eers te praat van ons lewe nie!

Ek sien uit!

~Lorraine Weitz Brand~❤️

Kopiereg voorbehou

Fotobron * Pinterest

Wat nou . . .

all-things-beautiful-art-blue-conceptual-couple-couples-Favim.com-38447_large

 

Ek het myself die vraag die afgelope paar dae gevra.  Ek het geen nuwejaarsvoorneme gehad nie (hou dit nooit by nie en ek lieg nie meer vir myself nie) en het redelik alles bereik wat ek wou bereik het in die lewe.

Ek wil nie meer werk tot ek in die baas se stoel sit nie, het klaar my “share” gehad van skolefunksies, kerkfunksies en fondsinsamelingfunksies vir watter organisasie ek betrokke was.  Ek het diegene in nood gehelp en wou soms ander oor die rant help as dinge te woes gegaan het.

My kinders is groot en getroud en ek het ‘n kleinkind en nog om na uit te sien.  Ek en manlief grom al lankal nie meer vir mekaar nie en kan lang ure bymekaar wees sonder om ‘n woord te seg en dit nog te geniet ook.  Ons belangstellings is dieselfde en ons verskil min van mekaar . . . net as hy nie saamstem met my nie.   Ek lewe in vrede met bure, vriende, familie (die aangetroudes ook) en vyande.

Was nou nie regoor die wereld nie maar het in my dae ‘n paar plekke besoek.  En dit geniet.  Ek het al drie biblioteke vol gelees, films gekyk . . . mooies en minder mooies, en het my stem dikgemaak in politieke kommentaar.  “Mind you” . . . so erg dat ek vir ‘n baie lang ruk “verban” was.  Ek het ge-eksperimenteer met vreemde kosse, wyne en tale . . . die kos is reguit heupe toe, die wyn kop toe en die tale by die een oor in en ander een uit.

My hare was al rooi en my naels swart.  Mini’s pas ek nie in nie en alles “hang letterlik af” wat ek aantrek.  Het die gym besoek op my dae dat my go uithang, sonder enige noemenswaardige sukses.  Dieselfde vir diete.  Ek kan boeke skryf oor onsuksesvolle diete (deur my).

Raak lankal nie meer geirriteerd met die verkeer nie en wys ook nie die hele alfabet op my een hand as iemand voor my inswaai nie.  Druk nog net nou en dan die toeter as iemand op my afpyl of rommel uit die venster gooi.  Tik nie meer my voet in lang rye nie en rol nie my oe vir swak diens nie.

Ek weier om heruitsendings van twintig jaar gelede vir die vyfde maal te kyk.  Ek kan al saampraat met die akteurs/aktrises.   Ek drink nie meer Coke nie want dit proe al lankal nie meer soos Coke nie . . . dieselfde geld vir Wilson toffies.  Ek plant nie meer rose nie want vandag se goed ruik na niks.

Wat bly nou oor . . .

Al die lekker dinge . . .  ‘n sonsondergang of nog beter, my beste . . . sonopkoms.  Daar is iets omtrent die son se eerste strale wat my energie gee vir die dag, hoop vir die toekoms.

Ek staan buite in die reen dat die druppels by my ore afloop sonder om oor my kapsel/klere te bekommer.

Ek speel modderdiep saam met my kleinkind en vertel honderd keer dieselfde storie vir haar.  Sonder dat ek of sy moeg word.

Ek en manlief giggel oor verspottighede dat ons soms aan die bed moet vashou om nie af te val nie.

Wanneer die geleentheid hom voordoen kuier ons en die kinders ‘n hond uit die bos.  Ons praat en lag en “onthou-jy-nog’s” lank nadat Klaasvakie gaan slaap het.

Ek en manlief bid saam, lag soms saam en huil soms saam (oudword is nie vir sissies nie) . . .  en praat van ouderdom . . . ons help mekaar op wanneer dit moet en herinner mekaar om ons pille te drink.

Ons beproef koffie en koek by koffiewinkels . . . hy die koffie en ek die koek.  Ons luister tjello musiek en kyk August Rush vir die hoeveelste maal.  Ons blaai deur boeke en lees vir mekaar voor.  Ons  le en droom . . . kan jou se waaroor as ek net kan onthou . . .

Dankie tog vir hierdie “wat nou” in ons lewe . . . dis heerlik en ek verruil dit vir niks!!!


