Hoe ouer ek word, hoe meer smag my siel na die eenvoudige dinge in die lewe . . . onopgesmuk, nie nagemaak en die eenvoudige.
En ‘n stil plek waar ek dit in rus en vrede kan geniet . . .
Bome doen dit vir my. Veral groot bome. Dit laat my nederig en klein voel. Ek kruip weg onder ‘n boom. Daar word ek stil. Ek luister en hoor wat normaalweg by my verbygaan. Van kleinsaf het groot bome my gefassineer. Eendag, lank terug, het ek in die Paarl in die winter skielik begin huil. Mense het my vreemd aangekyk. Die groot eikebome is oorweldigend vir my brose menswees. Dis terapeuties.