Die moets en moenies van 2011

Swellendam Faerie Sanctuary (5)

Hier het ons dit.  Die jaar is klaar.  More is ‘n nuwe begin.  Met sy eie reëls.  Dit is hier wat ek vasskop of vassteek.  Solank dit net effektief is. 

Ek het nie meer (op my brose ouderdom) enige nuwejaarsvoorneme nie.  Dit werk nie.  Jammer vir dié wie se lugborrel sopas gebars het.  Nuwejaarsvoorneme is uitgedink deur iemand wat die persoonlikheid van ‘n . . . nee wat, laat dit maar ongesê bly. 

Wat ek wel het, is ‘n lysie van moets en moenies vir 2011.  Nie ‘n lang lysie nie, maar dis belangrik – of, onbelangrik . . . hang af hoe jy daarna kyk.

MOENIE

1.    ja sê vir iets of iemand as jy regtig nie kans sien daarvoor nie.  (ek kom al mooi reg)

2.   musiek luister as dit niks vir jou siel beteken nie (sit liewer die radio af)

3.   elke weggooi kat of hond probeer red nie (jou sak en jou gesondheid ly daaronder)

4.   lewe om te eet nie – eet om te lewe (ai, dis moeilik, swartwoudkersiekoek roep my gereeld)

5.   ander mense se oorlog joune maak nie (soms is jy die enigste slagoffer)

6.   biblioteke besoek waar daar nie ordentlike boeke is nie (ek hoop ek kry die regte een)

7.   vinniger as die spoedgrens ry nie (ek sien nooit die kameras nie)

8.   luister na die weervoorspellings nie (verkeerde voorspellings het al mooi dae geruïneer)

9.   weer slaptjips by ‘n wegneemete-plek koop nie (waar kry mens nog outydse slaptjips)

10.  sê “nooit weer” nie (het ‘n manier om jou in die rug te kom byt)

MOET

1.  genoeg seekos eet (kanselleer die lewe om te eet hierbo uit)

2.  in die reën dans tot die water van my ore afloop (solank daar nie weerlig is nie)

3.  probeer om van skryfgoed in boekvorm te sit (manlief sal sóóóó bly wees)

4.  weer vir my ‘n swart kat kry (ek het ‘n ding oor swart katte)

5.  gaan ten-pin-bowling speel (ek dreig al jare)

6.  weer begin lees (daar was net nie tyd nie – as daar tyd was kon ek nooit ‘n goeie boek kry nie)

7.  begin om weer fotos te neem (ek mis dit en boonop het vriendin Sussa my aangesteek)

8.  leer om kerrie soos manlief te maak (as hy weg is, is ek gestrand – hoe water my mond)

9.  genoeg tyd inruimvir absolute stilte (ek kom agter my siel smag daarna)

10. iets aan my hare doen (wat weet ek nie)

Nie ‘n indrukwekkende lys nie, maar baie belangrik vir my.  Niks aardskuddings nie, maar genoeg om na uit te sien. 

Want 2011 gaan MY jaar wees – F.A.K (finish and klaar)

Mag die nuwe jaar vir jou ook jou mooiste jaar wees!  Veilig loop!

Lorraine

Reën Reën Reën

Ander vroue se verleiding is sjokolade . . . of  juwele . . . of parfuum.  Myne is goedkoop, maklik maar nie altyd op aanvraag beskikbaar nie.

Ek is mal oor reën – donderstormreëns soos hier in die Vrystaat of die daelange sag deurdringende reën van die Kaap.  Solank dit net nat is.

Ek wil “cuddle” as dit reën, ek wil potte en panne uithaal en bredies en brode maak as dit reën, ek wil badolies en kerse uithaal as dit reën.  Ek wil fotos kyk, my kinders om my hê.  Ek wil dik boeke lees, klassieke musiek luister, rooiwyn drink.  Ek wil kaggel aansteek en die port nadertrek.  Ek wil . . . want ek wil.  Net omdat dit reën.

Ek is nie opgemaak met status nie.  Die hogere mense se aansien kon my nog nooit bevoordeel of benadeel nie – maar ek sou daarvan gehou het as ek ‘n Prinses van Reën kon wees. Nou wel ‘n ou prinses, maar dis ook maar reg.

Reën doen iets aan my en in my.  Ek is ‘n Waterdraer en al baie keer gewonder of dit dalk die rede is vir my onnatuurlike liefde vir reën.  Manlief het met die jare slim geraak.  Geweet water op een of ander manier laat my kalmeer en ontspan.  As hy sien ek is omge-ellie is hy die eerste een wat vir my ‘n bad water gaan tap.