©

Watter soort blom is jy?

Nou dat Lente amper hier is (jippie!!!!) begin my kop weer na die tuin staan.  Is ek lus vir kleur na die verskriklike koue winter waar alles in die Vrystaat verdor tot ‘n melankoliekerige kleur van ‘n lewelose wit en vaalgeel.  Kry ek lus vir bessierooi, purperpers, goudgeel, spookasempienk en kobaltblou kleure in my tuin. 

Min mense wat my ken weet dat die rooi hisbiskus my gunsteling blom is.  Daar is iets omtrent hierdie blom wat met my siel werfskaf.  Het hoeka vir manlief gesê die dag as ek oorle hoef hy nie my graf met vars blomme te bedek nie.  Plant vir my eerder ‘n bloedrooi hisbiskus.  Twee sal ook “nice” wees.  Ek kan terselfdertyd in die koelte lê, my vel brand hoeka tog te vinnig en ek kan my terselfdertyd verlekker aan die mooi kleure.

Lank terug roep ‘n vrou my agterna terwyl ek wegstap.  Ons het mekaar geken maar nie as vriendinne nie.  Net nou en dan op straat of in winkels mekaar gegroet en hier en daar ‘n paar woorde gewissel. 

 Hierdie spesifieke dag sê sy vir my, “Weet jy, ek wou al lankal vir jou sê jy laat my altyd aan ‘n bloedrooi hisbiskus dink.”  Daar staan ek, skoon verstom ~ en die volgende oomblik huil ek dat die biesies bewe.

Die arme vrou is in ‘n toestand, vra wat het sy verkeerd gesê en ek probeer vir haar verduidelik sy het alles reg gesê.  Ek was juis die dag op ‘n laagte en my selfbeeld was nie op standaard nie en hier kom sy en sê ek laat haar dink aan my geliefkoosde blom. 

Dit was mooipraat om haar beter te laat voel, maar of sy ooit sal verstaan wat sy daardie dag vir my beteken het, dit weet ek nie.  Ek was op ‘n wolk.  Dat ‘n paar woorde my so vinnig uit die as kon tel! 

Van daardie dag af probeer ek om mense as blomme te sien.  Daar is ‘n paar rose, sonneblomme, sweet-peas, lelies en viooltjies onder my vriendinne en kennisse.  En daar is ook ‘n kaktus of twee. As jy die dorings miskyk en dit mooi hanteer is hulle net so pragtig soos die ander blomme.

Watter blom is jy?  Hoe sien jy jouself in hierdie wêreld waar water en kunsmis (liefde, vergifnis, aanvaarding ens) maar skaars is?  ‘n Wêreld waar ons mekaar eerder flenters trap onder ons voete en die versorging en instandhouding van vriendskappe maar yl gesaai is?

Kan jy blom sonder die nodige instandhouding, of is jy die tuinier wat van een blom na ‘n ander blom hardloop met die tuinslang maar in die proses nooit ‘n druppel water vir jouself oorhou nie?

Laat ons blom, nie net vir die oog van ander nie, maar ook vir die selfbevrediging wat dit aan onsself gee.

Volmaan en feite

maan

O die darling van my, o die darling van my . . . maar ek het maar my bedenkinge.  Snaakse spesie, die klomp mans.  Iewers met die aanmekaarsit van ‘n man is die instruksies verkeerd gelees of nie verstaan nie.  So sien ons dwarsdeur hulle.   “Dis duidelik’, sing ek saam met die Brasse van die Kaap.

Waarom party vroue nog tyd en energie kry om verhoudings buite hul huwelik aan te knoop, bly vir my ‘n raaisel.  Een op ‘n slag is meer as wat ek met my brose lyfie kan hanteer.  Dan is ek boonop nog lief vir myne.  So om die koffietafel vra ek mos nou die anderdag vir ‘n vriendin of sy weer sal trou.  Sy verstik amper aan haar swartwoudkersiekoek.  “Ek sal nie eers saambly nie.”  En sy was gelukkig getroud!

Waar het die fout nou presies ingetree, vra ek myself vir die duisendste maal.  Net soos jy dink hy het mens geword, glip daar weer ‘n geit uit soos ‘n vrypuisie.  Op die mees onmoontlikste tyd en plek, en net so onwelkom.  Die skoene wat hy al ‘n geruime tyd dra, is nou kwansuis vandag nie meer reg nie.  En waar is sy skoolrugbytrui van vergange dae? Tien jaar terug het hy ook dieselfde vraag gevra en nadat jy amper ‘n arm en ‘n enkel gebreek het in die soekproses het hy toe ook in elkgeval niks daarmee gemaak nie.

