Is die kool regtig die sous werd . . .

Besef ek mos vandag dat die kool eintlik maar die weeskind, die weggooikind van groente is. Kool is negatief. Niemand (of min mense) hou van kool. Grootmense maak kinders bang met kool. “As jy nie jou kool opeet nie, kry jy nie poeding nie!” . “Snob-groente” (olywe, peppadews, sampioene ens) kyk neer op kool. “Wie wil nou saam met die kool gesien word? Wie… bedien dan nou kool saam met quisine kos? Stel jou voor – kool saam met die Kersete?”

Kool is “cheap”! Kyk maar in enige hamper (veral waar armoede heers) word kool gebruik om die vuller te wees. Kool is ‘n skelwoord. Daar word gepraat van “koolkoppe”. Kool is ‘n beledigende woord. “Die kool is die sous nie werd nie.”

Die arme kool. Ek lief kool. Koolbredie (soos my man dit maak), koolfrikkadelle, gebake kool, koolslaai en sommer net gewone fyn kool bly vir my een van die lekkerste groente.

Is jy lief vir kool? Hoe maak jy jou kool gaar? Deel bietjie jou resep (al dink jy dit is maar net doodgewoon) met ons.

Ons daaglikse brood

 

breadstack4

Brood.  ‘n Eenvoudige kos.  Terselfdertyd koningskos.  “Comfort food” sê die Engelse (en ‘n paar wyses). 

Nie winkelbrood nie.  Dié tipe brood hou vir my geen bekoring in nie of roep geen herinneringe op nie.  Smaak na niks. 

Met die afgelope paar dae se reën het ek gehunker na my oorle ma se groentesop, vars gebakte brood en harde plaasbotter. 

Ek slaan ‘n pot sop aanmekaar, ek en manlief ry ongeveer 7km om ‘n vars plaasbrood te gaan koop by ons gewilde koffieplek, Get-To-Gether.  Ek glip by ‘n deli in en koop regte, egte plaasbotter wat kliphard is. Koorsagtig ry ons huis toe. 

Ons wag geduldig vir die sop.  Jy kan dit nie aanjaag nie.  Dit moet prut.  Intussen bid ek vir geduld.  My gedagtes gaan op loop.  Ek dink aan snye vars brood met ma se vyekonfyt.  Met stukke.  Nie soos vandag se jellievoorkoms nie. 

Ek dink aan varsgebakte brood (met niks op nie) en vars karringmelk.  As kind het ons die warm brood in die blikbeker karringmelk gedruk.  Ek dink aan varsgebakte brood met varkvet en ‘n beker stomende koffie vir ontbyt.  Ek dink aan varsgebakte brood met grondboontjiebotter en stroop.  So dikgesmeer dat jy agterna jou hande, vingers en ken moes gaan was om van die taai ontslae te raak.

Ek dink aan snye varsgebakte brood en ma se oorskiet kerrie-sous. Tot vandag toe nog wek dit emosies by my – en ma is al 41 jaar oorlede.  So sterk is die herinneringe nog. 

Vandag vrek my kinders oor my spesiale knoffelbrood wat ek maak.  Of  broodslaai. Pangeroosterde broodjies met tamatie en kaas is ook ‘n gunsteling.  Kleintyd het ek vir my kinders broodjies in eier-en-melk-mengsel gebraai en met room en aarbeikonfyt bedien vir ‘n versnappering in die winterkoue.

Skoonma se brood-en-botter-poeding kry hoë punte.  Ons vrek oor broodslaai en manlief kan nie braai sonder sy braaibroodjies nie.  Ouboet hou van sy roosterbrood en Kleinboet hou van sy roereiers-en-vulsel op sy brood.  Ek hou van “savoury” brode!

Ons lief brode en smere, ons is gek oor brode wat gebak is met olywe, of kaas, of sonneblompitte, of spekvleis . . . altyd bereid om iets nuuts te probeer.  My vriendin Zelda, bak gereeld op ‘n Vrydag ‘n kitke – nog ‘n broodjie waaroor ek absoluut gek is.  (Zelda, as jy hier lees – stuur vir ons jou resep, asb – en vir my ‘n broodjie). 

Ek kan goed verstaan (en ek sê dit met die grootste respek) dat brood in ons mees geliefde gebed, Die Onse Vader, voorkom.

Van Bybelse tyd vorm brood al die basis van die alledaagse lewe.  Daar is die seuntjie met die vissies en die brode.  Ons lees in die Bybel van die man wat aan die deur geklop het in die middel van die nag en gevra het vir ‘n stukkie brood.  Die Bybel leer ons van die Nagmaalbrood. 

