V V V’s . . .


old lady

Vreemde vliënde voorwerpe! Meeste van ons raak verskrik, verstrik en vol vrees as ons met hierdie vreemde verskynsels te doene kry. So raak ‘n klompie van ons Eva-geslag ook as ons die verskriklike, vreesaanjaende vyftigs nader.

Vyftig – oor die muur, afgeleef, op die afdraande pad, of sommer doodgewoon oud. Dis nou die wêreld se woorde vir vroue wat dié ouderdom nader of al klaar daar is. Neem nou maar modelle, aktrises en selfs die gewone vrou in die straat as voorbeeld, daar is hope werksgeleenthede vir hulle wat tussen vyf-en-twintig en vyf-en-dertig is. So asof die wat ouer is, gaan ophou asemhaal en ons oorgee aan die ewigheid as die groot V ons beetkry.

So het ek ook ‘n paar jaar gelede my vyftigste verjaarsdag met angs ingewag. Alle emosies en veranderings wou ek neerskryf oor hoe ek die doodsnikke van nege-en-veertig ervaar . En toe . . . . niks!

Nie ‘n dag ouer gevoel nie. Het oornag ook niks verander nie. Dieselfde ou brose lyfie, vetrolle op die heupe en bobene waarmee ek al jare sukkel en dieselfde bruin hare wat deesdae net al hoe vinniger sy ware (grys) kleur vir die wêreld wys en wat my beursie dunner na ‘n besoek aan die salon. Verder het alles maar nog dieselfde gebly – nie eers ‘n ekstra plooi nie.

Toe wonder ek by myself, waarom dan hierdie verpletterende, verlammende, vreesaanjaende, versmorende vrees vir die vyftigs? As ek so terugkyk het ek toe werklik eers vry begin voel. Minder gestres oor onbenullighede, ek het nie meer probeer om almal gelyktydig tevrede te stel nie, ek het liewer vir myself geword en boonop trots gewees daarop.

Ek het myself aanvaar vir wie en wat ek is, en ook vrede gemaak vir wie en wat ek nié kan wees nie. Ek voel ook nie meer skuldig as ek so nou en dan die huiswerk afskeep vir ‘n lekker interessante storieboek nie. Ek maak tyd om te doen vir waarvoor ek lus het, gaan drink ek gereeld ‘n heerlike koppie koffie saam met ‘n vriendin by ‘n koffiekroeg. En waarom nie, ons is dit mos werd!

Nou dat my seuns uit die huis is en getroud is, geniet ek dit om vakansietyd saam met hulle – tot sover as wat hulle sosiale program ‘n tydjie vir hul dierbare moeder toelaat – te kuier. En boonop hou my kleinkind my jonk – niks wat ‘n vinniger aarde toe bring as die onskuld van ‘n kind nie.  My dae van agter pannekoektafels staan (en al die flops op te eet) is verby en en die organisering van poedingtafels by die basaar of sportfunksies het lankal saam met die laaste van die dertigs verdwyn.

Dis nou lekkerder om eerder mooi aan te trek en saam met my man om ‘n tafel te sit as om by ‘n funksie agter die warm stoof te staan. Ek sê maklik nee sonder om skuldig te voel as my program te vol is en kies wat vir my lekker is om te doen.

Ek het regtig weer bewus geraak van my eie behoeftes. Dinge wat ek soms op die agtergrond moes skuif omrede my program te besig geraak het met my werk, huis, man en kinders kon ek weer uithaal, afstof en ordentlik my aandag gee.

My uitkyk op die lewe het dramaties verander. Dingetjies wat voorheen vir my belangrik was, het weggeval. Die onreg wat teenoor kinders gepleeg word, armoede onder mense en verkragting van vroue en kinders, en selfs onder mans, het ‘n groter kommer in my gewek.

Vroue wat hul kinders in bendegeweld verloor laat my saam met hulle huil, Madiba wat vir ons almal ‘n voorbeeld is laat my hoendervleis kry. Kinders wat deur stormreëns bibber en beef van die koue terwyl ons kla met die witbrood onder die arm, laat my besef dat ek niks het om oor te kla nie – allermins oor die ouderdom.

Saam met die ouderdom het ook verdraagsaamheid en geduld gekom. Ek het die ou klein jakkalsies wat soms so maklik verhoudings versuur, elkeen ‘n kospakkie gegee en op die pad gestuur. Dit is bloot eenvoudig net nie meer die moeite werd nie.