Ek het gelukkig geleer deur die jare.  Maak soos ek, gooi dit met die tyd weg, skud jou kop ongelowig saam omdat dit nie meer op sy ou plek is nie en pleit bewusteloos.  Gee die visvang die skuld. Natuurlik weer langs die water laat lê!  Die trui pas in elkgeval al lankal nie meer oor die rondings van sy lyf nie – waarom hom nou nog verder daarmee opstres?  Die res van die dag skrop hy soos ‘n bleshoender rond en wissel dit af met dramatiese sugte en ‘n gesig wat boekdele spreek.  Hierdie houding en lyftaal van hom sal hom loshande ‘n Oscar laat wen.

So loop soek hy toe mos sy tang en kry dit toe ook nie.  Die duiwel loop nou viervoet in die huis rond, maar ek kap hom ‘n ignore – soos wat die kinders sal sê.  Laaie word oopgepluk en onderstebo gekrap.  Die kinders kry die skuld, as hulle tog net sy goed wil uitlos of dit dan net tenminste terug wil sit waar hulle dit gekry het.  Hy weet ook maar goed om my nie te betrek by hierdie onvergeeflike misdaad nie. Met ‘n niemand-verstaan-my-nie kyk in sy oë kom hy naderhand sleepvoet die sitkamer in.

Hy val in sy stoel.  Hy sê niks en ek sê niks.  Daar sluip so ‘n koue front in die huis. Jy moet hare op jou tande hê.  Ons gluur mekaar aan soos stoeiers in ‘n kryt.  Ek wonder so in my stilligheid of dit volmaan is en maak ‘n denkbeeldige nota om te kyk of hierdie houding van hom ‘n vaste patroon begin vorm.  Is dit so, neem ek elke volmaan langverlof.

So sit hy daar, dikvies en vêr van die huis af.  Gryp die kontrole en draf deur al wat ‘n televisiekanaal is.  Meer as eenkeer binne ‘n baie kort tydjie.  Net as ek die draad van die storie kry, verander Ondier dit weer. Man, sal ek graag daardie persoon wil ontmoet wat die verduiwelse kontrole ontwerp het.

Ek sug en slaan my oë op na die hemel en bid vir genade, want soos die tannie op televisie sê as sy moet bid vir krag, slaat sy hom disnis met die vuis.  Boonop weier ek om hom te vra wat fout is.  Dit opsigself kan dalk ‘n lang storie word.

Laatmiddag vra ek sommer so in die verbyloop of ons nie maar ‘n vleisie op die kole kan gooi nie.  En kyk hoe lyk hy toe!  Soos ‘n kat wat ‘n piering room present gekry het.  Wonder of dit iets te doene het met sy voorvaders se primitiewe manier van kosmaak of is dit eerder ‘n geval van gesneuwelde hormone wat nou uiteindelik in gelid marsjeer?

Gelukkig is hy nooit te moeg of te kwaad om ‘n vuurtjie aan te steek nie.  Sodra die kole aan die gang is en hy homself tuismaak voor die hitte, kan jy met hom koekies bak.  So sag soos deeg in jou hande.  Skoon heimwee omdat jy nie by hom wil sit nie.  Droom drome so lank soos Jan se boontjierank.  Die wêreld kan nou om hom vergaan en daar is niks wat hom nou kan omkrap nie.  Skoon vergeet van sy geite.  Onthou ook sommer nou skielik hy het sy tang vir sy buurman geleen.

Half verleë skop hy in die gras en vra omverskoning vir sy ongeduld.  Laataand voor die vuur is die vrede herstel tussen man en vrou.  Alles is nou weer normaal op die tuisfront.  Dis dan wat ek besef  wat ware liefde werklik is – om iemand onvoorwaardelik lief te hê met foute en al en om dit te vergewe – ook myne vir dié dae wat die hormone my ook maar onderkry en niks reg wil verloop nie!
 ©

Fotobron : Internet

Mona Lisa

 

Oor 'n koppie koffie

Gister het ek na mooi prentjies op die internet gesoek en kom af op ‘n paar van Mona Lisa.  In my stilligheid wonder ek.  Sy is nie juis ‘n model nie.  Ook nie maer nie en het nou nie juis die mooiste klere aan nie – maar sy is verreweg seker die vrou waarvoor die meeste betaal is. 

