Krismiskos . . .

 

In ons binnekring, dis nou nabye familie en vriende, word sommer blatant gevra, “Hoeveel kilogramme was jou Kersfees?”  Dis nou na aanleiding van al die versoekings in terme van kos en drinkgoed oor die groot dae.  En met my brose lyfie kan ek letterlik en figuurlik nie eers lyf wegsteek nie.

Ander mense se foute en sondes word slim verbloem met grimering, ‘n oulike kapsel of die regte snit klere, maar myne word oop en bloot tentoongestel soos ‘n goedkoop “X-Mas Special” in ‘n winkelvenster.  Vir almal om na te kyk en te wonder of dit die moeite werd is.

Iemand het lank gelede die opmerking gemaak dat ‘n mens die gewig wat ‘n mens in ‘n jaar optel nie soseer tussen Nuwejaar en Kersfees geskied nie, maar eerder in daardie lang, nimmereindige feestyd tussen Kersfees en Nuwejaar.

Waarom gaan ons dan elke jaar deur al die dramas rondom Krismiskos?  Daar word vooraf ure om die tafel gesit, spyskaarte word beplan, opinies word gevra en die breine word gerek vir ‘n ete der etes op dié besondere dag.  Sou die spyskaart die begroting diep in die rooi sit, moet al die stappe weer van vooraf deurgewerk word.

Skielik ontpop elkeen in ‘n vyfster-sjef.  Elke lid van die huisgesin gooi sy wenresep spyskaart in die groot pot – en dring boonop daarop aan dat syne die beste is.  Selfs ek, wat na vyf-en-twintig jaar al redelik opgekook is, wil nou ook skielik ‘n lepel in die kastrol druk oor die spyskaart.

Na al die gekoukus word daar eenparig, met subtiele dreigemente en afpersing deur die huishouding se Minister van Finansies, vir ons besluit.  Manlief kry sy sin oor die vleisgeregte, Ouboet het vrek en vrede of die res van ons van sy keuse van nagereg hou en Kleinboet dra vir ‘n vale resepte aan van eksotiese slaaie en bykosse. 

My keuse? Sien ek kans vir al die voorbereidings of gaan ek my moet oorgee aan daardie bekende blou pilletjies om my regop te hou met al die bedrywighede?

As die welsyn op Kersdag by my huis moet instap, sluit hulle my summier toe in die tronk en gooi die sleutel ver weg. ‘n Mens sal sweer my mense het jarelaas ordentlike kos gesien en geëet!  Dat nie een van hulle in die hospitaal beland weens ‘n gebarste maag of diafragma nie, is opsigself ‘n agste of negende wonder van die wêreld.

My oomblik van wraak (oor die aldag en heeldag gestanery voor die warm stoof en wasbak) breek uiteindelik aan.  Gelukkig het ek baie geduld en kan ek lank wag.   Boonop haat ek dit om kos te mors.  Die volgende paar dae se spyskaart lyk toe as volg.  Toebroodjies met oorskiet kouevleis, slaai en krismispoeding.  Kits pizzas met “krismis toppings” (lees oorskiet kouevleis), slaai en poeding.  Gevulde ommelette met oorskietvleis, slaai en iets wat lyk soos krismispoeding.

Tot vervelens toe.  Verrassing op verrassing, totdat selfs die katte in die huis hulle koppe naderhand wegdraai  vir heerlike gesnipperde varkboud en hoenderdytjies.  “Te erg is te erg” – lê die verwyt in hulle oë as dit net lyk of ek na die yskas se kant toe beweeg.  Met hierdie vreemde gedrag van die katte is ek oortuig dat ons dierbare troeteldiere vir tenminste ‘n week vrywilliglik ‘n vegetariese dieet volg. 

Natuurlik is dit ‘n heerlike tyd in my lewe.  Geen kosmakery nie, die skottelgoed word by die dag minder en ek kan weer die yskas se liggie raaksien sonder om alles uit te pak.  Die kinders is iesigrimmig, grom in die verbyloop vir mekaar en soek verskoning om uit te slaap (vir verandering van spyse, glo ek) en my man begin verval in ‘n toestand van stilstuipe.  En soos wat deesdae se kinders sal sê,  kap ek hulle ‘n “ignore”,

En dan, sonder dat ek dit regtig besef, wonder ek hoekom ek skielik so aangetrek word deur alles wat groen- en oranjekleurig is?  Sien ek ‘n struik met groen blare wil dit so half en half ‘n klokkie by my lui, ek kan net nie dink wat nie.  Totdat ek in die plaaslike supermark beland.

