Watter soort blom is jy?

Nou dat Lente amper hier is (jippie!!!!) begin my kop weer na die tuin staan.  Is ek lus vir kleur na die verskriklike koue winter waar alles in die Vrystaat verdor tot ‘n melankoliekerige kleur van ‘n lewelose wit en vaalgeel.  Kry ek lus vir bessierooi, purperpers, goudgeel, spookasempienk en kobaltblou kleure in my tuin. 

Min mense wat my ken weet dat die rooi hisbiskus my gunsteling blom is.  Daar is iets omtrent hierdie blom wat met my siel werfskaf.  Het hoeka vir manlief gesê die dag as ek oorle hoef hy nie my graf met vars blomme te bedek nie.  Plant vir my eerder ‘n bloedrooi hisbiskus.  Twee sal ook “nice” wees.  Ek kan terselfdertyd in die koelte lê, my vel brand hoeka tog te vinnig en ek kan my terselfdertyd verlekker aan die mooi kleure.

Lank terug roep ‘n vrou my agterna terwyl ek wegstap.  Ons het mekaar geken maar nie as vriendinne nie.  Net nou en dan op straat of in winkels mekaar gegroet en hier en daar ‘n paar woorde gewissel. 

 Hierdie spesifieke dag sê sy vir my, “Weet jy, ek wou al lankal vir jou sê jy laat my altyd aan ‘n bloedrooi hisbiskus dink.”  Daar staan ek, skoon verstom ~ en die volgende oomblik huil ek dat die biesies bewe.

Die arme vrou is in ‘n toestand, vra wat het sy verkeerd gesê en ek probeer vir haar verduidelik sy het alles reg gesê.  Ek was juis die dag op ‘n laagte en my selfbeeld was nie op standaard nie en hier kom sy en sê ek laat haar dink aan my geliefkoosde blom. 

Dit was mooipraat om haar beter te laat voel, maar of sy ooit sal verstaan wat sy daardie dag vir my beteken het, dit weet ek nie.  Ek was op ‘n wolk.  Dat ‘n paar woorde my so vinnig uit die as kon tel! 

Van daardie dag af probeer ek om mense as blomme te sien.  Daar is ‘n paar rose, sonneblomme, sweet-peas, lelies en viooltjies onder my vriendinne en kennisse.  En daar is ook ‘n kaktus of twee. As jy die dorings miskyk en dit mooi hanteer is hulle net so pragtig soos die ander blomme.

Watter blom is jy?  Hoe sien jy jouself in hierdie wêreld waar water en kunsmis (liefde, vergifnis, aanvaarding ens) maar skaars is?  ‘n Wêreld waar ons mekaar eerder flenters trap onder ons voete en die versorging en instandhouding van vriendskappe maar yl gesaai is?

Kan jy blom sonder die nodige instandhouding, of is jy die tuinier wat van een blom na ‘n ander blom hardloop met die tuinslang maar in die proses nooit ‘n druppel water vir jouself oorhou nie?

Laat ons blom, nie net vir die oog van ander nie, maar ook vir die selfbevrediging wat dit aan onsself gee.

Dis amper Lente

lenteEk ruik dit in die lug.  Elke oggend word ek wakker en ek dink . . . nog net ‘n paar daggies – dan is dit Lente.  Ek wens net die koue wil wyk.  Vanoggend het ek ‘n effense beklemming om my hart gehad, daar was nog altyd ‘n geniepsigheid in die lug.  As ek so na my vriende in Hermanus luister, dan sukkel hulle ook nog om van die wind en reen ontslae te raak.  Ek mis die groen winters van die Kaap.  Ek mis die berge en die see en die walvisse.  Ek mis my vriendinne.  En tog, is ek doodgelukkig in Bloemfontein.  Ek werk met wonderlike (jongerige) mense.  As hulle – dis nou die jonger geslag – so kan voortgaan, het ek hoop.

Selfs die studente (meestal swart) se gesindheid is verblydend.  Glo ook nie meer alles wat vir hulle voorgese word nie.  Kan al vir hulself besluit en vra vrae.  Eet nie meer alles vir soetkoek op nie.

Dis voorwaar Lente in my hart.  Die aande raak later donker.  Ek kry weer kans om die tuin nat te spuit.  Mense vlug nie meer na komberse en verwarmers nie.  Spandeer bietjie tyd buite.  Ons groet mekaar, leer mekaar beter ken en daar is ‘n vonkel in die lug.

Dit is goed dat daar seisoene is.  Dit gee ons tyd om met Lente met nuwe oe na dinge te kyk.  Om sommer bietjie te ontspan in die Somer, om te rus in die Winter en om dinge in heroenskou te neem in die Herfs.

Ek het skielik met ‘n skok besef oor vier maande is dit alweer Kersfees.  Tyd om die dagboek nader te trek en so stadigaan beplanning te doen. 

Laat dit vir julle ‘n mooi dag wees, mag die begin van die Lente vir jou ook vol nuwe beginne wees.  Waardeer elke bloeisel, elke nuwe blom wat oopgaan, elke nuwe plant wat nuwe blare kry.  En mag ons hierdie jaar blom soos die mooiste blomme onder die Suid-Afrikaanse son!