Reën Reën Reën

Ander vroue se verleiding is sjokolade . . . of  juwele . . . of parfuum.  Myne is goedkoop, maklik maar nie altyd op aanvraag beskikbaar nie.

Ek is mal oor reën – donderstormreëns soos hier in die Vrystaat of die daelange sag deurdringende reën van die Kaap.  Solank dit net nat is.

Ek wil “cuddle” as dit reën, ek wil potte en panne uithaal en bredies en brode maak as dit reën, ek wil badolies en kerse uithaal as dit reën.  Ek wil fotos kyk, my kinders om my hê.  Ek wil dik boeke lees, klassieke musiek luister, rooiwyn drink.  Ek wil kaggel aansteek en die port nadertrek.  Ek wil . . . want ek wil.  Net omdat dit reën.

Ek is nie opgemaak met status nie.  Die hogere mense se aansien kon my nog nooit bevoordeel of benadeel nie – maar ek sou daarvan gehou het as ek ‘n Prinses van Reën kon wees. Nou wel ‘n ou prinses, maar dis ook maar reg.

Reën doen iets aan my en in my.  Ek is ‘n Waterdraer en al baie keer gewonder of dit dalk die rede is vir my onnatuurlike liefde vir reën.  Manlief het met die jare slim geraak.  Geweet water op een of ander manier laat my kalmeer en ontspan.  As hy sien ek is omge-ellie is hy die eerste een wat vir my ‘n bad water gaan tap.

Dit was gister vrek warm by ons.  Die heeldag lank.  Drukkend. Sonder ‘n briesie.  En toe skielik, sonder waarskuwing begin dit te reën. Toe die druppels die sinkdak van die stoep tref, is dit asof iemand my aanskakel.  Ek is tevrede, ek dink aan my nuwe vanielje badreeks wat ek vir Kersfees ontvang het, soek ‘n dik vet kers.  Wonder waar is my Edith Piaf CD is.  My tone jeuk en my kop onthou van die sjokolade in die kas wat ek bere vir spesiale geleenthede.  Manlief skink vir my ‘n glasie port . . . vanaand het hy ‘n gelukige vrou!

En dit oor ‘n paar druppels wat die aarde en die ruite nat maak!!!!

Rainy_Day_with_coffee_cup_and_window

Op spore van gisters . . .

IMG_0154Ek bly uitstel.  Wou teruggaan Kimberley toe om op my spore te stap tot by my kinderdae.  Ek is daar gebore en getoë. Ek was half skrikkerig, almal weet hoe die mooi plekke tot verval gekom het.

Ons is gister vroeg uit Bloemfontein Kimberley toe.  Ons begin by die heel laaste plek waar ons gebly het.  Lyk nie te vrot nie. Die volgende plek lyk ook maar so-so.  Tenminste spuit die besproeingstelsel die gras en plante nat.

Toe na die huis waar my jongste gebore is, lyk ook nie te sleg nie.  Dis asof daar minder bome in die eens boomryke area is.  Volgende stop – die dupleks waar oudste gebore is.  Daar was destyds nie veel van ‘n “groen” tuin nie –  net plaveisel en bakke met struike, en dit lyk nog dieselfde. 

Toe kom die skok.  Ek loop terug op my spore tot die eerste woonstel waar ek en manlief gebly het na ons troue. Voor dit omskep is in ‘n blyplek, was dit ‘n dokter se spreekkamer.

Die dakplate is flenters, die groot ruit aan die voorkant is gebreek en gelas met plastiek en kleefband.  Die traliehek is geroes en stukkend.  Orals lê gebreekte bottels en plastieksakke rond.  Die gras is kniehoogte en êrens drup ‘n kraan. Toe ons destyds daar gebly het, was van ons vriende taamlik jaloers oor hoe mooi ons plekkie was.  Dit was naby aan die stad en loopafstand van my werk.  Ideaal vir ‘n pasgetroude paartjie.

Ek was so teleurgesteld dat ek nie dit nie eers oor my hart kon kry om ‘n foto te neem nie.  My herrinneringe van die plekkie is brutaal verkrag voor die harde realiteit van hoe dit nou lyk.