Dit was gister vrek warm by ons.  Die heeldag lank.  Drukkend. Sonder ‘n briesie.  En toe skielik, sonder waarskuwing begin dit te reën. Toe die druppels die sinkdak van die stoep tref, is dit asof iemand my aanskakel.  Ek is tevrede, ek dink aan my nuwe vanielje badreeks wat ek vir Kersfees ontvang het, soek ‘n dik vet kers.  Wonder waar is my Edith Piaf CD is.  My tone jeuk en my kop onthou van die sjokolade in die kas wat ek bere vir spesiale geleenthede.  Manlief skink vir my ‘n glasie port . . . vanaand het hy ‘n gelukige vrou!

En dit oor ‘n paar druppels wat die aarde en die ruite nat maak!!!!

Rainy_Day_with_coffee_cup_and_window

Drome of nagmerries

oor 'n koppie koffie  

Uit pure verveeldheid kyk ek gisteraand ‘n DVD, Pirates of the Carribean – Dead man’s Chest.  Glad nie my tipe vermaak nie, maar as ek verveeld is, lees ek tot die kinders se ou geskiedenis- en aardrykskunde handboeke.  Moenie laat daar van my gesê word dat ek net prentjies kyk nie.  Met al hierdie drogbeelde nog vars in my gedagtes, gaan slaap ek toe later. 

Ek moes dit geweet het, droom sal ek droom hieroor.  Van kleinsaf het ek die gawe om elke dag my drome te onthou, a is dit net vir ‘n dag of twee.  Gewoonlik dit wat ek sien, hoor of ervaar in die dag, het ‘n duidelike invloed op my drome. 

Vanoggend is ek skoon moeg, my bene behoorlik lam toe ek wakker skrik, nes asof ek regtig weggehardloop het vir die monsters.  Hulle (my bene) was skoon swaar van moegheid, my hart het geklop teen die spoed van lig en ek was papnat gesweet. 

‘n Rukkie terug het ek ‘n interessante dokumentêr gesien waar hulle Olimpiese Spele-atlete aan masjiene koppel en dan moes hierdie atlete in hul verbeelding die wedloop aflê.  Verstom het die wetenskaplikes opgemerk dat dieselfde spierreflekse en inspanning gebruik word soos wanneer hierdie atlete die wedloop fisies sou aflê. 

Dit is seker dan hoekom my bene so moeg was, want in my drome het ek weggehardloop, was ek vol vrees vir hierdie monsters en hul gemaskerde vriende (daar is mos niemand wat vir my sê : “dis OK, jy kan maar ontspan, dit is net ‘n droom” nie).

Wat my weer laat dink – mors ons nie ook maar soms goeie energie en tyd aan negatiewe dinge nie?  Laat ons ons rondjaag, helder oordag, deur monsters wat ons lees, hoor en ervaar nie.  As ons soggens die koerante oopmaak, sommer nog op die voorblad, is daar slegte nuus.  Begin ons die dag sleg as ons nuus op televisie kyk.  Die verkeer is sleg, die radio is aan en ons luister nuus – moord, verkragting, roof, korrupsie.  Hierdie beelde bly heeldag in ons gedagtes en neem alle goeie en positiewe gedagtes weg van ons. 

Ek maak deesdae ‘n punt daarvan om soggens saam met my koffie na mooi musiek te luister.  Al kry ek tyd net vir een of twee snitte.  Ek het op my rekenaar ‘n paar fotos waarvoor ek nooit moeg word om na te kyk nie.  Van hulle is natuurfotos, ander is fotos van my gesin, familie, vriende en ‘n paar ander wat vir my laat dink aan lekker tye in my lewe. 

Met my musiek, my koffie en hierdie fotos, o ja – en my “morning papers” – spandeer ek dan my eerste halfuur of uur soggens vroeg aan positiewe dinge.  Kry ek dan terselfdertyd tyd om dankie te sê vir hierdie dinge in my lewe.  Want as jy kan dankbaar wees vir dit wat jy het, hoe klein of hoe min, glo ek sal daar nog meer op jou lewenspad kom.  Dit is goeie energie wat jy uitstraal en hierdie goeie energie beskerm jou sommer teen alle onheil. Is die res van die dag ‘n droom in plaas van ‘n nagmerrie waar ek al my energie en tyd moet spandeer om van my af weg te hou!!

Mag jou dag vandag soos ‘n droom verbygaan – een vol lekkerte waar jou tone eintlik omkrul by die herrinneringe hiervan en die smaak van die mooi dag soos heuning nog lank aan jou verhemelte klou en jy kort-kort die smaak daarvan kan proe.  Mag ons onsself besig hou met die mooi van die natuur, ons passie vir die lewe en ons liefde vir ons dierbares.

 Lorraine