Winkelpoppe . . .

So sit ek eendag lank terug by ‘n verkeerslig terwyl ek wag dat dit moet oorslaan sodat ek kan ry en my oog vang die paar winkelpoppe wat spoggerig in die winkelvenster staan. Popmooi, perfek gebou, lyk soos modelle, nie ’n haar uit hul plek nie, keurig aangetrek, grimering foutloos en perfekte glimlaggies op die gesigte. Amper begeer ek toe om so te kan lyk.

Terselfdertyd stap daar drie bruin vroue (ek skat so in hul veertigs) verby en bekyk die winkelpoppe toevallig ook van kop en tone. Met die omdraaislag hoor ek hulle lewer kommentaar. “Nee man, sy staan dan net daar en smile. As sy eers moet begin werk, change die hele picture en sal sy ook nie meer so heeldag smile nie en boonop kan sy nie . . . . nie!” En sê iets wat ek nie hier kan herhaal nie, maar lag hulle dood vir hulle privaatgrappie.

Dis waar ek toe smile en is toe maar bly ek is nie ‘n winkelpop nie. Gelukkig leef ek. Ek sweet as ek warm kry, is ongeduldig as dinge nie dadelik regkom nie, raak moedeloos vir my probleme, vererg my vir onbeskofte motoriste, lê met een oor/oog oop vir ingeval ek oorval word in my eie huis terwyl ek slaap, my begroting wil nie altyd klop nie en soms wys ek en manlief vir mekaar tande as ons geïrriteerd raak.

Wat daarvoor opmaak en al hierdie negatiewe dinge soos mis voor die son laat verdwyn, is die liefde van my man en my kinders. Familielede wat omgee, vriendskappe wat letterlik my lewensdrup is, my katte se kapperjolle, mense se komplimente (die kritiek hoor mens gelukkig nie sommer so reguit nie), ‘n onverwagte glimlag van ‘n vreemdeling, ‘n kind se skaterlag, die reuk van reën, die blou see, ons mooi berge en die aanskoue van ‘n groot, groot boom.

Oral in die wêreld kry jy vroue wat lyk en handel soos winkelpoppe. Koud, leweloos en maak nie ‘n verskil in die lewe nie. Die mense rondom haar kan nie naby haar kom nie. Sy het nie ‘n hart nie. Haar glimlag is vals, haar oë koud en ongenaakbaar. Sy kan haar arms nie om iemand sit en troos wat dit dalk broodnodig het nie. Sy kan nie buk om haar kind op te tel, op die heup te sit en liefderyk teen haar te druk nie.

Sy kan nie in haar man se arms lê en hom van haar liefde verseker nie, kan nie ‘n klein katjie of hondjie vryf of blomme vir haar vriendin uit haar tuin pluk nie. Sy kan nie die reën ruik, die blou see sien, onder ‘n groot koelteboom ontspan of ‘n interessante boek lees nie. Musiek bereik nie haar siel nie. Sy kan nie heerlike kos geniet en saam met haar gesin om die tafel sit nie.

Sy is te besig om die perfekte prentjie van haar uiterlike voor te sit en te onderhou. Alles in die lewe gaan oor haarself en hoe sy lyk vir ander. Nooit sal jy haar sonder grimering, kaalvoet of deurmekaarhare vang nie. Sy laat nooit die gordyn voor haar hart of haar oë sak nie. Leer jy nooit die ware vrou agter die kapsel, grimering en boetiekuitrustings nie.

Nee wat, so ‘n perfekte prentjie klink vir my nogal na vreeslike harde werk. Ek weet die gesegde lees : “you have to be cruel to be beautiful” maar iewers op ‘n tyd in jou dag moet jy jou man ‘n lekker drukkie kan gee sonder dat jy bang is jou lipstiffie smeer, jou kleinkind met jou hare laat speel, jou vingers in die grond druk om ‘n roosboom te plant, kaalvoet op die rotse en strand speel en soms al jou grimering aflag vir die snaakshede in die lewe! Dan is jy eers mens!

Volmaan en feite

maan

O die darling van my, o die darling van my . . . maar ek het maar my bedenkinge.  Snaakse spesie, die klomp mans.  Iewers met die aanmekaarsit van ‘n man is die instruksies verkeerd gelees of nie verstaan nie.  So sien ons dwarsdeur hulle.   “Dis duidelik’, sing ek saam met die Brasse van die Kaap.

Waarom party vroue nog tyd en energie kry om verhoudings buite hul huwelik aan te knoop, bly vir my ‘n raaisel.  Een op ‘n slag is meer as wat ek met my brose lyfie kan hanteer.  Dan is ek boonop nog lief vir myne.  So om die koffietafel vra ek mos nou die anderdag vir ‘n vriendin of sy weer sal trou.  Sy verstik amper aan haar swartwoudkersiekoek.  “Ek sal nie eers saambly nie.”  En sy was gelukkig getroud!

