Watter soort blom is jy?

Nou dat Lente amper hier is (jippie!!!!) begin my kop weer na die tuin staan.  Is ek lus vir kleur na die verskriklike koue winter waar alles in die Vrystaat verdor tot ‘n melankoliekerige kleur van ‘n lewelose wit en vaalgeel.  Kry ek lus vir bessierooi, purperpers, goudgeel, spookasempienk en kobaltblou kleure in my tuin. 

Min mense wat my ken weet dat die rooi hisbiskus my gunsteling blom is.  Daar is iets omtrent hierdie blom wat met my siel werfskaf.  Het hoeka vir manlief gesê die dag as ek oorle hoef hy nie my graf met vars blomme te bedek nie.  Plant vir my eerder ‘n bloedrooi hisbiskus.  Twee sal ook “nice” wees.  Ek kan terselfdertyd in die koelte lê, my vel brand hoeka tog te vinnig en ek kan my terselfdertyd verlekker aan die mooi kleure.

Lank terug roep ‘n vrou my agterna terwyl ek wegstap.  Ons het mekaar geken maar nie as vriendinne nie.  Net nou en dan op straat of in winkels mekaar gegroet en hier en daar ‘n paar woorde gewissel. 

 Hierdie spesifieke dag sê sy vir my, “Weet jy, ek wou al lankal vir jou sê jy laat my altyd aan ‘n bloedrooi hisbiskus dink.”  Daar staan ek, skoon verstom ~ en die volgende oomblik huil ek dat die biesies bewe.

Die arme vrou is in ‘n toestand, vra wat het sy verkeerd gesê en ek probeer vir haar verduidelik sy het alles reg gesê.  Ek was juis die dag op ‘n laagte en my selfbeeld was nie op standaard nie en hier kom sy en sê ek laat haar dink aan my geliefkoosde blom. 

Dit was mooipraat om haar beter te laat voel, maar of sy ooit sal verstaan wat sy daardie dag vir my beteken het, dit weet ek nie.  Ek was op ‘n wolk.  Dat ‘n paar woorde my so vinnig uit die as kon tel! 

Van daardie dag af probeer ek om mense as blomme te sien.  Daar is ‘n paar rose, sonneblomme, sweet-peas, lelies en viooltjies onder my vriendinne en kennisse.  En daar is ook ‘n kaktus of twee. As jy die dorings miskyk en dit mooi hanteer is hulle net so pragtig soos die ander blomme.

Watter blom is jy?  Hoe sien jy jouself in hierdie wêreld waar water en kunsmis (liefde, vergifnis, aanvaarding ens) maar skaars is?  ‘n Wêreld waar ons mekaar eerder flenters trap onder ons voete en die versorging en instandhouding van vriendskappe maar yl gesaai is?

Kan jy blom sonder die nodige instandhouding, of is jy die tuinier wat van een blom na ‘n ander blom hardloop met die tuinslang maar in die proses nooit ‘n druppel water vir jouself oorhou nie?

Laat ons blom, nie net vir die oog van ander nie, maar ook vir die selfbevrediging wat dit aan onsself gee.

2011

 

  New-Year-in

2011 – Ek sien uit na die nuwe jaar.  Dit gaan ‘n goeie jaar wees, ek weet dit sommer.  2010 was vol veranderings, nuwe rigtings en aanpassings.  Die meeste het goed uitgewerk, alhoewel dit nie maklik was nie.

My kinders is naby – dit is ‘n bonus.  Manlief is nog gesond en aan my sy.  ‘n Groot bonus.  Ek het nuwe vriende gemaak, nuwe kollegas bygekry. Nog ‘n bonus.

Ek moes in 2010 vriende groet, het van provinsie verander.  Resessie het ons gedwing.  Vandag kan ek darem nog heelhuids terugkyk. Wonder ek of die hele proses ooit oor onsself gegaan het.  Dalk het die Liewe Vader gedink ons het ‘n ander taak om af te handel hier in die Vrystaat.

Hoe dit ookal sy, ons is hier.  Die nuwe vriendskappe is kosbaar.  Sou ek dit nie verruil vir enigeiets nie.  Ook nie ons omstandighede nie.  Dit voel net rég.

Mag 2011 vir elkeen van julle net vreugde, vrede en voorspoed bring.

Lorraine

Reën Reën Reën

Ander vroue se verleiding is sjokolade . . . of  juwele . . . of parfuum.  Myne is goedkoop, maklik maar nie altyd op aanvraag beskikbaar nie.

Ek is mal oor reën – donderstormreëns soos hier in die Vrystaat of die daelange sag deurdringende reën van die Kaap.  Solank dit net nat is.

Ek wil “cuddle” as dit reën, ek wil potte en panne uithaal en bredies en brode maak as dit reën, ek wil badolies en kerse uithaal as dit reën.  Ek wil fotos kyk, my kinders om my hê.  Ek wil dik boeke lees, klassieke musiek luister, rooiwyn drink.  Ek wil kaggel aansteek en die port nadertrek.  Ek wil . . . want ek wil.  Net omdat dit reën.

Ek is nie opgemaak met status nie.  Die hogere mense se aansien kon my nog nooit bevoordeel of benadeel nie – maar ek sou daarvan gehou het as ek ‘n Prinses van Reën kon wees. Nou wel ‘n ou prinses, maar dis ook maar reg.

Reën doen iets aan my en in my.  Ek is ‘n Waterdraer en al baie keer gewonder of dit dalk die rede is vir my onnatuurlike liefde vir reën.  Manlief het met die jare slim geraak.  Geweet water op een of ander manier laat my kalmeer en ontspan.  As hy sien ek is omge-ellie is hy die eerste een wat vir my ‘n bad water gaan tap.

Dit was gister vrek warm by ons.  Die heeldag lank.  Drukkend. Sonder ‘n briesie.  En toe skielik, sonder waarskuwing begin dit te reën. Toe die druppels die sinkdak van die stoep tref, is dit asof iemand my aanskakel.  Ek is tevrede, ek dink aan my nuwe vanielje badreeks wat ek vir Kersfees ontvang het, soek ‘n dik vet kers.  Wonder waar is my Edith Piaf CD is.  My tone jeuk en my kop onthou van die sjokolade in die kas wat ek bere vir spesiale geleenthede.  Manlief skink vir my ‘n glasie port . . . vanaand het hy ‘n gelukige vrou!

En dit oor ‘n paar druppels wat die aarde en die ruite nat maak!!!!

Rainy_Day_with_coffee_cup_and_window