Winkelpoppe . . .

So sit ek eendag lank terug by ‘n verkeerslig terwyl ek wag dat dit moet oorslaan sodat ek kan ry en my oog vang die paar winkelpoppe wat spoggerig in die winkelvenster staan. Popmooi, perfek gebou, lyk soos modelle, nie ’n haar uit hul plek nie, keurig aangetrek, grimering foutloos en perfekte glimlaggies op die gesigte. Amper begeer ek toe om so te kan lyk.

Terselfdertyd stap daar drie bruin vroue (ek skat so in hul veertigs) verby en bekyk die winkelpoppe toevallig ook van kop en tone. Met die omdraaislag hoor ek hulle lewer kommentaar. “Nee man, sy staan dan net daar en smile. As sy eers moet begin werk, change die hele picture en sal sy ook nie meer so heeldag smile nie en boonop kan sy nie . . . . nie!” En sê iets wat ek nie hier kan herhaal nie, maar lag hulle dood vir hulle privaatgrappie.

Dis waar ek toe smile en is toe maar bly ek is nie ‘n winkelpop nie. Gelukkig leef ek. Ek sweet as ek warm kry, is ongeduldig as dinge nie dadelik regkom nie, raak moedeloos vir my probleme, vererg my vir onbeskofte motoriste, lê met een oor/oog oop vir ingeval ek oorval word in my eie huis terwyl ek slaap, my begroting wil nie altyd klop nie en soms wys ek en manlief vir mekaar tande as ons geïrriteerd raak.

Wat daarvoor opmaak en al hierdie negatiewe dinge soos mis voor die son laat verdwyn, is die liefde van my man en my kinders. Familielede wat omgee, vriendskappe wat letterlik my lewensdrup is, my katte se kapperjolle, mense se komplimente (die kritiek hoor mens gelukkig nie sommer so reguit nie), ‘n onverwagte glimlag van ‘n vreemdeling, ‘n kind se skaterlag, die reuk van reën, die blou see, ons mooi berge en die aanskoue van ‘n groot, groot boom.

Oral in die wêreld kry jy vroue wat lyk en handel soos winkelpoppe. Koud, leweloos en maak nie ‘n verskil in die lewe nie. Die mense rondom haar kan nie naby haar kom nie. Sy het nie ‘n hart nie. Haar glimlag is vals, haar oë koud en ongenaakbaar. Sy kan haar arms nie om iemand sit en troos wat dit dalk broodnodig het nie. Sy kan nie buk om haar kind op te tel, op die heup te sit en liefderyk teen haar te druk nie.

Sy kan nie in haar man se arms lê en hom van haar liefde verseker nie, kan nie ‘n klein katjie of hondjie vryf of blomme vir haar vriendin uit haar tuin pluk nie. Sy kan nie die reën ruik, die blou see sien, onder ‘n groot koelteboom ontspan of ‘n interessante boek lees nie. Musiek bereik nie haar siel nie. Sy kan nie heerlike kos geniet en saam met haar gesin om die tafel sit nie.

Sy is te besig om die perfekte prentjie van haar uiterlike voor te sit en te onderhou. Alles in die lewe gaan oor haarself en hoe sy lyk vir ander. Nooit sal jy haar sonder grimering, kaalvoet of deurmekaarhare vang nie. Sy laat nooit die gordyn voor haar hart of haar oë sak nie. Leer jy nooit die ware vrou agter die kapsel, grimering en boetiekuitrustings nie.

Nee wat, so ‘n perfekte prentjie klink vir my nogal na vreeslike harde werk. Ek weet die gesegde lees : “you have to be cruel to be beautiful” maar iewers op ‘n tyd in jou dag moet jy jou man ‘n lekker drukkie kan gee sonder dat jy bang is jou lipstiffie smeer, jou kleinkind met jou hare laat speel, jou vingers in die grond druk om ‘n roosboom te plant, kaalvoet op die rotse en strand speel en soms al jou grimering aflag vir die snaakshede in die lewe! Dan is jy eers mens!

Foto-pretsel 11

 

 

Bome doen dit vir my.  Veral groot bome.  Dit laat my nederig en klein voel.  Ek kruip weg onder ‘n boom.  Daar word ek stil.  Ek luister en hoor wat normaalweg by my verbygaan.  Van kleinsaf het groot bome my gefassineer.  Eendag, lank terug, het ek in die Paarl in die winter skielik begin huil.  Mense het my vreemd aangekyk.  Die groot eikebome is oorweldigend vir my brose menswees.  Dis terapeuties.