Uiteindelik is die sop gereed.  Ons oë blink, ons mae raas.  Ons val weg.  Met smaak.  Dik snye brood (my man noem dit “sooie”) word gesny.  Die botter is hard, ons skraap dit af en plak dit in hompe op die brood.  Sop is warm en geurig en ons eet dit uit emalje-bakkies. Ons sug behaaglik.  Ons glimlag.  Ons eet.  Ons is tevrede.

Ons het weer ons daaglikse brood in.  Ryk, warm en lekker.  Sielskos, hartskos – koningskos!

Naskrif : Dié van julle wat in Bloemfontein kom kuier, gaan maak gerus ‘n draai by een van ‘n paar Get-to-Gethers.  Julle sal nie spyt wees nie.  Dis nie net die kos wat lekker is nie, die atmosfeer en dekor en eetgerei is so plaas as wat jy kan kry. Warm, gasvry, oorvloed – “comfort food” op sy beste!!

 

Voorskote

aprons

Laat ek maar prontuit erken.  Ek hou nie van huiswerk nie.  Nie wiskunde of take nie, huiswerk soos in huisskoonmaak, was, stryk, vensters was en al die ander takies wat gewoonlik op ‘n vrou se skouers rus.  Manlief het al gewaarsku dat ek nie so luidkeels moet verkondig dat ek nie ‘n huisvrou is nie, seker bang dit skrik voornemende vriende af.  Verwag hulle die huis moet lyk asof ‘n orkaan dit getref het.

Tenspyte van my gevoelens, moet ek maar huis skoonmaak.  Ek dink dit is juis wat so ‘n kriewelrig in my binneste veroorsaak.  Want dit moet gedoen word.  Of ek nou wil of nie.  Dit maak egter nie ‘n verskil aan hoe ek voel nie.  Dit is so ‘n ondankbare werk.  En van die betaling praat ek nie eers nie.  Boonop werk ek nie vir byvoordele nie.  Teen die tyd wat jy by die kombuis kom, lê die stof al klaar weer dik op die koffietafeltjie.  Met die huidige resessie kan ek ook nie hulp bekostig nie.

Gister stap ek in ‘n piepklein winkeltjie in Hermanus.  Kan nie eers die naam onthou nie.  Teen die een muur hang twee voorskootjies.  Pikswart.  Te dierbaar vir woorde.  Die een is opgetooi met sexy swart kant en lyk eerder na ‘n stoute nagrokkie.  Die ander een is versier met sequins en blink kraletjies en laat my dink aan ‘n swart nommertjie wat ek eenkeer in ‘n boetiek se venster gesien het, en begeer het.

Vir een of ander rede het hierdie twee voorskootjies my weer lus gemaak (al was dit van korte duur) om huis skoon te maak.  Laat dit my sommer dink dat die sleurwerkies plesierwerkies kan raak.  In my gedagte sien ek myself al met een van hierdie voorskote, die stofsuier in die een hand en ‘n “cocktail” in die ander.  Ge-make-up en hoë hakskoene.  Juwele om die nek.  Iewers op die klaar gepoleerde eetkamertafel staan daar ‘n bord met kaas, beskuitjies en olywe.  Vrolike klassieke musiek wat oor die CD speler kom.  En ‘n huppel in my stap.  Verspotte danspassies.  Met die verestowwer en die stoflap.

Dis toe dat ek besef, al druk die lewe jou maar soms,  al kry jy emosioneel of finansieel swaar, jy moet maar die lewe vir jouself lekker maak.  Soos die voorskootjies wat opgetooi is.  Anders raak die lewe vir jou donker en swaar.  Leef moet ons – ongelukkig.  Dit het my soms ook gevoel ek wou eerder net in my stoel sit en ophou asemhaal, maar dit werk nie so nie.

Humor is ‘n goeie geneesmiddel.  Soms dink ek dit is al wat my red.  Om partykere vir myself en vir my situasie te lag.  Al wil jy eintlik huil.   Bel die kinders een aand, sê hulle respekteer vir my en manlief dat ons die resessie so goed hanteer en dat ons nog altyd lief is en lief bly vir mekaar.  Sê manlief later toe die gesprek klaar is, “dis oor daar nie geld is om te skei nie!”  Ons het gerol van die lag.  Besef ons dat tenspyte van alles, ons nog mekaar het.  Ons kinders het, ons sin vir humor het.

Boonop droom ons van die dag dat dinge weer beter sal gaan.  En drome kos niks.  Maak dit die huidige swaarkry lekkerkry.  Ek glo aan die wet van aantrekkingskrag.  Wat opgaan moet afkom.  Die wiel sal weer draai, al wil ek hom soms aanhelp om vinniger te draai.

Dalk is ek net optimisties, bluf ek myself – maar as dit die voorskoot is wat ek moet aantrek om deur die moeilike tye te kom, dan doen ek dit maar!

Fotobron : Internet