En toe, na ‘n verbysterende, verstommende en vermoeiende ondersoek, kom ek tot die gevolgtrekking dat die vyftigs vir my die volgende dinge simboliseer :

V    Vry om te wees wie jy werklik is, om jouself uit te leef en jouself te aanvaar vir wie en wat jy is (en nie is nie)

Y    Ywerig en entoesiasties te wees oor jouself, jou dierbares en oor die lewe

F     Fases . . . die wonderlike groei van ‘n vrou se lewe

T    Trots oor wat jy bereik het in die lewe, nie oor status en blinkgoed nie, maar oor dinge wat werklik saak maak in jou hart

I    Ingelig – om bewus te wee
s van jou vriende se nood asook die lyding van jou medemens én om iets daadwerkliks daaraan te doen

G    Grootgeword, gegroei sonder om te vroeg oud te word, jou humorsin te behou, minder te stres en om dolgelukkig jou nuwe fases te ervaar!

Vyftig – vry, verrykend en vrek lekker!

©

Winkelpoppe . . .

So sit ek eendag lank terug by ‘n verkeerslig terwyl ek wag dat dit moet oorslaan sodat ek kan ry en my oog vang die paar winkelpoppe wat spoggerig in die winkelvenster staan. Popmooi, perfek gebou, lyk soos modelle, nie ’n haar uit hul plek nie, keurig aangetrek, grimering foutloos en perfekte glimlaggies op die gesigte. Amper begeer ek toe om so te kan lyk.

Terselfdertyd stap daar drie bruin vroue (ek skat so in hul veertigs) verby en bekyk die winkelpoppe toevallig ook van kop en tone. Met die omdraaislag hoor ek hulle lewer kommentaar. “Nee man, sy staan dan net daar en smile. As sy eers moet begin werk, change die hele picture en sal sy ook nie meer so heeldag smile nie en boonop kan sy nie . . . . nie!” En sê iets wat ek nie hier kan herhaal nie, maar lag hulle dood vir hulle privaatgrappie.

Dis waar ek toe smile en is toe maar bly ek is nie ‘n winkelpop nie. Gelukkig leef ek. Ek sweet as ek warm kry, is ongeduldig as dinge nie dadelik regkom nie, raak moedeloos vir my probleme, vererg my vir onbeskofte motoriste, lê met een oor/oog oop vir ingeval ek oorval word in my eie huis terwyl ek slaap, my begroting wil nie altyd klop nie en soms wys ek en manlief vir mekaar tande as ons geïrriteerd raak.

Wat daarvoor opmaak en al hierdie negatiewe dinge soos mis voor die son laat verdwyn, is die liefde van my man en my kinders. Familielede wat omgee, vriendskappe wat letterlik my lewensdrup is, my katte se kapperjolle, mense se komplimente (die kritiek hoor mens gelukkig nie sommer so reguit nie), ‘n onverwagte glimlag van ‘n vreemdeling, ‘n kind se skaterlag, die reuk van reën, die blou see, ons mooi berge en die aanskoue van ‘n groot, groot boom.

Oral in die wêreld kry jy vroue wat lyk en handel soos winkelpoppe. Koud, leweloos en maak nie ‘n verskil in die lewe nie. Die mense rondom haar kan nie naby haar kom nie. Sy het nie ‘n hart nie. Haar glimlag is vals, haar oë koud en ongenaakbaar. Sy kan haar arms nie om iemand sit en troos wat dit dalk broodnodig het nie. Sy kan nie buk om haar kind op te tel, op die heup te sit en liefderyk teen haar te druk nie.

Sy kan nie in haar man se arms lê en hom van haar liefde verseker nie, kan nie ‘n klein katjie of hondjie vryf of blomme vir haar vriendin uit haar tuin pluk nie. Sy kan nie die reën ruik, die blou see sien, onder ‘n groot koelteboom ontspan of ‘n interessante boek lees nie. Musiek bereik nie haar siel nie. Sy kan nie heerlike kos geniet en saam met haar gesin om die tafel sit nie.

Sy is te besig om die perfekte prentjie van haar uiterlike voor te sit en te onderhou. Alles in die lewe gaan oor haarself en hoe sy lyk vir ander. Nooit sal jy haar sonder grimering, kaalvoet of deurmekaarhare vang nie. Sy laat nooit die gordyn voor haar hart of haar oë sak nie. Leer jy nooit die ware vrou agter die kapsel, grimering en boetiekuitrustings nie.

Nee wat, so ‘n perfekte prentjie klink vir my nogal na vreeslike harde werk. Ek weet die gesegde lees : “you have to be cruel to be beautiful” maar iewers op ‘n tyd in jou dag moet jy jou man ‘n lekker drukkie kan gee sonder dat jy bang is jou lipstiffie smeer, jou kleinkind met jou hare laat speel, jou vingers in die grond druk om ‘n roosboom te plant, kaalvoet op die rotse en strand speel en soms al jou grimering aflag vir die snaakshede in die lewe! Dan is jy eers mens!