Ons daaglikse brood

 

breadstack4

Brood.  ‘n Eenvoudige kos.  Terselfdertyd koningskos.  “Comfort food” sê die Engelse (en ‘n paar wyses). 

Nie winkelbrood nie.  Dié tipe brood hou vir my geen bekoring in nie of roep geen herinneringe op nie.  Smaak na niks. 

Met die afgelope paar dae se reën het ek gehunker na my oorle ma se groentesop, vars gebakte brood en harde plaasbotter. 

Ek slaan ‘n pot sop aanmekaar, ek en manlief ry ongeveer 7km om ‘n vars plaasbrood te gaan koop by ons gewilde koffieplek, Get-To-Gether.  Ek glip by ‘n deli in en koop regte, egte plaasbotter wat kliphard is. Koorsagtig ry ons huis toe. 

Ons wag geduldig vir die sop.  Jy kan dit nie aanjaag nie.  Dit moet prut.  Intussen bid ek vir geduld.  My gedagtes gaan op loop.  Ek dink aan snye vars brood met ma se vyekonfyt.  Met stukke.  Nie soos vandag se jellievoorkoms nie. 

Ek dink aan varsgebakte brood (met niks op nie) en vars karringmelk.  As kind het ons die warm brood in die blikbeker karringmelk gedruk.  Ek dink aan varsgebakte brood met varkvet en ‘n beker stomende koffie vir ontbyt.  Ek dink aan varsgebakte brood met grondboontjiebotter en stroop.  So dikgesmeer dat jy agterna jou hande, vingers en ken moes gaan was om van die taai ontslae te raak.

Ek dink aan snye varsgebakte brood en ma se oorskiet kerrie-sous. Tot vandag toe nog wek dit emosies by my – en ma is al 41 jaar oorlede.  So sterk is die herinneringe nog. 

Vandag vrek my kinders oor my spesiale knoffelbrood wat ek maak.  Of  broodslaai. Pangeroosterde broodjies met tamatie en kaas is ook ‘n gunsteling.  Kleintyd het ek vir my kinders broodjies in eier-en-melk-mengsel gebraai en met room en aarbeikonfyt bedien vir ‘n versnappering in die winterkoue.

Skoonma se brood-en-botter-poeding kry hoë punte.  Ons vrek oor broodslaai en manlief kan nie braai sonder sy braaibroodjies nie.  Ouboet hou van sy roosterbrood en Kleinboet hou van sy roereiers-en-vulsel op sy brood.  Ek hou van “savoury” brode!

Ons lief brode en smere, ons is gek oor brode wat gebak is met olywe, of kaas, of sonneblompitte, of spekvleis . . . altyd bereid om iets nuuts te probeer.  My vriendin Zelda, bak gereeld op ‘n Vrydag ‘n kitke – nog ‘n broodjie waaroor ek absoluut gek is.  (Zelda, as jy hier lees – stuur vir ons jou resep, asb – en vir my ‘n broodjie). 

Ek kan goed verstaan (en ek sê dit met die grootste respek) dat brood in ons mees geliefde gebed, Die Onse Vader, voorkom.

Van Bybelse tyd vorm brood al die basis van die alledaagse lewe.  Daar is die seuntjie met die vissies en die brode.  Ons lees in die Bybel van die man wat aan die deur geklop het in die middel van die nag en gevra het vir ‘n stukkie brood.  Die Bybel leer ons van die Nagmaalbrood. 

Uiteindelik is die sop gereed.  Ons oë blink, ons mae raas.  Ons val weg.  Met smaak.  Dik snye brood (my man noem dit “sooie”) word gesny.  Die botter is hard, ons skraap dit af en plak dit in hompe op die brood.  Sop is warm en geurig en ons eet dit uit emalje-bakkies. Ons sug behaaglik.  Ons glimlag.  Ons eet.  Ons is tevrede.

Ons het weer ons daaglikse brood in.  Ryk, warm en lekker.  Sielskos, hartskos – koningskos!

Naskrif : Dié van julle wat in Bloemfontein kom kuier, gaan maak gerus ‘n draai by een van ‘n paar Get-to-Gethers.  Julle sal nie spyt wees nie.  Dis nie net die kos wat lekker is nie, die atmosfeer en dekor en eetgerei is so plaas as wat jy kan kry. Warm, gasvry, oorvloed – “comfort food” op sy beste!!

 

Reën Reën Reën

Ander vroue se verleiding is sjokolade . . . of  juwele . . . of parfuum.  Myne is goedkoop, maklik maar nie altyd op aanvraag beskikbaar nie.

Ek is mal oor reën – donderstormreëns soos hier in die Vrystaat of die daelange sag deurdringende reën van die Kaap.  Solank dit net nat is.

Ek wil “cuddle” as dit reën, ek wil potte en panne uithaal en bredies en brode maak as dit reën, ek wil badolies en kerse uithaal as dit reën.  Ek wil fotos kyk, my kinders om my hê.  Ek wil dik boeke lees, klassieke musiek luister, rooiwyn drink.  Ek wil kaggel aansteek en die port nadertrek.  Ek wil . . . want ek wil.  Net omdat dit reën.

Ek is nie opgemaak met status nie.  Die hogere mense se aansien kon my nog nooit bevoordeel of benadeel nie – maar ek sou daarvan gehou het as ek ‘n Prinses van Reën kon wees. Nou wel ‘n ou prinses, maar dis ook maar reg.

Reën doen iets aan my en in my.  Ek is ‘n Waterdraer en al baie keer gewonder of dit dalk die rede is vir my onnatuurlike liefde vir reën.  Manlief het met die jare slim geraak.  Geweet water op een of ander manier laat my kalmeer en ontspan.  As hy sien ek is omge-ellie is hy die eerste een wat vir my ‘n bad water gaan tap.

Dit was gister vrek warm by ons.  Die heeldag lank.  Drukkend. Sonder ‘n briesie.  En toe skielik, sonder waarskuwing begin dit te reën. Toe die druppels die sinkdak van die stoep tref, is dit asof iemand my aanskakel.  Ek is tevrede, ek dink aan my nuwe vanielje badreeks wat ek vir Kersfees ontvang het, soek ‘n dik vet kers.  Wonder waar is my Edith Piaf CD is.  My tone jeuk en my kop onthou van die sjokolade in die kas wat ek bere vir spesiale geleenthede.  Manlief skink vir my ‘n glasie port . . . vanaand het hy ‘n gelukige vrou!

En dit oor ‘n paar druppels wat die aarde en die ruite nat maak!!!!

Rainy_Day_with_coffee_cup_and_window