Sien is glo

kruis

‘n Ruk gelede, een oggend toe ek die huis verlaat, sien ek ‘n skaduwee-kruis teen die muur wat my huis omring.  Vir ‘n oomblik was ek stomgeslaan.  Wat kan die son so afbeeld in die vorm van ‘n kruis? Iets misterieus? By verdere ondersoek sien ek dit is net die wasgoedpaal.  Ek was half teleurgesteld, ek wou hê dit moes ‘n beter verduideliking hê.

Dis toe dat ek vir myself sê dat die lewe ook maar so is.  Ons sien dinge soos ons dit wil sien.  Wil ons glo dat dinge so móét lyk.  As ons agterna uitvind dit was iets anders in die gedaante van ons ideaal, is ons teleurgesteld.

Ons plaas ons vertroue in mense, om later teleurgestel te word.  Mense oorrompel jou met valse voorwendsels, vriendelike glimlaggies en allerhande mooi beloftes en praatjies.  Net om agterna te besef dat ons in ons eie strik van goedgelowigheid geval het.  Nie dat daar iets mee skort nie, ek vir een glo, of wil glo dat die mensdom nie so korrup kan wees nie.

Die ergste is dat mense jou soms onder die dekmantel van “christenskap” flous.  Soos iemand ‘n paar jaar gelede vir my gesê het : “In die naam van Christenskap wens ek jou sterkte toe vir . . . “ Tot my ontnugtering, of liewers skok, moes ek uitvind die vrou doen die mees onchristelike ding aan my. 

Mens sou sweer na al die jare het ek darem al my les geleer, maar nee – daar is nie pille vir dom mense nie.  Aan die anderkant kan ek ook nie so met wantroue deur die lewe gaan nie.  Ek sou nie wou hê dat mense twyfel aan my woorde of my dade nie.  Dat dit wat hulle sien van my, nie ‘n verwronge beeld is van wie ek is nie.  Dat my kruis nie ‘n ysterpaal is nie.

Daagliks hoor ons van mense wat finansieel ingeloop word deur instansies. Vriende spat uitmekaar oor bedrog.  Families skeur uiteen deur geldgierigheid, vennootskappe gaan uitmekaar wanneer daar onderlangs besigheid gevoer word wat nie ‘n aanwins is vir die besigheid nie.

Afgelope jare het ons gesien dat glanspersone ook maar die publiek flous.  Aan die een kant het ons hierdie helde maar tot mense se skok moes hul uitvind die mense het voete van klei.  Was hierdie mense ons kinders se helde, baie van ons kinders se rolmodelle.  Was hulle groot klomp geld betaal – vir iets wat hulle nie eintlik was nie. Van ‘n hero tot ‘n zero!

My pa het altyd gesê as ons in die aand gaan slaap moet ons dag se doen en late van so ‘n aard wees dat jy môre-oggend jouself weer in die spieël kan kyk.  Moet jy weet jy het nie ‘n ander tenagekom met woord en daad nie.  Dat jy nie iemand se selfbeeld afgekraak het nie, niemand misbruik het vir jou eie gewin nie. 

My pa is al jare dood, maar wanneer ek soggens in die spieël kyk, weerklink sy woorde in my gedagtes.  Soms is ek nie altyd seker nie, hoop ek maar as ek terugdink aan die vorige dag, dat ek niemand bewustelik of onbewustelik seergemaak het nie.

Dit is alweer amper einde Januarie 2011.  Dit is nog nie te laat nie.  Maak reg wat verkeerd is in jou verhoudinge met mense.  Die lewe is so kort.  Ek het gister gehoor van ‘n vierjarige dogtertjie wat gesterf het na ‘n baie kort siekbed.  Sulke gebeure plaas dinge weer vir my in perspektief.  Dat ons onsself nie belangriker ag as ander nie. Dat die lewe kosbaar is.  Dat ons sagkens met mense moet omgaan.  In opregtheid.

Dis amper Lente

lenteEk ruik dit in die lug.  Elke oggend word ek wakker en ek dink . . . nog net ‘n paar daggies – dan is dit Lente.  Ek wens net die koue wil wyk.  Vanoggend het ek ‘n effense beklemming om my hart gehad, daar was nog altyd ‘n geniepsigheid in die lug.  As ek so na my vriende in Hermanus luister, dan sukkel hulle ook nog om van die wind en reen ontslae te raak.  Ek mis die groen winters van die Kaap.  Ek mis die berge en die see en die walvisse.  Ek mis my vriendinne.  En tog, is ek doodgelukkig in Bloemfontein.  Ek werk met wonderlike (jongerige) mense.  As hulle – dis nou die jonger geslag – so kan voortgaan, het ek hoop.

Selfs die studente (meestal swart) se gesindheid is verblydend.  Glo ook nie meer alles wat vir hulle voorgese word nie.  Kan al vir hulself besluit en vra vrae.  Eet nie meer alles vir soetkoek op nie.

Dis voorwaar Lente in my hart.  Die aande raak later donker.  Ek kry weer kans om die tuin nat te spuit.  Mense vlug nie meer na komberse en verwarmers nie.  Spandeer bietjie tyd buite.  Ons groet mekaar, leer mekaar beter ken en daar is ‘n vonkel in die lug.

Dit is goed dat daar seisoene is.  Dit gee ons tyd om met Lente met nuwe oe na dinge te kyk.  Om sommer bietjie te ontspan in die Somer, om te rus in die Winter en om dinge in heroenskou te neem in die Herfs.

Ek het skielik met ‘n skok besef oor vier maande is dit alweer Kersfees.  Tyd om die dagboek nader te trek en so stadigaan beplanning te doen. 

Laat dit vir julle ‘n mooi dag wees, mag die begin van die Lente vir jou ook vol nuwe beginne wees.  Waardeer elke bloeisel, elke nuwe blom wat oopgaan, elke nuwe plant wat nuwe blare kry.  En mag ons hierdie jaar blom soos die mooiste blomme onder die Suid-Afrikaanse son!