Hoe meer ek na haar prentjie kyk, hoe meer voel ek soos sy. Besef ek ons twee het heelwat in gemeen. Daar is ‘n Mona Lisa in elkeen van ons.  Is ons ook maar die Mona Lisa’s van die wêreld, van ons eie lewens.  Van omstandighede.  Produkte van ons keuses, reg of verkeerd.  Kan ons ons vereenselwig met haar.

1              Sy  is ‘n vrou. 

2              Sy is nou nie eintlik ‘n oil painting nie.  Al is sy in olie geverf. 

3              Sy is ‘n misterie.  Niemand weet veel van haar nie.

4              Daardie beroemde glimlaggie weerspieël nie eintlik iets van haar emosies nie.  Weet sy dalk iets wat ek nie weet nie, of hou sy maar net haar “pose”.

5              Sy dien as versiering.

6              Sy maak baie mense gelukkig.7              Sy is alombekend, van my ou-oumagrootjie tot my vriendin se kleuter weet wie en wat is die Mona Lisa.

8              Sy is kosbaar en waardevol.

9              Sy is ‘n internasionale ikoon.

10           Sy het ‘n hart wat kan seerkry, liefhê en bly wees oor mooi goeters.

Besef ek dat daar baie Mona Lisas is wat op hierdie aarde rondloop.  Ek sien hulle elke dag – ek praat met hulle elke dag.  Van hulle is my familielede, my vriendinne, my kennisse.  Die vrou agter die toonbank, die ma wat haar kind by die skool gaan optel, die wasgoed ophang, kosmaak vir haar gesin en haar eie drome en vrese het.

Ons lewe is soos ‘n skoon skilderdoek.  Verf ons die prentjie van ons eie Mona Lisa beeld daarop.  Vir ander is ons lewe ‘n toe boek, maar een ding staan soos ‘n paal bo water – al hierdie punte hierbo kan ons in ons eie lewe mee identifiseer. 

Las elkeen van ons ‘n kleurtjie by die lewe daarbuite en laat ons ‘n geurtjie agter.  Wit kan nie uitstaan as daar nie swart is om dit teen te meet nie.  Hartseer kan nie oorwin word as daar nie vreugde is wat ons motiveer nie.  Ons kan ïnspireer, aspireer en in die meeste gevalle, perspireer. 

Soms wonder ek of die vroue in die middeleeue wat as hekse verbrand was – nie eerder ‘n bedreiging vir die man en die kerk was nie.  ‘n Vrou is spesiaal, ons kan (en kon destyds al) ons mense gesond maak met kruie, die tye van die weer bepaal met die maansiklusse (wie weet beter van maand(stonde)siklusse as ons) en kon ‘n hele huishouding/besigheid/huwelik/gesinslewe/versorger/voortplanting/raadgewer/trooster vrou-alleen hanteer. 

Vandag word mense (meestal mans) professionele fooie vir al hierdie beroepe betaal – finansiële adviseurs, besigheidskonsultante, huwelikberaders, gesinsadvokate, dokters, ginekoloë en sielkundiges.  Ons doen dit al van die eerste dag wat Eva geskep is.  “Been there, done that” en het al die t-hemde om dit te wys!!

Ons is ook nie bang om te wys ons gee om of stel belang in ‘n ander vrou nie.  Ons kan mekaar komplimenteer oor ons klere, haarstyle, juwele, suksesse sonder dat ons bang is die wêreld kyk vir ons skeef (so reken mans).   Het jy al gesien dat een man vir ‘n ander sê “Jis ja, daai jean sit darem netjies aan jou lyf!” ?  Of “jinne, maar jou hare lyk stunning, wie is jou haarkapper – jy moet tog  sy nommer vir my gee!!”  Behoede my!

Ons aanvaar makliker, vergeef makliker, help makliker, verstaan makliker.  Ons huil makliker, lag makliker en kry makliker lief.  Ek weet ek kla soms oor die “vroudinge” – menstruasies, beenhare verwyder, onderklere wat druk en span – maar gee my enige dag die lewe van ‘n vrou!

Ons is vroue – ons kan want ons MAG!

Lorraine