Winkelpoppe . . .

So sit ek eendag lank terug by ‘n verkeerslig terwyl ek wag dat dit moet oorslaan sodat ek kan ry en my oog vang die paar winkelpoppe wat spoggerig in die winkelvenster staan. Popmooi, perfek gebou, lyk soos modelle, nie ’n haar uit hul plek nie, keurig aangetrek, grimering foutloos en perfekte glimlaggies op die gesigte. Amper begeer ek toe om so te kan lyk.

Terselfdertyd stap daar drie bruin vroue (ek skat so in hul veertigs) verby en bekyk die winkelpoppe toevallig ook van kop en tone. Met die omdraaislag hoor ek hulle lewer kommentaar. “Nee man, sy staan dan net daar en smile. As sy eers moet begin werk, change die hele picture en sal sy ook nie meer so heeldag smile nie en boonop kan sy nie . . . . nie!” En sê iets wat ek nie hier kan herhaal nie, maar lag hulle dood vir hulle privaatgrappie.

Dis waar ek toe smile en is toe maar bly ek is nie ‘n winkelpop nie. Gelukkig leef ek. Ek sweet as ek warm kry, is ongeduldig as dinge nie dadelik regkom nie, raak moedeloos vir my probleme, vererg my vir onbeskofte motoriste, lê met een oor/oog oop vir ingeval ek oorval word in my eie huis terwyl ek slaap, my begroting wil nie altyd klop nie en soms wys ek en manlief vir mekaar tande as ons geïrriteerd raak.

Wat daarvoor opmaak en al hierdie negatiewe dinge soos mis voor die son laat verdwyn, is die liefde van my man en my kinders. Familielede wat omgee, vriendskappe wat letterlik my lewensdrup is, my katte se kapperjolle, mense se komplimente (die kritiek hoor mens gelukkig nie sommer so reguit nie), ‘n onverwagte glimlag van ‘n vreemdeling, ‘n kind se skaterlag, die reuk van reën, die blou see, ons mooi berge en die aanskoue van ‘n groot, groot boom.

Oral in die wêreld kry jy vroue wat lyk en handel soos winkelpoppe. Koud, leweloos en maak nie ‘n verskil in die lewe nie. Die mense rondom haar kan nie naby haar kom nie. Sy het nie ‘n hart nie. Haar glimlag is vals, haar oë koud en ongenaakbaar. Sy kan haar arms nie om iemand sit en troos wat dit dalk broodnodig het nie. Sy kan nie buk om haar kind op te tel, op die heup te sit en liefderyk teen haar te druk nie.

Sy kan nie in haar man se arms lê en hom van haar liefde verseker nie, kan nie ‘n klein katjie of hondjie vryf of blomme vir haar vriendin uit haar tuin pluk nie. Sy kan nie die reën ruik, die blou see sien, onder ‘n groot koelteboom ontspan of ‘n interessante boek lees nie. Musiek bereik nie haar siel nie. Sy kan nie heerlike kos geniet en saam met haar gesin om die tafel sit nie.

Sy is te besig om die perfekte prentjie van haar uiterlike voor te sit en te onderhou. Alles in die lewe gaan oor haarself en hoe sy lyk vir ander. Nooit sal jy haar sonder grimering, kaalvoet of deurmekaarhare vang nie. Sy laat nooit die gordyn voor haar hart of haar oë sak nie. Leer jy nooit die ware vrou agter die kapsel, grimering en boetiekuitrustings nie.

Nee wat, so ‘n perfekte prentjie klink vir my nogal na vreeslike harde werk. Ek weet die gesegde lees : “you have to be cruel to be beautiful” maar iewers op ‘n tyd in jou dag moet jy jou man ‘n lekker drukkie kan gee sonder dat jy bang is jou lipstiffie smeer, jou kleinkind met jou hare laat speel, jou vingers in die grond druk om ‘n roosboom te plant, kaalvoet op die rotse en strand speel en soms al jou grimering aflag vir die snaakshede in die lewe! Dan is jy eers mens!

