Koerantverkopertjies

Newspaper-Black-Boy-thElke oggend, oppad werk toe, verkyk ek my aan die koerantverkopertjies langs die pad.  Ek sukkel nog om die koerant hier gewoond te raak, die Weskaap se Burger was so alomvattend. 

Die koerantverkopertjies is nogal ‘n “treat”.  Elkeen het sy eie maniertjies hoe om sy pakkie  koerante aan die motoriste te verkoop.  Die een loop tussen die motors deur, gee so ‘n kort fluit en waai met die hand hoog in die lug sodat die agterste motoriste hom ook kan sien.  ‘n Volgende een gee weer twee kort fluite en klap met die hand op die koerant. 

‘n Ander een roep kort-kort “Vooooooolksblad, Vooooooolksblad!”  Van hulle lyk natuurlik nog of hulle op die skoolbanke behoort.  Die wintertye was my hart maar klein vir party van hulle wat lyk of nie nie veel onder die koerant se advertensie-beffie aanhet nie. 

Een ding wat hulle almal in gemeen het, daar is elke dag ‘n glimlag op hul gesigte.  Hulle ken hulle kliente en is haastig om die koerant af te gee.  Daar word, as die tyd dit toelaat, selfs ‘n woord of twee ingekry.  Soms word daar ‘n toebroodjie of  ‘n koeldrank saam met die koerantgeld gegee.  Het al ‘n baadjie of trui ook gesien in ‘n sakkie. 

Hierdie koerantverkopertjies het die mag (wetend of onwetend) om ons op hoogte te hou van die daaglikse nuusgebeure in Suid-Afrika en elders.  Elke oggend trotseer hulle die elemente, reen of sonskyn, om ons nuuskierigheid te voed.  Natuurlik word hulle betaal daarvoor, dit bly net ‘n werk – maar dit is die verkooptegniek daaragter wat my interesseer. 

Jare terug, toe manlief en ek nog net gekuier het, was ons in die Kaap vir ‘n vakansie.  Ons almal weet hoe koddig en bekkig is die Kaapse koerantverkopertjies.  Manlief, self ‘n grapkas, besluit om so bietjie gek te skeer met een van hulle.  Die koerantverkopertjie loop tussen die motors deur, “Argus, Argus, as djy nie kan lies nie, kan djy maar net die prentjies kyk!” 

Toe hy by ons motor kom, vra hy ewe, “Koerant, meneer?”   My man haak toe af en antwoord hom in Frans (wat, kan ek nie meer onthou nie).  Die koerantverkopertjie kyk my man met so ‘n frons op die voorkop aan en met ‘n kopskud en ‘n “nei wat, dit sal nie help nie” beweeg hy aan na die volgende motor. 

Ek wonder  of hulle soms besluit – “Vandag probeer ek iets nuuts!”  Dalk ‘n ander fluit, ‘n ander manier om die motoriste se aandag te trek.   Waaroor ek my wel doodbekommer is of hulle nie bang is iemand ry hulle raak nie.  Soveel van ratsheid het ek lanklaas in my lewe teegekom.  Met ons motorongeluk-statistieke sou ek hoop die koeranteienaars en/of die koerantverkopers het hulle lewe goed verseker.

Ek wonder tog as ek so na hulle kyk – hoe verkoop ons onsself aan die wereld?   Het ons ook, soos hierdie koerantverkopertjies, tegnieke en maniere om onsself bekend te stel.  Is jy vol selfvertroue of hou jy jouself maar stil in die hoekie?  Is jy vriendelik of loop jy rond soos ‘n buffel met ‘n seer toon of tand?

Soms moet ek stilstaan en myself afvra, “Hoe sien die wereld my?”  Dis dan wanneer ek skrik want ek besef net soos ek hierdie koerantverkopertjies gadeslaan, is daar mense daarbuite wat my ook dalk dophou.  Ek is te bang om te wonder wat dink hulle, want soms lyk ek soos die duiwel in die Kinderbybel – geirriteerd, mislik en nie ‘n mooi prentjie nie. 

Dis dan wanneer ek weer indringend kyk na my eie “verkooptegnieke” want,  soos my  ma my geleer het – eerste indrukke is blywende indrukke!

Dis amper Lente

lenteEk ruik dit in die lug.  Elke oggend word ek wakker en ek dink . . . nog net ‘n paar daggies – dan is dit Lente.  Ek wens net die koue wil wyk.  Vanoggend het ek ‘n effense beklemming om my hart gehad, daar was nog altyd ‘n geniepsigheid in die lug.  As ek so na my vriende in Hermanus luister, dan sukkel hulle ook nog om van die wind en reen ontslae te raak.  Ek mis die groen winters van die Kaap.  Ek mis die berge en die see en die walvisse.  Ek mis my vriendinne.  En tog, is ek doodgelukkig in Bloemfontein.  Ek werk met wonderlike (jongerige) mense.  As hulle – dis nou die jonger geslag – so kan voortgaan, het ek hoop.

Selfs die studente (meestal swart) se gesindheid is verblydend.  Glo ook nie meer alles wat vir hulle voorgese word nie.  Kan al vir hulself besluit en vra vrae.  Eet nie meer alles vir soetkoek op nie.

Dis voorwaar Lente in my hart.  Die aande raak later donker.  Ek kry weer kans om die tuin nat te spuit.  Mense vlug nie meer na komberse en verwarmers nie.  Spandeer bietjie tyd buite.  Ons groet mekaar, leer mekaar beter ken en daar is ‘n vonkel in die lug.

Dit is goed dat daar seisoene is.  Dit gee ons tyd om met Lente met nuwe oe na dinge te kyk.  Om sommer bietjie te ontspan in die Somer, om te rus in die Winter en om dinge in heroenskou te neem in die Herfs.

Ek het skielik met ‘n skok besef oor vier maande is dit alweer Kersfees.  Tyd om die dagboek nader te trek en so stadigaan beplanning te doen. 

Laat dit vir julle ‘n mooi dag wees, mag die begin van die Lente vir jou ook vol nuwe beginne wees.  Waardeer elke bloeisel, elke nuwe blom wat oopgaan, elke nuwe plant wat nuwe blare kry.  En mag ons hierdie jaar blom soos die mooiste blomme onder die Suid-Afrikaanse son!