Waar het die fout nou presies ingetree, vra ek myself vir die duisendste maal.  Net soos jy dink hy het mens geword, glip daar weer ‘n geit uit soos ‘n vrypuisie.  Op die mees onmoontlikste tyd en plek, en net so onwelkom.  Die skoene wat hy al ‘n geruime tyd dra, is nou kwansuis vandag nie meer reg nie.  En waar is sy skoolrugbytrui van vergange dae? Tien jaar terug het hy ook dieselfde vraag gevra en nadat jy amper ‘n arm en ‘n enkel gebreek het in die soekproses het hy toe ook in elkgeval niks daarmee gemaak nie.

Ek het gelukkig geleer deur die jare.  Maak soos ek, gooi dit met die tyd weg, skud jou kop ongelowig saam omdat dit nie meer op sy ou plek is nie en pleit bewusteloos.  Gee die visvang die skuld. Natuurlik weer langs die water laat lê!  Die trui pas in elkgeval al lankal nie meer oor die rondings van sy lyf nie – waarom hom nou nog verder daarmee opstres?  Die res van die dag skrop hy soos ‘n bleshoender rond en wissel dit af met dramatiese sugte en ‘n gesig wat boekdele spreek.  Hierdie houding en lyftaal van hom sal hom loshande ‘n Oscar laat wen.

So loop soek hy toe mos sy tang en kry dit toe ook nie.  Die duiwel loop nou viervoet in die huis rond, maar ek kap hom ‘n ignore – soos wat die kinders sal sê.  Laaie word oopgepluk en onderstebo gekrap.  Die kinders kry die skuld, as hulle tog net sy goed wil uitlos of dit dan net tenminste terug wil sit waar hulle dit gekry het.  Hy weet ook maar goed om my nie te betrek by hierdie onvergeeflike misdaad nie. Met ‘n niemand-verstaan-my-nie kyk in sy oë kom hy naderhand sleepvoet die sitkamer in.

Hy val in sy stoel.  Hy sê niks en ek sê niks.  Daar sluip so ‘n koue front in die huis. Jy moet hare op jou tande hê.  Ons gluur mekaar aan soos stoeiers in ‘n kryt.  Ek wonder so in my stilligheid of dit volmaan is en maak ‘n denkbeeldige nota om te kyk of hierdie houding van hom ‘n vaste patroon begin vorm.  Is dit so, neem ek elke volmaan langverlof.

So sit hy daar, dikvies en vêr van die huis af.  Gryp die kontrole en draf deur al wat ‘n televisiekanaal is.  Meer as eenkeer binne ‘n baie kort tydjie.  Net as ek die draad van die storie kry, verander Ondier dit weer. Man, sal ek graag daardie persoon wil ontmoet wat die verduiwelse kontrole ontwerp het.

Ek sug en slaan my oë op na die hemel en bid vir genade, want soos die tannie op televisie sê as sy moet bid vir krag, slaat sy hom disnis met die vuis.  Boonop weier ek om hom te vra wat fout is.  Dit opsigself kan dalk ‘n lang storie word.

Laatmiddag vra ek sommer so in die verbyloop of ons nie maar ‘n vleisie op die kole kan gooi nie.  En kyk hoe lyk hy toe!  Soos ‘n kat wat ‘n piering room present gekry het.  Wonder of dit iets te doene het met sy voorvaders se primitiewe manier van kosmaak of is dit eerder ‘n geval van gesneuwelde hormone wat nou uiteindelik in gelid marsjeer?

Gelukkig is hy nooit te moeg of te kwaad om ‘n vuurtjie aan te steek nie.  Sodra die kole aan die gang is en hy homself tuismaak voor die hitte, kan jy met hom koekies bak.  So sag soos deeg in jou hande.  Skoon heimwee omdat jy nie by hom wil sit nie.  Droom drome so lank soos Jan se boontjierank.  Die wêreld kan nou om hom vergaan en daar is niks wat hom nou kan omkrap nie.  Skoon vergeet van sy geite.  Onthou ook sommer nou skielik hy het sy tang vir sy buurman geleen.

Half verleë skop hy in die gras en vra omverskoning vir sy ongeduld.  Laataand voor die vuur is die vrede herstel tussen man en vrou.  Alles is nou weer normaal op die tuisfront.  Dis dan wat ek besef  wat ware liefde werklik is – om iemand onvoorwaardelik lief te hê met foute en al en om dit te vergewe – ook myne vir dié dae wat die hormone my ook maar onderkry en niks reg wil verloop nie!
 ©

Fotobron : Internet