Moderne tegnologie

Oor 'n koppie koffieOp die oomblik sukkel ek met internetgeriewe en verstom dit my weer eens hoe gou gewoond raak ‘n mens aan moderne tegnologie.  Nie dat ek vreeslik “op datum” is met alles nie, julle moet onthou ek is met die ossewa ingevoer.  Ongeskraap waar dit kom by skype, 3G’s en al die nuwe goed op die mark.

My kinders reken dit is al die knoppies wat my brein deurmekaar maak.  In my dae (skielik eggo Casper de Vries se stem nou skielik in my ore!!) het knoppies net een funksie gehad.  Aan en af.  En een knoppie op ‘n slag.

Ek verkyk my aan die jong klomp van vandag. Seil deur hierdie tegnologie soos ‘n warm mes deur botter.  Het in die meeste gevalle nie eers nodig om die instruksies te lees nie.  Maar kom dit by kamerskoonmaak of huiswerk het hulle die verstand van ‘n tweejarige.  Wat agter is.  Dan verstaan hulle nie en hulle kan ook nie.  Nie eers as jy hulle aan die hand neem en verduidelik, of selfs wys hoe nie.

Nie dat ek nee dankie vir moderne tegnologie sê nie.  Sonder my selfoon, my laptop en my digitale kamera sou my hande afgekap wees.  Vroeér jare het ek nogal ‘n mooi handskrif gehad.  Selfs diplomas en sertifikate versier.  My Afrikaanse onderwys in Standerd 7 het in my eksamen my vergewe omdat ek durf waag het om turkoois ink te gebruik.  Sy kommentaar onder aan my werk was : “Lorraine, jy weet jou werk moet in blou ink wees, maar ek vergewe jou solank jy altyd so netjies skryf!”  As jy nie mooi is nie, moet jy maar slim wees.

Vandag het ek nie baie energie vir pen en papier nie.  Ek skryf in die eerste plek soos ek dink en praat en moet maar teruggaan en al my sinskonstruksies hersien.  Boonop gaan dit baie vinniger en kan ek “copy & paste” waar en soos ek dit nodig het.  Die liassering van my werk is ook baie makliker.  Geen lêers waar dokumente gaatjies moet ingedruk word nie. 

Geen ure wat vermors word om na dokumente te soek nie.  Gelukkig het ek Tikskrif op skool gehad.  Vir jare het ek gewonder waarom het ek hierdie vak geneem het.  Maar met rekenaars wat ons lewe oorheers, is ek vandag baie bly.  Nie dat dit nie jongeres pla nie.   Met hulle twee of vier vingers kom hulle net so vinnig oor die weg.  Die enigste voordeel wat ek het is dat ek nie op my hande hoef te kyk as ek tik nie. 

Die een of twee kere wat my kinders met hul ma spog, is as hulle vriende soms hier kuier en dan sommer so terloops vir my vra ek moet gou ‘n stuk uit ‘n boek of tydskrif tik.  Die vriende is (dalk maak hulle maar net so uit ordentlikheid en vir die bord kos wat moet kom) dan vreeslik opgemaak met my vernuf.  Soms lees hulle die stuk uit die boek en dan moet ek met toe oë tik.  Nie dat ek die oe’s en die aa’s waardeer nie.  Wonder net wat sou my tikjuffrou, Mev Smith, sê as sy die klomp kinders kon hoor. 

Soms wonder ek of ons nie dalk, net dalk, die mens-faktor uit die lewe haal met al die tegnologie nie.  Met televisie het baie gesinswaardes verdwyn, gesels met die bure is onmoontlik as gevolg van hoë mure, hekke en afstandbeheerkontroles. Briewe met die hand geskryf en gepos het feitlik verdwyn met e-posse en sms’e. Saam musiek luister in die voorhuis is weg saam met Ipods, interaksie met mense het verdwyn met internet-bankfasiliteite.

Ek weet al hierdie dinge hierbo maak die lewe vir my baie makliker en meer as minder waardeer ek hierdie geriewe, maar net soms voel dit my iewers langs die pad mis ek iets ongelooflik groots!

Iets wat geld en tegnologie nooit kan vervang en nooit weer kan herstel nie.

 Lorraine