Ek en die resessie

Hermanus (2)

Wat ‘n jaar!  Ek het sopas met my blog begin toe die resessie ons tref.  En ek het soveel drome gehad  oor my blog.  Vir 36 jaar het ons (eintlik manlief) altyd werk gehad.  Hy is in die boubedryf.  En vir die eerste keer in 36jr was alles DOODSTIL by ons.

Dit was sommer net ‘n slegte jaar.  ‘n Ou se spaargeldjies hou ook mos maar net so lank.  Ons het gesnoei en gesny en geknip waar ons kon.  Dish, internetgeriewe, uiteet, rondrits – alles.  En so het my blog in die slag gebly.  En ek MOET skryf.  Anders dood ek.

Dinge het nog nie intussen veel verander nie, of dalk is ek maar net gewoond daaraan.  Die boubedryf is gewoonlik een van die wat eerste val en laaste herstel.  Ons bid dat 2010 vir ons oplossings en uitkomste gaan bring.

Ek het op die oomblik bietjie toegang tot internet geriewe, help tydelik uit by ‘n vriendin – en sy het toestemming gegee dat ek op die internet kan gaan wanneer ek wil.  Dierbaar!  En dit is so lekker om weer te kan skryf.

Kom vertel hoe die resessie jou geraak het.  Of nie geraak het nie.  Een troos wat ek het, is dat ons nie die enigstes was nie.  Op die oomblik antwoord ek nie die voordeur nie, weet nie of dit dalk die balju is nie.  Tsk, kan ook nie my humor verloor nie, anders het ek alles verloor.

Mooi dag vir julle!

Drome of nagmerries

oor 'n koppie koffie  

Uit pure verveeldheid kyk ek gisteraand ‘n DVD, Pirates of the Carribean – Dead man’s Chest.  Glad nie my tipe vermaak nie, maar as ek verveeld is, lees ek tot die kinders se ou geskiedenis- en aardrykskunde handboeke.  Moenie laat daar van my gesê word dat ek net prentjies kyk nie.  Met al hierdie drogbeelde nog vars in my gedagtes, gaan slaap ek toe later. 

Ek moes dit geweet het, droom sal ek droom hieroor.  Van kleinsaf het ek die gawe om elke dag my drome te onthou, a is dit net vir ‘n dag of twee.  Gewoonlik dit wat ek sien, hoor of ervaar in die dag, het ‘n duidelike invloed op my drome. 

Vanoggend is ek skoon moeg, my bene behoorlik lam toe ek wakker skrik, nes asof ek regtig weggehardloop het vir die monsters.  Hulle (my bene) was skoon swaar van moegheid, my hart het geklop teen die spoed van lig en ek was papnat gesweet. 

‘n Rukkie terug het ek ‘n interessante dokumentêr gesien waar hulle Olimpiese Spele-atlete aan masjiene koppel en dan moes hierdie atlete in hul verbeelding die wedloop aflê.  Verstom het die wetenskaplikes opgemerk dat dieselfde spierreflekse en inspanning gebruik word soos wanneer hierdie atlete die wedloop fisies sou aflê. 

Dit is seker dan hoekom my bene so moeg was, want in my drome het ek weggehardloop, was ek vol vrees vir hierdie monsters en hul gemaskerde vriende (daar is mos niemand wat vir my sê : “dis OK, jy kan maar ontspan, dit is net ‘n droom” nie).

Wat my weer laat dink – mors ons nie ook maar soms goeie energie en tyd aan negatiewe dinge nie?  Laat ons ons rondjaag, helder oordag, deur monsters wat ons lees, hoor en ervaar nie.  As ons soggens die koerante oopmaak, sommer nog op die voorblad, is daar slegte nuus.  Begin ons die dag sleg as ons nuus op televisie kyk.  Die verkeer is sleg, die radio is aan en ons luister nuus – moord, verkragting, roof, korrupsie.  Hierdie beelde bly heeldag in ons gedagtes en neem alle goeie en positiewe gedagtes weg van ons. 

Ek maak deesdae ‘n punt daarvan om soggens saam met my koffie na mooi musiek te luister.  Al kry ek tyd net vir een of twee snitte.  Ek het op my rekenaar ‘n paar fotos waarvoor ek nooit moeg word om na te kyk nie.  Van hulle is natuurfotos, ander is fotos van my gesin, familie, vriende en ‘n paar ander wat vir my laat dink aan lekker tye in my lewe. 

Met my musiek, my koffie en hierdie fotos, o ja – en my “morning papers” – spandeer ek dan my eerste halfuur of uur soggens vroeg aan positiewe dinge.  Kry ek dan terselfdertyd tyd om dankie te sê vir hierdie dinge in my lewe.  Want as jy kan dankbaar wees vir dit wat jy het, hoe klein of hoe min, glo ek sal daar nog meer op jou lewenspad kom.  Dit is goeie energie wat jy uitstraal en hierdie goeie energie beskerm jou sommer teen alle onheil. Is die res van die dag ‘n droom in plaas van ‘n nagmerrie waar ek al my energie en tyd moet spandeer om van my af weg te hou!!

