Jy wil tog so graag glo daar is iets goeds in elkeen. Jy wil dalk (dis veiliger) nie altyd weet dat daar ook iets slegs in jou medemens skuil nie, veral nie van dié wat naby jou is nie – en (verkieslik) nog minder van jouself. Jy maak verskonings, probeer dit kamma wegpraat of lag dit af.
Hierdie week speel ek op my rekenaar. Ek besluit toe om vir myself visitekaartjies te maak. Nie dat ek ‘n besigheid bedryf nie, maar as iemand my vra vir my naam of telefoonnommer het ek nooit papier en/of pen byderhand nie. Dit is ‘n gesukkel – daarom die behoefte om sommer ‘n paar kaartjies in my beursie te hou. Vir sulke tye.
Die rekenaarprogram gee die mooiste prentjies wat ek op my visitekaartjie kan aanbring. Alles wat so ietsie van my liefde vir die lewe weerspieël – dit is nou naas die groot liefde in my lewe en my twee seuns! Ek is versot op mooi goed. Volksvreemde musiek, verstaanbare kuns, goeie vertonings, ordentlike boeke, lekker kos, goeie rooi wyn, interessante vriende en mooi berge en bome.
Dit knor maar met die bewoording van die visitekaartjie. Ek besef ek het nie eintlik iets interessants om te skryf nie. Lorraine Brand, Posbus 0001, Bitterfontein, 0007. Selnommer 079 217 1603. Hoe sal ek myself op my kaartjie beskryf? Kan tog nie sê ek is lief vir lekker kos (dit kan‘n mens sommer sien) of ‘n glasie rooiwyn nie (netnou dink mense ek sit met ‘n drankprobleem).
‘n Kunskenner is ek nie, alhoewel ek goeie kuns kan waardeer. Ideale vriendin en luisteraar klink darem tog so bietjie windtie. En boonop dink my vriendinne dalk heeltemal anders – ‘n mens kan jou soms vreemde dinge aanmatig.
Na ‘n lang gesukkel besluit ek toe dat ‘n visitekaartjie ìs maar net vir mense wat ‘n besigheid bedryf of iets het waarop hulle kan roem. Gewoonlik is hul besigheid se naam daarop en soms ook ‘n klein dienslewering-logo, byvoorbeeld “We’ll walk the walk and talk the talk! Of ”Your future is in my hands!” Of iets dergeliks.
Ek wonder toe. As elkeen van ons verplig was om persoonlike visitekaartjies by ons te dra soos ‘n ID dokument – maar wat meer van ons karakter in plaas van ons beroep vertel – wat sal ons dan daarop skryf?
Bettie Boshoff / Bitterbek en Beswaard – “Kla is my middelnaam”. Sannie Cilliers / Skinderbek en Moeilikheidmaker – “Ek is net ‘n telefoonoproep ver!”. Gert Goosen / Hardvogtig en Onredelik – “Die lewe is nie vir sissies nie”.
Of Rita Rensin / Vriendin en Staatmaker – “24 Uur tot jou diens”. Linda Leonard / Liefdevol en Hulpvaardig – “My hande staan vir niks verkeerd nie”. Jan Jansen / Vertroueling en Regverdig – “Jykanmy met jou lewe vertrou”.
Dit gebeur dikwels dat jy iemand ontmoet en hierdie persoon maak ‘n geweldige indruk op jou. Vir maande of soms jare groei jou respek vir hierdie persoon, vertel jy vir ander van hom of haar.
En dan skielik eendag, sien jy ‘n ander sy van hom wat jy glad nie ken nie en stel hy jou diep teleur. Sou jy dit nóóit van hom verwag het nie. Want in jou hart het jy klaar ‘n visitekaartjie van hom gevorm.
Dalk is dit maar goed dat visitekaartjies net die nodige bevat (name, beroep, kontaknommers). Anders sou min mense hulle visitekaartjies vrylik kon of wou uitdeel. Of dalk probeer besigheid verkry het op dié manier. Buitendien sou heelparty bankrot wees nog voor hulle besigheid kon begin.
Ek lees onlangs in ‘n Kaapse koerant van iemand wat homself soos volg adverteer. “Ek is ‘n 24-jarige man en soek werk, het ‘n bestuurderslisensie, geen afhanklikes nie, drink nie en rook nie – wat meer wil jy hê? Skakel Koos by telefoonnommer na ure by 021-11111111.” Ek het lekker gelag. Dit is soos ‘n vat-dit-of-los-dit visitekaartjie.
Dit is toe dat ek maar besluit – ek het niks om op te roem nie, maar ek geniet die lewe – so uit die heupe uit! Ek sal dit vir niemand anders s’n verruil nie. Die soet en die bitter saam. En op my visitekaartjie onderaan my naam en van sal ek maar liewers net die volgende skryf. “Die lewe is ‘n lied!”