Ons het deur die dorp gery en al my vorige werkplekke besoek.  Dinge het verander – niks is meer wat dit destyds was nie.  Strate is vuil, mense staan en verkoop groente en kos op die sypaadjies.  Taxis het die plek voor die pragtige stadsaal (waar ons trou-onthaal was) vir hulself toegeëien.  Van die geboue is erg verwaarloos. 

Baie van hierdie geboue is in my oë eintlik historiese monumente en is die ruïnes nou die enigste oorblyfsels.  Strate is vol slaggate, parke is onversorg en morsig.  Die pragtige beelde en monumente is nog staande, maar orals lê papiere rond.  Dit, wat eers Kimberley se trots was, is nou ‘n broeiplek vir allerhande gemors.

Toe is ek terug na my hoërskool.  Gelukkig was daar ‘n Lenteskool en die skoolgronde was oop.  Met ‘n glimlag op my gesig en ‘n paar trane is ek en manlief deur die skool – die huishoudkundeklas (wat nou die Verbruikerstudieklas is), die Labaratorium, die gedeelte agter die gimnasium waar ons pouses gesit het, die skoolsaal, die netbalbane waar ek my knieë nerfaf geval het, die rugbyvelde waar ons kliphard geskree het om die interskole te wen. 

Die laerskool was die volgende stop.  Ek was verras.  Die skool lyk nog goed.  Ek het my standerd vyf klas gesien en onthou toe sommer ook weer my eerste skoolkys.  Na al die jare het ek en hy mekaar raakgeloop en behou ons kontak. 

Heel laaste was die huis waar ek grootgeword het.  Alles wat ek vandag is en wat ek doen het in hierdie huis begin.  Met liefde was ons grootgemaak, nooit vreeslik materiële oorvloed nie, maar ons was skatryk in liefde, omgee en menswees.  Selftrots en respek vir ander was die fondasies van ons bestaan. 

Hier het Pa my geleer tel en hoe om ‘n horlosie te lees.  Ma het my geleer lees en my liefde vir boeke het hier begin.  Sy het my ook geleer brei en naaldwerk doen.  Ek was nog te jonk om kos te kook (en buitendien het ek twee ouer susters gehad wie se werk dit was!).  Ek en my maatjie langsaan het vir ure onder die vyeboom gesit en popspeel, huis-huis en rek gespring.  Hier het ons baklei dat die trane loop, maar vandag kan ek nie eers meer onthou waaroor nie.

Die huis lyk nog goed, dit is onlangs pragtig opgeknap, maar my pa se eens pragtige roostuin, groen grasperke en kleurvolle blomakkers moes plek maak vir ‘n stuk leë grond.  Hopelik is dit nie uit verwaarlosing nie, maar dalk het die nuwe eienaars planne vir ‘n spogtuin, een waar hy sy stempel kan op afdruk.

Die kafeetjies daar naby is onherkenbaar vuil en verlate en verniel.  Die pragtige busstop (‘n storie op sy eie vir ‘n ander dag) staan soos ‘n weggooihond.  Mens-sku, moeg en flenters.   

Ek groet in stilte.  My herrinneringe van die verlede vertel ‘n ander prentjie.  Van helderkleurige blomme in akkers, van saans buitekant sit, bure wat oor en weer kuier, kinders wat blikaspaai en wegkruipertjie speel tot laat in die aand, van donderstorms in die somer en die sloot daar naby wat die bruisende waters wegdra na ‘n volgende plek.

Ek ruik Ma se gemmerkoekies, haar kerriekos, haar koeksisters en die “Camphor Cream” wat ons aangesmeer het in die winter na badtyd.  Ek voel Ma se arms om my, Pa wat my omdop as die lekkergoed in my keel vassit en ek onthou Pa se hande as hy in die winter om die koolstoof vir ons kinders biltong sny en kerf.

Alhoewel hierdie reis na my verlede baie dinge vir my hartseer gelaat het, was die lekkerste die onthou-jy-nogs wat ek in my gedagtes kon oproep. 

En dït, kan nooit ooit vervalle of agteruitgaan nie – dankie tog!!