Maak nie saak wat ek op die rakke soek nie, ek bly terugkeer na die groente-afdeling.  As ek my kom kry staan ek daar, bevoel en bevat die komkommers, vryf oor die wortels, koester die murgpampoene en skorsies teen my lyf.  Dit alles gepaardgaande met ‘n dromerige uitdrukking in my oë wat vir ander dalk na ‘n dringende geval vir die sielkundige lyk.

Net voordat die winkeleienaar my wil uitsmyt oor onsedelike gedrag, koop ek op die daad genoeg groente vir ‘n weermagpeleton.  Terwyl ek huistoe jaag, gryp ek die selfoon (dankie tog daarvoor) en skakel vir manlief.  Soos ‘n generaal in ‘n oorlogsituasie skree ek die bevele oor die foon, “maak vuur, smeer jou swartpot, skil solank uie, haal daar ‘n pak skaapskenkels uit, vanaand maak ons ‘n pot.  Hierdie sussie is nou lus vir gewone boerekos – sonder poeding!”  Vanaand eet ons weer soos ordentlike opgevoede mense!

Daardie aand lyk dit asof die kinders tuisgekom het na jarelange swerwery oor die groot waters.  Ons glimlag ordentlik vir mekaar, waag dit selfs om grappies te maak.  Die katte kom skuur-skuur nader, hoopvol dat daar iewers dalk ‘n stukkie wortel uit die pot sal val.  My man knipoog (met ‘n vonkel in sy oog) betekenisvol vir my oor die vuur.  Daar is weer uiteindelik vrede in die huis. In my hart sê ek saggies, “Dankie tog, Krismis kom net eenmaal ‘n jaar!”

 

 

Die moets en moenies van 2011

Swellendam Faerie Sanctuary (5)

Hier het ons dit.  Die jaar is klaar.  More is ‘n nuwe begin.  Met sy eie reëls.  Dit is hier wat ek vasskop of vassteek.  Solank dit net effektief is. 

Ek het nie meer (op my brose ouderdom) enige nuwejaarsvoorneme nie.  Dit werk nie.  Jammer vir dié wie se lugborrel sopas gebars het.  Nuwejaarsvoorneme is uitgedink deur iemand wat die persoonlikheid van ‘n . . . nee wat, laat dit maar ongesê bly. 

Wat ek wel het, is ‘n lysie van moets en moenies vir 2011.  Nie ‘n lang lysie nie, maar dis belangrik – of, onbelangrik . . . hang af hoe jy daarna kyk.

MOENIE

1.    ja sê vir iets of iemand as jy regtig nie kans sien daarvoor nie.  (ek kom al mooi reg)

2.   musiek luister as dit niks vir jou siel beteken nie (sit liewer die radio af)

3.   elke weggooi kat of hond probeer red nie (jou sak en jou gesondheid ly daaronder)

4.   lewe om te eet nie – eet om te lewe (ai, dis moeilik, swartwoudkersiekoek roep my gereeld)

5.   ander mense se oorlog joune maak nie (soms is jy die enigste slagoffer)

6.   biblioteke besoek waar daar nie ordentlike boeke is nie (ek hoop ek kry die regte een)

7.   vinniger as die spoedgrens ry nie (ek sien nooit die kameras nie)

8.   luister na die weervoorspellings nie (verkeerde voorspellings het al mooi dae geruïneer)

9.   weer slaptjips by ‘n wegneemete-plek koop nie (waar kry mens nog outydse slaptjips)

10.  sê “nooit weer” nie (het ‘n manier om jou in die rug te kom byt)

MOET

1.  genoeg seekos eet (kanselleer die lewe om te eet hierbo uit)

2.  in die reën dans tot die water van my ore afloop (solank daar nie weerlig is nie)

3.  probeer om van skryfgoed in boekvorm te sit (manlief sal sóóóó bly wees)

4.  weer vir my ‘n swart kat kry (ek het ‘n ding oor swart katte)

5.  gaan ten-pin-bowling speel (ek dreig al jare)

6.  weer begin lees (daar was net nie tyd nie – as daar tyd was kon ek nooit ‘n goeie boek kry nie)

7.  begin om weer fotos te neem (ek mis dit en boonop het vriendin Sussa my aangesteek)

8.  leer om kerrie soos manlief te maak (as hy weg is, is ek gestrand – hoe water my mond)

9.  genoeg tyd inruimvir absolute stilte (ek kom agter my siel smag daarna)

10. iets aan my hare doen (wat weet ek nie)

Nie ‘n indrukwekkende lys nie, maar baie belangrik vir my.  Niks aardskuddings nie, maar genoeg om na uit te sien. 

Want 2011 gaan MY jaar wees – F.A.K (finish and klaar)

Mag die nuwe jaar vir jou ook jou mooiste jaar wees!  Veilig loop!

Lorraine