Mag jou dag vandag soos ‘n droom verbygaan – een vol lekkerte waar jou tone eintlik omkrul by die herrinneringe hiervan en die smaak van die mooi dag soos heuning nog lank aan jou verhemelte klou en jy kort-kort die smaak daarvan kan proe.  Mag ons onsself besig hou met die mooi van die natuur, ons passie vir die lewe en ons liefde vir ons dierbares.

 Lorraine

Sit jou hart op papier

oor 'n koppie koffie

 

Alhoewel ek nou nie ‘n Nobelprys sal wen vir Letterkunde nie is ek mal daaroor om te skryf.  ‘n Vriendin van my spot altyd en sê as iemand my vra om ‘n doodsberig te skryf, eindig ek op met ‘n outobiografie van die oorledene.  My vorige huisdokter het gesê dit is goed ek skryf, want dan kom al die gemors uit my sisteem.  My prokureur reken weer ek praat te veel en gee te veel inligting ongevraagd uit. 

Persoonlik dink ek dit is omdat ek so baie stilgemaak was in die klas.  Ek voel soos die seuntjie van ‘n vriendin wat gekla het hy hou nie van kerk nie, want net die dominee mag praat.  Aan die beginjare van ons huwelik het manlief al briewe by die ketel gekry (ek kry koffie in die bed) as ek my links gegooi het oor iets wat (ek dink) hy aangevang het en hy nie eers daarvan bewus is nie.  Die kinders het my met ‘n “wat het ek nou weer verkeerd gedoen” uitdrukking geloer as ek ‘n briefie in hul hand gestop het.

Pla of plesier iets my in die koerant, skryf ek ‘n brief – in so ‘n mate dat ek dink die dagkoerant het my op hul swartlys gesit.  Opgeprobeer om weer iets van my kant te laat hoor, maar onsuksesvol – nêrens verskyn my briewe nie, en nie eers almal was klaagliedere nie!

Na skool het ek ‘n aanlegtoets by die destydse Mannekrag afgelê.  Die bedryfsielkundige vra vir my (na die aflegging) waarom ek nie joernalistiek gaan swot nie.  In  my onkunde (destyds was vroue goed vir verpleging – ek het nie geduld nie, onderwyseresse – ek sou ‘n kind se nek omdraai die eerste dag of BA graad – wat onder ons klomp bekendgestaan het as mansoek-graad en daarom uit was soos neuskrap in die kerk . . . kyk waar draai ek alweer) het ek gedink die man wil hê ek moet voor ‘n persoon staan en vra “hoekom het jy jou man vermoor”.

Nooit in my wildste drome gedink ek kon eintlik stories geskryf het nie.  En dalk vandag onder die geteldes getel het.  Boekpryse losgeslaan het, toekennings ontvang het, ‘n glanspersoon gewees het.  Maar nee, as jy jonk is, is jy mos slim – dink jy weet alles , en vra niks.  Met my ma se dood toe ek elf jaar oud was en pa wat baie, baie hard moes werk om manalleen na sy vyf moederlose kindertjies te kyk, was daar nie tyd vir baie gesels nie.

Maar hier is ek nou – nog altyd lief vir skryf.  ‘n Ander vriendin stel voor dat ek, met die resessie wat tans nog op MY troon sit en regeer,  elke oggend “morning papers” skryf.  Dit is om elke oggend rustig te raak, jou kop skoon te maak en alles wat in jou gedagtes kom, op papier neer te skryf.  Om al jou drome, jou vrese, jou ideale, jou frustrasies, jou “om-te-doen” lysies – alles wat in jou hart is, op papier neer te sit.  Met die resessie nogsteeds in my hart het ek elke denkbare woord neergeskryf – skuld, swaarkry, depressie, mislukking, nagmerries, ellendes, prokureursbriewe en nog ‘n hele woordeboek vol negatiewe gedagtes.

So kyk ek onlangs na ‘n DVD oor ‘n motiveringspraatjie en ek besef ek is besig om myself in ‘n put te skryf.  So diep was ek dat as hulle my ontbyt in die oggend sou afstuur, ek dit eers teen middernag sou kry vir ‘n snêk!  Net daar besluit ek om vir my ‘n plakboek te maak met positiewe woorde en gedagtes, en was ek verras met die pragtigste woorde denkbaar, en dit in my eie taal.

Bederf, glimlag, toekoms, vrouwees, lag, geluk, hart, reënboog, siel, gered, oorvloed, skitter, musiek, glo, ontvang, sing, sielsvreugde, liefdevol, dolgelukkig, wenners, hoop, kampioen, passie, wysheid, herrinneringe, verandering, drome, voorspoed, vrede, beskerm, ontdek, dans, leer, vertroue, ontwikkel, leef, feesvier, keuse, skat, dankbaar, gesondheid, kleinnood, sukses, bewonder, oorleef, respek, ondervinding en ‘n duisend ander.

Vandag is ‘n nuwe dag en elke dag is dié dag dat ek positief dink en leef – en net om te keer dat die donker put my roep, sit ek elke dag (die dinge waarvoor ek dankbaar is) my hart op papier!!

Lorraine